E-Kerk : Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- Nov 28, 2018
- 5 min read

DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (2) – VOLG DIE REGTE DIEET!
Rom. 11:13-16 – “En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. Aangesien ek die apostel vir die heidennasies is, strewe ek in my bediening daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood. As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy.”
Paulus, wie deur God se genade geroep is om apostel te wees onder die heidennasies (Rom. 1:5), wend hom nou na die klompie heidene in die Romeinse Christen gemeente. Hy koester die vurige hoop dat God ook sy arbeid sal gebruik om Israel se jaloesie op dié manier, op te wek en sodoende die Jode inspireer, sodat hulle heropgeneem kan word in hulle verhouding wat by die verbond hoort.
Paulus verwag ‘n groter deel van Israel se terugkeer tot God as wat die “oorblyfsel” wil toegee, daarom gebruik hy ‘n beeld van die eerste meel van die nuwe oes wat aangewend moes word om ‘n ringbrood te bak, dit na die heiligdom te bring en sodoende, die hele oes te heilig (Num. 15:17-21). Deur hierdie simboliese handeling wil Paulus demonstreer dat die klein groepie gelowige Christene vanuit die heidennasies, ‘n heiligende invloed oor die ganse ongelowige volk sal uitstraal, sodat meer van hulle tot bekering sal kom.
Wat het dit met ons te doen? ‘n Klein bietjie suurdeeg kan ‘n hele baksel meel deursuur om genoeg brood te voorsien aan jou gesin en familie maar wat van die res van jou geestelike familie? Jesus vertel ‘n gelykenis in Matteus 13:33 – “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was." Die koninkryk is reeds teenwoordig in die hede, maar in 'n vorm wat dit betekenisloos kan laat lyk. Dit sal egter groei soos die suurdeeg gegroei het tot ‘n hele baksel brood.
Dit wat ek en jy kan doen, lyk miskien onbeduidend! Maar dit is nie die punt nie - die punt is dat ons God se koninkryk verteenwoordig met dit wat ons doen, daarom moet ons doen wat ons hand vind om te doen. Die groei lê nie in ons hande nie maar die potensiaal tot groei is opgesluit in 'n bietjie “suurdeeg”, in jou en my se geringe daad van liefde en omgee om sodoende God se koninkryk te laat uitbrei.
Van geboorte af soek die mens na iets wat hom versadig moet maak en in werklikheid hou daardie behoefte vir kos aan tot jy sterf. Mense volg dan ook verskillende diëte om die maag vol te maak en baie mense sien hulself as eksperte wanneer die “beste” dieet vir die mens voorgestel word. Twee van die beste verkopers in enige boekwinkel, is kookboeke én dieet boeke! Kookboeke vertel hoe om kos te maak en dieet boeke, hoe om dit nie te eet nie!
Watter dieet is die beste om die honger van die lewe te stil? Maak nie saak wat jy eet of drink of doen nie, tevredenheid ontwyk ons – behalwe as jy Jesus ernstig opneem wat sê: “Ek is die Brood van die Lewe”. Ongelukkig word eers al die ander “dieetkundiges” se raad gevolg. Die beste dieet wat hulle voorskryf is eerstens godsdiens. Die bestanddele wat benodig word om die beste godsdiens-honger te stil is gereelde Kerk besoek; Sondagskool bywoon; Bybel lees; finansiële bydraes maak; barmhartigheidsdiens en mooi luister na die prediker. Die probleem met die godsdiens-dieet, is dat dit nie vir almal vullend is nie. Terwyl jy daarmee besig is, voel jy goed, maar sodra dit klaar is, is die honger terug en jy soek iets anders om jou te voed.
Die tweede dieet volgens die kundiges, is die kerk. Die regte gemeente kan met smaak ‘n wonderlike dis voorsit om enige honger te stil. Terwyl jy daar besig is om jou te vul, laat die atmosfeer by die kerk jou kompleet voel of jy in die spreekwoordelike hemel is. Die fynskrif van hierdie dieet word egter nie gelees nie – die “voedsel” is so lekker dat jy jou kan ooreet. Die nadeel daarvan is dat ‘n versadigde eter kies wat hy wil eet – dit wat vir hom belangrik is eet hy en die res los hy uit. Die kerke is vol honger mense wat maak asof hulle versadig is.
Die derde dieet volgens die kundiges, is wanneer jy jou eetlus by ‘n spesifieke restourant verloor en dan ander restourante soek om jou geestelik te voed. Die “kelner” is gewoonlik iemand wat met ‘n mooi voorkoms, dade en woorde, veral aanhalings uit die Bybel gebruik om mense te mislei. In die proses kry hulle dikwels die grootste gemors op die spyskaart en dink dis vaste kos! Dinge wat aan hulle opgedis word handel oor hulle “geestelike openbarings” wat direk van God ontvang is – God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus – met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy “kliënte” oor en hulle glo dit! Die gevolg is dat die “fooitjies” in die kollekte bordjies die finansiële koffers van “sy restourant” ‘n aansienlike hupstoot gee. Dit is niks anders as gif wat hulle stelselmatig vermoor nie!
Dan is daar ander in die gemeente wat niks kan eet nie want die kos op die spyskaart is nie na hul smaak nie – dis te lank, te kort, te formeel, te informeel, te hard, te sag, te duur, alweer oor geld, selfs die musiek by die voorgereg is nie smaakvol nie! Meer tyd om die braaivleisvuur is beter as ‘n hele week se verhouding met God. Die Bybel en kerk word "geëet" asof dit niks is nie en asof niks gebeur nie! Mense moet gesmeek word om tog in hul besige programme 'n tydjie af te knyp om die Here ‘n plekkie te gee in hul harte – ons kan nie, ons is te besig om ons knuppeldik te eet aan ons eie dieet!
Die beste en beslis die regte “dieet” om versadig te raak, is om weg te doen met spyskaarte wat ons self opstel, “wy die eerste stuk deeg aan God, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy.” Die lewe se moedelose hongerpyne word weggeneem deur, geestelik gesproke, aan en van Jesus te eet. Hy het self gesê: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie” (Joh. 6:35). Bly honger vir Jesus Christus en ondervind hoe jou vreugde in die Here toeneem, en “die res van die deeg word aan Hom gewy.” Namate jy toeneem in geestelike volwassenheid, sal die beeld van Christus meer en meer te voorskyn kom en dan ploeter jy nie meer rond op soek na die regte dieet nie, maar ontvang jy God se oorvloed deur Sy Gees!
“Wanneer jy by Jesus se feesmaal aansit, vereer Hy jou met Sy permanente teenwoordigheid. Hy gee dan aan jou die grootste gawe denkbaar: die ewige lewe”
(Prof. Stephan Joubert).
Gebed: Here, ek vertrou U as die brood van my lewe - kom voed my! As ek geval het, kan ek weer opstaan want U is my Borg (Heb. 7:22); as ek gesondig het, kan ek my sondes bely en weet U het my vergewe (1 Joh. 1:9); as ek seer gekry het, kan ek ander vergewe en hulle vryspreek (Ef. 4:32); as ek skuldgevoelens ronddra en myself verwyt kan ek weet dat God groter as my gewete is (1 Joh. 3:19-20); as my krag min raak weet ek dat God my nie sal los nie (Sef. 3:17). Help my om U as Lewende Brood, ook met ander hongeriges te deel, hulle te vertel dat U die regte “dieet” is wat hulle hongerte kan stil. Amen.
Comments