top of page

Gedagte vir Vandag

  • Aug 11, 2025
  • 4 min read

Maandag, 11 Augustus 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (13)


Meer en meer soos Jesus

 

Rom. 8:28-29 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.”

 

Vergelyk ook Fil. 3:21 – “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.”

 

Ons het in die voorafgaande verse waargeneem dat die Gees self vir ons by God pleit met versugtinge en het ook intussen verneem dat God se pad met ons gelowiges ‘n triomftog is. Die versugtinge verander nou in ‘n triomfroep. Hierdie triomfroep is die sekerheid dat “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk”, en dit sluit “alles” in, selfs ons lyding. As God se uitverkorenes het Hy ons “bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Hoe meer ons as Christene groei, hoe meer verander ons na die beeld van Christus want “die heerlikheid wat ons uitstraal, neem steeds toe” (2 Kor. 3:18b), sê Paulus. 

 

Ons gelowiges is dus bestem om in die toekomstige heerlikheid, aan Jesus se beeld gelykvormig te wees. As ons aan God behoort dan is ons deel van die bruid van Christus. Dis hoe ons geskep is – die menslike geslag is geskep na God se beeld (Gen. 1:26). Die Amplified Bible sê “we are a chosen race, a royal priesthood, a dedicated nation, (God’s) own purchased, special people” (1 Pet. 2:9). So sou ons Vader vir sy Seun Jesus ‘n bruid versamel uit alle stamme en volke en nasies. Ek en jy wat aan God behoort kan dus verwag dat God ons sal skuur en skaaf sodat ons al hoe meer “gelykvormig sal wees aan die beeld van Jesus.”

 

Hierdie vormingsproses gaan dikwels gepaard met baie moeite en trane. Daarom is dit nodig dat ek en jy die Here sal herken in die moeilike omstandighede van ons lewe en sal verstaan waarop God afstuur – wat sy plan met ons is. Ek lees van ‘n vrou wat in groot smart uitgeroep het nadat sy ‘n geliefde aan die dood moes afstaan, dat sy nie weet hoekom God haar gemaak het nie. Haar moeder het geantwoord: “God het jou nog nie klaargemaak nie my kind. Hy’s nog besig om aan jou te werk.” Rick Warren sê as God ons soos Jesus wil maak, gaan Hy ons presies dieselfde as Jesus laat ervaar. Dit sluit onder andere eensaamheid, versoeking, stres, kritiek, verwerping en talle ander curve balls van die lewe in.

 

Die Hebreërskrywer sê Jesus het “deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is ... en toe (het) Hy volmaaktheid bereik ...” (Heb. 5:8-9a). Waarom sou God dan ons vrystel van wat Hy sy eie Seun laat ervaar het? Maar onthou, ons is “erfgename van God, ... en aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (8:17). God is besig om vir Homself ‘n huisgesin te skep en Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers en bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses!

 

God het ‘n plan. Hy weet wat vir ons die beste is. Dit is noodsaaklik dat ons op God se plan bly fokus, en nie op ons pyn of probleme of curve balls nie. Dit is hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het en ons word aangemoedig om sy voorbeeld te volg: “...die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ...” (Heb. 12:2).

 

Die geheim van uithouvermoë is om te onthou dat ons pyn tydelik is, maar ons beloning is vir ewig. My en jou hoop berus nie op omstandighede nie, maar op die bloed van Jesus en sy geregtigheid. Hy is ons Rots en enige ander plek waar ons ook al mag loop of staan, is so onvas soos dryfsand. Bowendien, as ons nie enige probleme het nie, hoe sal ons weet dat God dit kan oplos? Nog meer, hoe sou ons ooit kon leer wat geloof in God kan vermag?

 

God begin sy reddingsproses by “dié wat Hy lank tevore uitverkies” het. Sy plan met ons is “om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun” – om meer en meer te word soos Jesus. Ons kan dus bemoedig wees selfs in tye van teenspoed. God weet van ons. Hy ken ons smart. Al verstaan ons nie altyd hoekom ons soms ly nie, Hy bly ons Here. Ons kan Hom vertrou. Hy het steeds alles onder beheer!

 

“As jy na die wêreld kyk, gaan dit jou ontstel. As jy na binne kyk, gaan dit jou terneerdruk. Maar as jy na Christus kyk, sal jy rustig wees!” (Corrie ten Boom).   

 

Gebed: Here, dankie dat ek vir U kan vertrou met al my lewensomstandighede in die wete dat U besig is om my te vorm tot U eer. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page