top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (3) – GEWY AAN GOD!


Rom. 11:16b-18 – “En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. Party van die takke is uitgekap en jy, ‘n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.”


Joh. 4:19-24 (NLV) – “Die vrou sê vir Hom: ‘Meneer, ek sien dat U ‘n profeet is. Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ‘n mens moet aanbid, is in Jerusalem.’ Jesus merk toe op: ‘Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode. Daar kom egter ‘n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom in ‘n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”


Paulus verwag dat ‘n groter deel van Israel sal terugkeer tot God, nie net die “oorblyfsel” nie. Sy bedoeling is duidelik: sowel die eerste stuk deeg as die “wortel van die boom” het betrekking op Abraham en die vaders wat deur God vir Homself gekies en aan Hom gewy is, en dit omvat in beginsel, die hele nageslag van Abraham (die takke). God is regverdig, Hy skort nie Sy beloftes op nie – die nageslag van Abraham sal beslis ontvang wat God aan Abraham belowe het!


Dit beteken nie dat elke lid van die nageslag van Abraham gered sal word nie. Hulle (en ons) kan dus nie maar in gerustheid in sonde voortlewe en ‘n vanselfsprekende verlossing verwag nie. Sommige van die takke word afgebreek, “party van die takke is uitgekap” omdat hulle nie deug nie. Goddank, die Here plant nie ‘n nuwe boom nie, Hy voeg deur genade, nuwe takke by die boom – in die kerk realiseer God Sy plan met Abraham, elke bekeerling wat glo in Jesus Christus, word toegevoeg tot God se volk, God se gesin – soos wanneer “ ‘n wilde olyf tussen die ander takke op die mak olyf geënt word en deel kry aan die lewensap van die mak olyf se wortel (vettigheidswortel).”


God het uit genade, ons bygevoeg by Sy verbond met Abraham, ons word “gedra deur die wortel”. Jesus het hierdie waarheid ook bekend gemaak aan die Samaritaanse vrou by die fontein naby Sigar (Joh. 4:1-26). Jesus het haar meegedeel dat die Samaritane “aanbid wat hulle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode” (Joh. 4:22 [NLV]). Hulle aanbid sonder om te weet “wat” hulle aanbid. Hierdie “wat” dui daarop dat daar in hulle godsdiens geen sprake is van ’n persoonlike verhouding tot God nie. Trouens, dit kon van sommige Jode in daardie tyd gesê word dat hulle ook ’n “wat” aanbid omdat hulle godsdiens versaaklik geword het ten spyte van hulle meerdere kennis. Daardie meerdere kennis behels die volle openbaring van God in die heilige geskrifte wat verkondig dat die heil uit die Jode sou kom (Jes. 2:3).


Die “redding” is die einddoel van die godsdiens. Die redding sou uit die Jode kom omdat die Redder uit daardie volk gebore sou word, en van daar sou Jesus Christus die redding voortdra na al die volke van die aarde wat die Samaritane, en ons, insluit. Jesus deel haar ook mee dat die plek van aanbidding nie belangrik is nie. Ons kan op enige plek met God praat. Wat belangrik is, is hóé en wíé aanbid word. Heilige plekke soos Jerusalem of Gerisim gaan nie nodig wees om naby God te kom nie. “God is Gees” en dit beteken dat God nie ’n stoflike wese is wat gevolglik aan ’n bepaalde plek gebonde is nie. Hy is ’n Geestelike wese en daarom kan Hy oral teenwoordig wees en oral aanbid word.


Die gesprek met die Samaritaanse vrou het nie net gegaan oor die water wat Jesus haar gevra het nie, maar wat die kragtige werking is van die water van die Gees – “So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel.” Ons moet ook raaksien wat die Here van ons verwag wanneer ons daardie water, “die lewensap van die mak olyf se wortel”, ontvang. Daardie water is bepalend in ons omgang met mense – nabymense en randfigure – “Ons moet ons dan nie bo die ander takke verhef nie en ook nie verbeel ons is iets nie.” Wanneer ons afkyk en neersien op ander, is ons geneig om nie raak te sien Wie Bo ons is nie!


Die water moet ons lewe en die lewe van diegene om ons heen, laat nuut word en opbloei. ‘n lewe vervul met die Gees plaas ons nie op ‘n ander vlak van bestaan nie, nee, dit neem ons terug na die gewone lewe van huwelik en gesin, van kollegas en medemense, van winkels toe gaan en kerk toe gaan. Dit maak daardie gewone lewe ongewoon mooi! Jesus Christus word die nuwe versamelpunt van die ware aanbidding van ons hemelse Vader. Hy is die nuwe tempel, Hy is die kerklike sentrum van die Nuwe Testament. Die Gees bring alle ware gelowiges by Hóm bymekaar. Wie Jesus ken, ken God; wie Jesus het, het God!


“God het die wêreld uit niks uit geskep, en solank ons niks is nie, kan Hy ons herskep tot iets nuuts” (Martin Luther).


Gebed: Almagtige Vader, skenk my die genade om U te eer met ‘n nederige hart waarin daar niks van die trots is waartoe ek so geneig is nie. Laat my onthou dat Ú my gemaak het wat ek is en dat ek die beperktheid van my eie krag sal besef, sodat ek sal roem in U krag. Ek kom net soos ek is in my swakheid as sondaar en pleit dat U my sal heelmaak. Skenk my vrede en gemoedsrus en laat my toe om U te prys in aanbidding en lofprysing. Dankie dat U Leidsman is in my lewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page