top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Aug 15
  • 4 min read

Vrydag, 15 Augustus 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (15)


Deel van God se huisgesin

 

Rom. 8:29-30 – “29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”

 

Tydens ons lewe word ons dan deur God “geroep” – dit is God se genadewerk om ons gelykvormig te maak aan die beeld van die verheerlikte Christus. Noudat ons deur die woord van die waarheid tot lewe gebring is, is “ons weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet. 1:23). Ons is nou geestelik lewend gemaak en ons stel daarom ons geloofsvertroue in Christus en word deur God “vrygespreek” of “geregverdig.” 

 

God het ons opgestapelde sondeskuld aan sy Seun gestraf en Christus het gesterf daarvoor – maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir ons, sodat ons onskuldig voor God staan: “Hy het Jesus gegee as offer wat deur Sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. God se vryspraak behels dat Hy regverdig oordeel deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo” (Rom. 3:25-26).

 

Jesus se passiewe gehoorsaamheid red ons sondaars dus van die ewige verdoemenis; en sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir ons die ewige saligheid. Uiteindelik word ons dan deur God “verheerlik”. Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer ons verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Hoewel dit nog nie plaasgevind het nie, is dit in God se ewige raadsplan vasgelê en daarom ‘n voldonge feit dit sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as reeds gebeur het, want ons groot Argitek is aan die werk.

 

Paulus wil vir diegene wat deur hulle geloof vrygespreek is, verseker van hulle uiteindelike redding. Hy maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing wat hy noem in verse 29 en 30 (onderstreepte woorde in ons teksverse), soos die skakels van ‘n onbreekbare ketting is. As God Drie-enig ‘n mens verlos, is dit iets wat Hý alléén, soewerein begin en deurvoer. Daar is wel elemente in ons verlossing waarby ons betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die raamwerk waarbinne sy verlossing plaasvind.

 

As ons die verlossing ontvang, ontvang ons alles, sonder uitsondering. Met ‘alles’ word al die elemente van die ‘heilsorde’ bedoel: uitverkiesing, roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking – ‘It is a package deal – if you have it at all, you have it all!’ God se genadewerk in ons lewe, kan dus nie deur swaarkry verhinder word nie. God sou nie swaarkry in ons lewe toegelaat het as dit nie ‘n positiewe bydrae tot sy genadewerk kon lewer nie.

 

Sodra ons God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir onsself toe-eien, bring dit ‘n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie. Ons weet dan dat die voortgang en ontwikkeling van ons lewe veilig verpak is in God se ewige raadsplan. Hierdie vertroostende waarheid maak ons vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag – in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens sy wil.

 

Ek en jy is “geroep” en gered om God te dien. Paulus sê “God het ons gered en geroep om aan Hom toegewy te wees” (2 Tim. 1:8). God het ons verlos sodat ons sy “heilige werk” kan doen – ons is nie deur diens geroep nie, maar vir diens. Dit het Jesus sy eie lewe gekos om ons verlossing te bewerkstellig. Paulus herinner ons: “ ... julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggame verheerlik” (1 Kor. 6:20). Daar is ongelukkig nie ‘n maklike pad hemel toe nie. Ons moet toegewyd God en ons naaste dien; toegewyd in die voetspore van Jesus loop, ten spyte van al die stampe en stote wat ons soms ervaar. 

 

Ons eindbestemming is gewaarborg. “God het ons verkies en bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Ek en jy is geroep en is ook vrygespreek en verheerlik.” Tot in ewigheid sal ons deel wees van God se huisgesin, broers en susters van Jesus Christus! Hy het ons persoonlik op die naam geroep. Hy het ons sy kinders gemaak. Ons sekerheid is in Hom – Hy verseker ons telkens daarvan by die doop en die nagmaal. God het ons bestem om soos Jesus te wees. God het almal van ons wat Hy uitgekies het, se lewens nuut gemaak. Nou kan ons al meer soos Jesus leef. God is nie passief en onbetrokke by ons lewe nie. God is vír my en jou! Wat keer dus dat ons God se roeping om soos Jesus te dien, te aanvaar?

 

“’n Mens belewe jou kindskap van God die Vader nie deur diep daaroor te sit en peins nie; maar eers wanneer jy soos Christus begin optree” (Ferdinand Deist).

 

Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U my uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help my o Gees dat ek as nuutgemaakte wese, standvastig sal bly en sal leef as medewerker in U koninkryk. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page