E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE OORDEEL VAN GOD IS NIE IN STRYD MET DIE VOORREG VAN DIE JODE NIE (1) – BROOD VAN DIE LEWE!
Rom. 3:1-3 – “Het dit dan enige voordeel om ‘n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou?”
Vergelyk ook Matt. 7:24 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.”
Paulus het tot dusver aangetoon dat die uiterlike dinge waarop die Jode, nie-Jode en ons, vertrou het soos die besit van die wet en die besnydenis, op sigself waardeloos is as dit nie deel uitmaak van ‘n persoonlike en toegewyde verhouding met God nie. Paulus onderbreek nou homself telkens sodat hy kan seker maak dat hy ál die kwelvrae kan beantwoord.
Sy eerste vraag of “dit dan enige voordeel om ‘n Jood te wees en die besnydenis enige nut het?” beantwoord hy feitlik onmiddellik en erken hy dat dit in alle opsigte so is dat die Jode juis ‘n voordeel teenoor ander volke het. Die belangrikste van hulle bevoorregte posisie was dat alléén Israel, die openbaring van God se woord in die Ou Testament ontvang het, “God het sy woorde aan die Jode toevertrou.” Daarom kon God met reg aanspraak maak op die trou van Israel teenoor Sy Woord.
Ons het vandag die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord in die Ou- én Nuwe Testament. God se roeping tot ‘n persoonlike verhouding met ons, word veral sigbaar deurdat Hy kennis van Hom binne ons bereik gebring het – en om ons nog verder te bevoorreg, bring Hy dit in ons eie taal! “Maar wat nou as sommige nie getrou bly nie?” Wat maak ons met hierdie voorreg? Het die Bybel maar net nog ‘n boek geword wat êrens in die huis stof opgaar? Dit word nie eers meer Sondae saamgeneem kerk toe nie want die tegnologie bring die teks op ‘n skerm vir ons. “Die belangrikste is dat God sy woorde aan [aan ons] toevertrou het,” en dit beteken nie dat die Bybel veilig gebêre moet word nie, maar wat daarin staan geléés moet word, gedóén moet word en wat dit vra, te déél met ander.
Ons moet ook besef dat die blote besit van ‘n Bybel en selfs gereelde Bybellees, ‘n leë uitwendige roetine word as dit nie daartoe lei dat ons in ‘n oorgegewe en gehoorsame verhouding met God begin lewe nie. Ons moet God altyd bedank omdat ons bevoorreg is om ‘n Bybel te kan besit – dit is lewende woorde van die lewende God wat Sy Woord vir ons uit genade gee!
Om gereeld Bybel te lees, is uitstekend, maar sal ons dit as ‘n “swaard kan gebruik teen die aanslae van die duiwel?” (Ef. 6:17). Jesus kon drie keer satan se versoekings weerstaan omdat Hy satan elke keer met die Woord getroef het: “Daar staan geskrywe ...!” Satan het besef dat hy homself in ‘n doodloopstraat bevind en “Jesus met rus gelaat” (Matt. 4:1-11). Om net Bybel te lees omdat ons van kleins af geleer is om Bybel te lees, en miskien selfs te kan “spog” hoeveel keer dit al deurgelees is, is soos ‘n skoenlapper op ‘n blom. Die skoenlapper fladder van blom tot blom, vlerkies oop en toe – van hoofstuk na hoofstuk, bladsye oop en toe, Bybel oop en toe, maar eintlik gebeur daar niks nie. Sodra daar met die volgende hoofstuk of selfs volgende perikoop begin word, is die vorige gelese gedeelte vergete.
In ons geestelike groei moet ons nie net by melkkos bly nie, maar die Bybel in diepte leer ken. In ons studie van die Bybel moet ons soek na die Persoon van Christus en daarin moet die Heilige Gees ons lei. Die belangrikste van Bybelstudie is om myself so te verdiep in God se Woord om uit te vind wat God vir mý wil sê sodat ek vrugte kan dra, vrugte wat sal hou!
Gereelde Bybelstudie is soos ‘n by wat binne die blom ingaan, stuifmeel daar uit te neem en by sy byekorf heuning daarvan te maak. Hy “vertel” die ander bye waar hy hierdie stuifmeel gevind het en binnekort is die hele blombedding (kerk) vol bye. Almal is besig om stuifmeel (die Woord) te kry om die heuningkoek te voltooi - die fondament te verstewig – die heuningkoek (koninkryk) saam te bou. Die blote besit van ‘n Bybel en selfs gereelde Bybellees word ‘n leë uitwendige roetine as dit nie daartoe lei dat jy in ‘n oorgegewe en gehoorsame verhouding met God begin lewe nie, nie daders van die Woord word nie!
Gebruik ons die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord om net te lees en te luister na die Woord of te luister en te gehoorsaam. God se Woord is so gesaghebbend dat dit “vergelyk kan word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” Jesus doen ‘n beroep op ons om op God se Woord te “hoor en daarvolgens te handel.” Een van die grootste probleme van vandag is dat daar steeds mense is wat Sondag na Sondag hoor wat God se Woord sê, maar nie daarop reageer nie. Kennis word eers relevant wanneer dit toegepas word in aksie – dit help niks ons het al die kennis van die Bybel nie maar dit word nie toegepas nie. Dit is dieselfde om dokter toe gaan a.g.v. ‘n siekte en nie gesond word omdat ons nie sy voorgeskrewe behandeling volg nie.
“Wie die Bybel vinnig lees, trek net so min voordeel daaruit as wat ‘n by daaruit sou kry indien hy skrams oor ‘n blom vee eerder as om diep in te gaan en die stuifmeel uit te haal” (Madame Guyon).
Gebed: Here, ek bely vandag dat my gehoorsaamheid aan U, soms maar power is. Ek wil graag agter die verskoning wegkruip dat daar soveel dinge in U Woord is wat ek nie verstaan nie, maar dit sou ‘n leuen wees want ek het deur U Gees, U as Outeur leer ken, en dit dwing my om soos die by, die “stuifmeel diep daar binne uit te haal”. Ek weet en besef dat indien ek deur die nou poort op die smal weg wil wees, ek moet luister EN DOEN wat U sê. Skenk my die vaste vertroue om te bou op die fondament wat U vir my gelê het met U Woord. Dankie vir U Woord, ‘n fontein van lewende water, die onfeilbare gids vir my lewenspad, die onbeskryflike bron van wysheid en troos. Laat ek elke woord daarin, met geloof en vertroue tot U eer uitvoer. Amen.