Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 13 minutes ago
- 4 min read
Vrydag, 8 Augustus 2025
Koos Espach
Die heerlikheid wat kom (12)
Ons sug verander in ‘n triomfroep
Rom. 8:28 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (2)
Die afgelope tyd het Paulus aan ons verskeie verse voorgehou wat daarop dui dat alles sug en smag in verwagting na die koms van vervulling en voltooiing. Hierdie sug word nou ‘n triomfroep – die sug en jubelroep – twee teenstrydighede wat ons Christene se aardse bestaan tipeer. Ons leef in ‘n wêreld van verpletterende hoop, stukkende drome en gefrustreerde verlangens skryf Billy Graham. Daar is oral net gejaag, geraas, chaos en korrupsie. Daar is nêrens meer innige geluk en tevredenheid nie, sê hy. Ons neig om wanhopig te vra: “Wanneer tog, sal God ons van hierdie verganklikheid bevry?” (v. 23).
Die slegte nuus is dat hierdie sugtende tendens reeds in die Ou Testament al voorgekom het. Jare gelede het Sofar, een van Job se vriende hom gevra terwyl hy geworstel het met al sy probleme: “Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?” (Job 11:7). Sofar se woorde is steeds van toepassing op mense van vandag. Toe Job as ‘n Godvresende man probeer sin maak het uit sy lyding, het hy ons gewys sy lyding het nie ‘n eenvoudige verduideling nie. Deur die eeue heen het mense nóg nie opgehou om God se dade te bevraagteken nie.
Gelukkig weet ons gelowiges dat God se heerskappy die botoon voer. Die Psalmdigter bevestig dat “God ons al gesien het toe ons nog ongebore was. Elke dag van ons lewe is reeds voor ons geboorte in God se kalender ingeskryf” (Ps. 139:16). Alles wat met ons gebeur, weet God van. Álles! Ons teksvers verduidelik waarom: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.” Al verstaan ons nie waarom al die verskriklike dinge gebeur nie, kan ons soos Job aanvaar en steeds gewillig wees om God roekeloos te vertrou.
Ons moet egter versigtig wees om nie die vers te verstaan dat “God alles laat uitwerk soos ek en jy dit wil hê” nie. Dis nie waar nie. Daar staan ook nie “God sorg dat alles op aarde uitwerk en ‘n gelukkige einde het” nie. Inteendeel, op aarde is daar talle ongelukkige eindes. Ons lewe in ‘n gevalle wêreld. Net in die hemel word alles volmaak gedoen soos God dit wil laat gebeur. Daarom het Jesus ons geleer om te bid: “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matt. 6:10).
Dit gaan in hierdie triomfroep dat “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” “Ons weet” in moeilike tye is ons hoop nie op wensdenkery gegrond nie, maar op ‘n sekerheid wat gegrond is op die waarheid dat God volkome in beheer van ons heelal is en dat Hy ons liefhet. “God laat alles ten goede meewerk” omdat Hy die Groot Ontwerper is. God het ‘n meesterplan, Hý trek die toutjies! Sy plan sluit “alles” in van my en jou – ook ons foute, ons sondes, ons seerkry, skuld, siekte, rampe, selfs die dood van ‘n geliefde. God kan die beste uit die slegste euwel te voorskyn laat kom – soos op Golgota!
God laat dit ook nie apart of onafhanklik “meewerk” nie. Die gebeure in ons lewe werk in God se plan saam. Ons kan al ons onsmaaklike en lyding ervarings vir God gee, Hy sal dit “ten goede” saamvoeg. God spesialiseer daarin om die beste daarvan te maak. Byvoorbeeld, in Jesus se amptelike stamboom, het Tamar haar skoonpa verlei om swanger te word. Ragab was ‘n prostituut. Rut was nie eers Joods nie en het die wet verbreek deur met ‘n Joodse man te trou. Batseba het met Dawid egbreuk gepleeg en haar man se dood op die oorlogsveld veroorsaak. God het die goeie uit hierdie slegte voortgebring. God het hierdie “onsmaaklike” ervarings “ten goede” saamgevoeg – Jesus Christus stam van hulle af.
God se doel is groter as ons probleme. Hy kan die verslaenheid en moedeloosheid uit ons lewe wegneem. Hy kan weer ‘n huppel in ons stap, ‘n lied in ons hart en ‘n doelgerigtheid in ons optrede sit. Hy doen dit egter nie vir almal nie. God doen dit net vir sy kinders, “vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” Dié belofte geld net vir diegene wie se harte ingestem is op God deur geloof in Jesus Christus.
Dit gaan ons verstand te bowe dat die Almagtige God van hemel en aarde in al die detail van my en jou lewe belangstel. Ons wil saam met die Psalmdigter vra wat ons as mense dan is dat God aan ons dink, dat Hy na ons omsien? (Ps. 8:5). Ons moet nooit toelaat dat twyfel ons hart binnesluip nie; ook nie probeer om God tot verantwoording te roep of sy dade te bevraagteken nie. Ons kan Hom egter erken in al ons omstandighede, álles wat in ons lewe gebeur, al die swaar en die hartseer. Hy laat die onheil vir ons tot heil word. Álles, vra jy? Álles? Ja, álles – sonder uitsondering!
“Eers as God alles is wat jy het, sal jy weet dat God alles is wat jy nodig het” (Rick Warren).
Gebed: Here, ek kan nie werklik inneem dat U al my swaar, al my hartseer en trane sal laat meewerk ten goede nie. Maar ek glo dit, Here. Onwrikbaar, omdat U God is. Amen.
Comentarios