top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LEWE DEUR DIE GEES (4) – GEESBEHEERSDE MENSE!


Rom. 8:9 – “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”


Paulus herinner ons dat die voortgaande mag wat die wet van sonde en gevolglik die dood, oor ons lewens het, nie die finale word spreek nie, want “ons word egter nie deur ons sondige natuur beheers nie,” en daarom is dit nie bepalend vir ons posisie voor God nie – ons is nie meer “vleesbeheersde mense” nie, maar “Geesbeheersde mense.” Die verskil is dat ons “in Christus Jesus” is, “want die Gees van God woon in ons.” Die blote feit dat ons onsself in hierdie wêreld met Christus identifiseer, veroorsaak ‘n diep spanning in ons wese – want ons blý ‘n gevangene van sonde (“die goeie wat ek wil, dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” [Rom. 7:19]).


Jesus verduidelik aan Nikodemus die lewendmaking deur die Heilige Gees met ’n tweede geboorte, ’n weergeboorte (Joh. 3:1-21). Dit is ’n geestelike geboorte. In hierdie geestelike geboorte word die geestelike dooie mens, lewendig gemaak, opnuut gebore. Selfs ons eens dooie wil, word lewend gemaak om gewillig en gehoorsaam God se wil te doen. Alles vind plaas omdat die Heilige Gees in ons kom woon het. “Omdat die Gees van God in ons woon,” gee dit aan ons die versekering dat die eindresultaat vryspraak is. Maar solank as wat ons deel is van hierdie sondige wêreld bly dit ‘n ewige stryd. Daarenteen, vir ons wat ons verlaat op Jesus Christus, spreek hierdie wet nie die laaste woord nie. Die voorbehoud is natuurlik dat “as iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (v. 9), en “kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3b).


Die besit van die Gees is die waarmerk van almal wat oorgegaan het uit die doodsbestaan van die ou sondige aard om voortaan aan Christus te behoort. Terloops, die Gees heet “die Gees van Christus,” omdat Hy alleen deur Christus die deel van die gemeente word en die heil wat Christus gebring het, in die lewens van die gelowiges uitwerk. Daarom is dit onmoontlik om aan Christus te behoort, sonder om ook deel te hê aan sy Gees.


Hierdie sondeverskeurde wêreld is uiters moeg en verward. Dit mag dalk wees dat menigte mense onbewus is van die feit dat hulle ‘n keuse het tussen twee soorte lewens. Hulle wil eerder voortdobber en sukkel deur ‘n sondige lewe wat net wentel om hulleself, as om ‘n keuse te maak om God se beproefde pad te neem, wat nie wil besef “hulle word egter nie deur hulle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees.” Hulle erken God van tyd tot tyd maar God en Sy liefde speel ‘n geringe rol in hulle dade en denke. Sonder dat hierdie mense dit besef, bring die verkeerde pad waarop hulle beweeg slegs tydelike bevrediging en uiteindelik raak hulle moeg en verward en hopelik, ontnugter en frustreerd.


Ons oorgeërfde natuur is dikwels die slaaf van afbrekende gewoontes, die sonde bind ons hele gees en wese in gevangenskap. Al hunker jou gees om vry te word, is dit onmoontlik om die vryheid te beleef. Dit is ‘n algemene menslike ondervinding. Jy het ‘n krag buite jouself nodig, groter en magtiger as jy, om jou te beheer wanneer jy self nie meer kan nie. Dit is hier waar die heerlike waarheid van die Christelike leer en lewe tot openbaring kom – wanneer Christus weer teruggeplaas word in die Christen. Die eenvoudige waarheid is dat dit onmoontlik is om ‘n effektiewe en praktiese Christenlewe te leef sonder dat die Gees van Christus in jou hart en lewe teenwoordig is: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie,” en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid: “Die Here beteken die Gees, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid” (2 Kor. 3:17).


Aanvaar hierdie wonderlike genadegawe van God met blydskap en dankbaarheid en laat dan die volle implikasie hiervan in jou lewe tot openbaring kom. Elkeen wat toelaat dat die Gees van Christus intrek in sy lewe neem en deur sy dade tot uitdrukking kom, se lewe kry nuwe betekenis en jy word gevul met ‘n dinamiese krag wat jou in staat stel om vrugte te dra wat by jou bekering pas. Die eindresultaat is ‘n verhaal van nederlaag van die self, die “ek” wat voortdobber op die weg van die sonde, na ‘n triomfantelike oorwinning deur die Gees van Christus – Hy is dan ten volle in beheer en volkome Heer van jou “vryheidslewe.”


“I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us” (Anne Lamott).


Gebed: Gees van Christus, kom in my lewe in en maak my nuut. Ek bid vanoggend vir almal wat steeds voortdobber deur die lewe van verkeerde keuses, “iemand wat die Gees van Christus nie het nie, wat dan nie behoort aan Christus nie.” Hef hulle denke op, verander hulle sienswyse, sodat hulle in volle harmonie met U Gees sal lewe. Neem beheer oor van hulle verkeerde praktyke, soos om eerder vals leermeesters en hulle verkeerde praktyke, te aanvaar. Neem beheer oor hulle sondige natuur om mense te aanbid, plaas Christus terug in hulle lewe en vul hulle met die vreugde wat ‘n lewe deur U Gees meebring, omdat U Gees dan in hulle woon. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page