top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIEMAND IS REGVERDIG NIE (5) – KRUISPAD!


Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie.”


Vergelyk ook Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Paulus se “klagstaat” uit die Ou Testament, het nie net betrekking op die gemeente in destydse Rome nie, maar is vandag steeds op elke gelowige van toepassing. Hy maak dit duidelik dat hier nie met menslike maatstawwe gemeet word wat net die uiterlike raaksien nie, maar gemeet word met God se maatstaf: Hy wat diep in ons harte inkyk; Hy wat selfs sien wat ons vir onsself wegsteek; Hy wat sien op watter verkeerde weë ons voete hulle bevind – weë wat ‘n “spoor van verwoesting en ellende agterlaat.”


Van die vroegste tye is daar reeds bepaal dat ‘n mens feitlik altyd met kruispaaie in die lewe, gekonfronteer word. Daar waar ‘n keuse gemaak moet word watter pad die korrekte een sal wees om te neem, watter weg na die regte bestemming sal lei. Tydens Sy Bergpreek daar langs die See van Galilea, konfronteer Jesus ons ook met hierdie weë – die breë en die smal pad – en as ons so luister na Jesus, dan klink die regte keuse nie juis rooskleurig nie – “die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Hierdie “nou poort wat na die smal pad lei” waarna Jesus verwys, blyk dat die ingang daarheen, moeilik is: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie” (Luk. 13:24). Hoekom beskryf Jesus die “poort” as “nou?” Eerstens, die koninkryk wat ons Verlosser kom vestig het is eksklusief! Daarom is daar net één “deur” wat na die “smal pad” lei – Jesus Christus. Die leringe van die wêreld wat beweer dat álle geloofspaaie na God toe lei, is ‘n leuen wat satan ontwerp het om mense op die breë pad te hou en sodoende hulle na die verderf toe lei, daar waar ‘n “spoor van verwoesting en ellende agtergelaat word.” Ons word in sonde ontvang en gebore en daarom is ons by nature reeds deel van die sondige wêreld met al sy versoekings, reeds op die verkeerde weg. Jesus is die enigste Weg, om deur God se genade en deur geloof in Jesus Christus, deur hierdie “nou poort” in te gaan.


Tweedens is die “poort nou” want daar is baie mense wat die evangelie van Jesus Christus verwerp, daarom sê Jesus “dié wat dit kry, is min.” Sedert Adam en Eva se sondeval is daar miljoene mense wat rondtas in die duisternis van sonde – “Die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie (Spr. 4:19) en daarom “bly hulle in die duister as gevolg van gebrek aan insig” (Rom. 1:21). Die ingang na die “nou poort” word deur God se soewereine genade gevind, deur ‘n geestelike opwekking uit die “dood” van sonde (Ef. 2:1), word ons nuut gemaak deur die Gees (Gal. 6:15). “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is ons gered!” (Ef. 2:5).


Die “wye poort wat na die breë pad lei”, is daarenteen, so wyd dat selfs ‘n blinde daardeur kan stap. Geen probleem of inspanning word ondervind om dáár te kan ingaan nie – “hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hul onkunde volhard” (Ef. 4:18). Dit is die pad van die filosofiese “kom, eet en drink en wees vrolik, môre is ons dood.” Daar is geen etiese absolute of norms op daardie pad nie, die pad waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë, waar ‘n mens sy eie god kan wees. Dit is die pad waar mens se “hart slegte gedagtes voortbring: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery” (Matt. 15:19). In al die mens se planne is daar nie plek vir God nie, “dit gaan mos altyd goed met alles wat hy aanpak” (Ps. 10:4b-5). Dit is die pad waar “baie” hulle op bevind, sê Jesus. “Baie” is so gemaklik daarmee – die pad van “almal doen dit tog.”


Mense op hierdie pad saai saad van ongeregtigheid en lewe vir die oomblik. Die perspektief van die ewigheid is nie deel van hul woordeskat nie. “Ons sal later ...” is die alledaagse norm. Hulle is “slawe van die sonde” (Joh. 8:34). Dit word die mees logiese weg na die “aardse paradys” – ‘n paradys van vleeslike behoeftes. Daar waar die mens sy eie lewe kan bestuur. Álles is aanvaarbaar solank dit net nie Jesus Christus insluit, enigiets met die Bybel te doen het of die woord Christenskap bevat nie. Hulle is die “seuns en dogters van plesier” wat die standaard van “solank dit goed voel, doen dit” slagspreuk aangeneem het. Almal skepsels van ons hemelse Vader!!!


Die keuse tussen die “nou poort en smal pad” of die “wye poort en breë pad” is elkeen se keuse, hang af waarheen jy wil gaan. Eendag moet elke mens die finale tree gee in die ewigheid in. Daar is net twee keuses gedurende ons aardse lewe wat hierdie finale bestemming gaan beïnvloed: Die maklike pad sonder God, of God se genadepad. Daar is geen middeweg of moderne alternatief nie! Jesus sê: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt. 10:28).


“ ‘n Vurk in die pad het twee weë gebaan. Ek het die een gevolg waarlangs die minste spore gaan. En dit het al ‘n verskil gemaak” (Robert Frost).


Gebed: Here, “daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Die wêreld word stelselmatig gekaap om ‘n anti-Christelike weg in te slaan en die mens se wil het belangriker as U wil geword. Ek wil só graag aanvaar en waardeer word deur die “mense” dat ek vergeet dat dit gevind kan word in U genade. Dankie dat U die weg, die waarheid en die lewe is wat na ons hemelse Vader toe lei. Dankie dat U my vertrekpunt en my eindbestemming is. Ek bid vir hulle wat nog nie die “nou poort en smal pad” gevind het nie, dat hulle dit spoedig sal doen. Ek bid dat elke mens U as reisgenoot en metgesel op ons aardse roete, sal kies. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page