top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Aug 16, 2018
  • 4 min read

ADAM EN CHRISTUS (4) – CHRISTUSFAMILIE!


Rom. 5:18-21 – “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.”


Vergelyk ook Gal. 3:24-25 – “Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.”


Uiteindelik kom Paulus nou by sy standpunt uit dat ons aan twee verskillende families behoort – die Adamfamilie waarby alle mense ingesluit is, en die Christusfamilie waarvan alle gelowiges deel uitmaak. Die radikale verskil tussen hierdie twee families is dat die een familie behoort tot die sondige ou wêreld en die ander tot God se nuwe wêreld. Dit is opmerklik dat as Paulus oor Adam en die gevolge van sy ongehoorsaamheid praat, hy die verledetyd gebruik, maar wanneer hy oor Christus en die vrug van Sy gehoorsaamheid praat, hy die toekomende tyd gebruik, omdat die heil in Christus eers die deel van mense word wanneer hulle in Hom glo.


Paulus kom weer terug op die kwessie van die wet. Sedert Rom. 3:21 handel hy al daaroor dat die mens nie gered word deur die werke van die wet nie, maar enkel uit genade. Die wet openbaar die diepte van die verlorenheid en die skuld voor God. Maar, sê Paulus, gelukkig openbaar dit ook hoe groot God se genade is, “want hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.” Hoe skerper die besef van sonde, hoe heerliker die roem in die genade van vergifnis en oorwinning oor die sonde. Ten diepste staan die wet dus in diens van die genade. Die wet het die sonde blootgelê en daardeur getoon waarom die sondige mens onder die heerskappy van die dood verkeer. Maar dit het geskied met die doel om die mens uit te dryf na die genade en die vryspraak van die sonde. Daardeur is ’n nuwe heerskappy oor die mens opgerig – die heerskappy van die genade. Dit lei die mens “tot die ewige lewe deur Jesus Christus ons Here.”


Iemand vertel die storie van die dag toe Adam gesondig het, het 'n bom gebars, 'n bom baie skadeliker as enige kernbom, selfs die kernbom wat Hirosjima en Nagasaki verwoes het in Augustus 1945. Die skokgolwe van die Adamsbom ervaar ons nou nog, die uitstraling daarvan maak ons nou nog siek, letterlik tot die dood toe. Adam het, tragies genoeg, veel bereik – met een daad het hy die hele mensdom in ellende gedompel. In elkeen van ons laat die skokgolwe van die Adamsbom 'n verdere ontploffing plaasvind, met groter en groter skade – uit die een oortreding het baie oortredings gevolg met die ewige dood as loon!


Maar ... God kan 'n lewensbom maak, en Hy hét. Toe God se Seun mens geword het in Betlehem, het die lewensbom begin tik – “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” Menslike bomeksperte het gemeen hulle ontlont die Lewensbom toe hulle Hom aan die kruis vasspyker, inteendeel, hulle het toe die lont aangesteek – Jesus was besig om op “Goeie Vrydag,” met Sy "een daad van gehoorsaamheid", Adam se "een oortreding" ongedaan te maak.


Drie dae later, het die lewensbom ontplof toe Jesus deur die krag van die Gees uit die graf kom. In die skokgolwe van dáárdie ontploffing kom mense tot geloof, word hulle met God versoen – Adamskinders word God se kinders. Iets soos 'n kettingontploffing gebeur ook hier – elkeen wat glo, ontplof ‘n nuwe lewe! Die lewe van mense wat weet hulle is vrygespreek van skuld, al is hulle Adamskinders. Die lewensbom is uiteindelik sterker as die doodsbom. Adam se val en skuld bind hulle nie meer nie, want hulle is getref deur die krag van Jesus se opstanding en gehoorsaamheid.


“Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” En dit is geloof waaraan ons moet vashou, geloof waarvan die hoop nie beskaam nie (Rom. 5:5): Die oortuiging dat God se genade in my lewe gewen het teen die sonde; dat die lewe wat God my gee, sterker is as die dood wat ek vir myself verdien het. En as God in my, selfs in mý, kan oorwin, waarom dan nie in jou nie? Waarom dan nie in baie, baie mense nie? Want ek is ook mos Adamskind, ook mens, nes jy!


“The gospel is this, the power of God is more powerful than the power of sin. Christ is much more powerful than Adam in us” (Edward Markquart).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U genade groter is as die sonde, ook die erfsonde. Heerlik is die evangelie van ‘n God wat só groot is in Sy genade, dat U alle sonde reinig in die bloed van Christus. Dit is ‘n onbeskryflike troos om te weet dat Jesus in die plek van Adam gekom het, dat ek kon opstaan omdat Hy opgestaan het ... en dat ek mag glo dat Sy opstanding nog méér mense sal laat opstaan. Dankie Jesus dat U my uit die uitsiglose sonde-lewe, wat uiteindelik in eindelose ellendes gaan wegsink, bevry het, en my weer ’n lewe saam met God gegee het, ’n lewe waarin ek uiteindelik al die ellendes van nou, finaal sal agterlaat. Amen.



 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page