Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 17 hours ago
- 4 min read
Woensdag, 13 Augustus 2025
Koos Espach
Die heerlikheid wat kom (14)
In die voetspore van Jesus
Rom. 8:28-29 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.” (2)
Deel van ons triomfroep omdat “God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet,” is nog nie volkome nie want ons groei nog in die verandering na die beeld van Christus. Paulus sê dit sal egter groei totdat ons eendag ten volle gelykvormig is aan die beeld van die verheerlikte Christus: “Deur die krag waarmee (Christus) alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees” (Fil. 3:21).
Eintlik sê Paulus vir ons om in Jesus se voetspore te volg. Omdat ons in God glo, is ons familie van Hom en moet soos sy kinders optree. En die beste manier om dit reg te kry is om te doen wat Jesus gedoen het. Paulus het dit reggekry. Hy het voluit agter Jesus aangestap, uiteraard met heelwat pynlike gevolge. Ek en jy wat aan God behoort kan dus verwag dat ons vormingsproses om sodoende “gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun,” ook pynlike ervarings gaan meebring. Ons is immers kruisdraers!
My en jou ervarings in die lewe het tot dusver ons gevorm. Die meeste daarvan was egter buite ons beheer. God het dit toegelaat omdat Hy as ons Vader, ons wou vorm – dis volgens Paulus: “God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Hoe is ons gevorm? Die kenners reken: Gesinservarings tydens ons grootword jare; opvoedingservarings tydens skooljare; beroepservarings waar ons gewerk het; geestelike ervarings in die kerk saam met ander gelowiges; deur God te dien is ons steeds onderworpe aan bedieningservarings. Dan die mees prominente miskien: pynlike ervarings! Uit watter probleme, seerkry en beproewinge het ons iets geleer?
Elke mens het ‘n verlede. En natuurlik is dit so dat dit wat gister of verlede jaar of tien jaar terug gebeur het, op een of ander manier ’n invloed op ons elkeen, hetsy positief of negatief het. Ons ervarings van die verlede het natuurlik ’n invloed op wie ons vandag is. En ongelukkig is baie mense vandag gevangenis van die verlede. Alhoewel die verlede ons beïnvloed, hoef dit my en jou nie gevange te hou nie. Jesaja het duisende jare gelede al geprofeteer: “Moenie net aan die vroëere dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen …” (Jes. 43:18-19a). Die iets nuut was nie iets nie, dit was ‘n Persoon, Jesus Christus!
As ons die nuut van God wil ervaar, mag ons nie stilstaan by die verlede nie. Vroëer se mislukkings, vroëere hartseer, vroëere teleurstellings, vroëere pessimisme, die negatiwiteit en moedeloosheid van vroëer, mag ons nie rem nie. Dit is nie ’n Bybelse verwagting nie! Dit is nie ’n geloofsverwagting nie! Dit is nie God se verwagting nie. “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” En Jesus se koms het nie net iets nuut gemaak nie, dit het álles nuut gemaak! Dit het die hede nuut gemaak sodat ek en jy vandag met hoop kan lewe omdat Jesus by ons is, en dit het die toekoms nuut gemaak omdat Hy ewige lewe gebring het. Dit het my en jou nuut gemaak. Trouens, God is steeds besig om Romeine 8:28-29 in ons lewe waar te maak!
Die vrae is natuurlik: Glo ek en jy nog dat God iets nuuts kan doen? Glo ons dat, as ons vir God die kans gee, dat Hy dit wat oud en stukkend is in ons lewe nuut en heel kan maak? Glo ons dat Hy iets anders kan doen in my en jou lewe? Leef ons nog met die geloofsverwagting dat Hy enige donker, lig kan maak? Glo ons werklik dat “God ons kan vorm om soos die beeld van sy Seun Jesus te wees?”
Wel, “ons is volgens sy besluit geroep,” en as geroepe kinders van die Here, kan God my en jou bekommernis wegvat en vir ons hoop en ’n nuwe lewe gee. Hy kan ál die skuldgevoelens van die verlede wegvat en vir ons bevryding gee. Hy kan ons verhoudinge nuut maak. Hy kan my en jou gesondheid nuut maak. Hy kan ons donker en mislukte ervaringe van die verlede nuut maak. Maar dan moet ek en jy nie toelaat dat ons lewe gebind en bepaal word deur vroeëre dinge nie. Ons moet nie stilstaan by die verlede nie. Gee God kans om ons nuut, om dinge om ons nuut te maak, ons te vorm na die beeld van Christus!
“Vertrou die verlede aan God se genade toe; die hede aan sy liefde en die toekoms aan sy voorsienigheid” (Augustinus van Hippo).
Gebed: Alwetende God, U weet hoe klaaglik ek al misluk het in die verlede. Gee vir my nuwe moed vir die toekoms en help my asseblief om nie toe te laat dat die verlede ‘n verlammende invloed op my lewe het nie. Dankie dat ek soos Paulus kan los wat agter is en my uit kan strek na wat voor is (Fil. 3:13). Om die ontwil van u Heilige Naam. Amen.
Comments