top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


SAAM IN DIE WINGERD – DIE WARE WINGERDSTOK!


Joh. 15:1-3 – “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”


Ons staan steeds saam met Jesus in die wingerd en terwyl die volmaan die wêreld om ons verlig, lyk alles só vreedsaam. Jesus weet egter dat Hy oor ‘n paar ure ‘n gevangene sal wees, gaan Sy liggaam tot die uiterste toe gebuig en gebreek word. Dan vertel Jesus vir ons dat ons Vader net soos die druiweboer gedurig deur Sy wingerd stap en die lote reg buig en snoei en manipuleer om optimale opbrengs te kry. Al die onnodige blare, uitloopsels en lote word verwyder. God is besig met ‘n skoonmaak proses – Hy snoei ons reg sodat die beste vrugte voortgebring kan word.


Die buigwerk en snoei van die lote maak soms seer. Ons word soos die lote, in rigtings ingedwing waar ons nie altyd wil wees nie. Een oomblik het ons nog welig “gegroei” saam met die ander lote maar skielik word ek weggeneem, ‘n ander rigting in – die mediese ondersoek lewer ‘n negatiewe diagnose op en ‘n groot operasie word genoodsaak; ek wat altyd gesond was hoor ek het kanker; ek het al sóveel jare my beste gelewer vir my firma maar ek word afgelê en my gereelde maandelikse inkomste droog skielik op. Nee, tog nie ek nie. Wat het verkeerd gegaan? Ek is dan ‘n loot wat vrug dra, lekker, sappige druiwe wat goeie wyn sal maak! Hoekom behandel die Boer my nou so?


God gaan egter sagkens te werk want Hy wil verhoed dat die lote wat vrug kan dra, nie afgebreek word van die Wingerdstok af nie. Hy is ‘n aktiewe Boer wat net die beste wil hê. Hy berei die grond voor en verwyder al die klippe, trek die onkruid uit, snoei die gemors weg. Die “wind” het intussen oor die lote wat weggebuig en gekraak het, gewaai en die snoeiwonde drooggemaak en genees. Die Heilige Gees vertroos en maak weer heel wat stukkend was, die skewe lote groei weer reguit sodat die vrugte wat hy dra, die mandjie vol kan maak. Die Boer se plan met die loot was die beste – vertrou op My, Ek verander soms jou rigting maar nooit jou bestemming nie want jy is steeds aan die “Wingerd” geheg. Jou maandelikse inkomste het skielik weggedroog want Ek wil jou weer nader aan My bring, sê die Boer, want Ek gee om vir jou.


Elke loot wat nie vrugdra nie, word afgesny. Judas Iskariot is afgesny van die ewige heerlikheid van die Wingerdstok. Hy was ‘n waterloot wat gemaak het asof hy deel van die wingerdstok is, maar het geen vrug gedra nie. Talle ander is soos Judas – hulle weet wel van Jesus en ken Hom selfs, maar hulle is lote wat wel aan die wingerstok vas is, maar die verbintenis is nie eg nie. Die Boer het het hom uitgesnuffel, die waterloot afgesnoei en weggewerp sodat die ander lote nie deur hom besmet kon word nie. Die Boer snuffel al die foute uit en verwyder dit, sodat Hy al Sy aandag en liefde aan die vrugdraende lote kan wy.


Die vrugbare lote tel God op en snoei eers al die siek blare weg. Hoewel dit ‘n pynlike proses is kan die ongewensde lote en gevlekte en droë blare op die grond waargeneem word. Elkeen het ‘n naam op – onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, vyandskap, haat, naywer, verwaandheid, ek-is-beter-as-ander ...! Sonder die sap wat vanuit die wortels deur die wingerdstok opstyg na die lote toe, is daar geen vrug nie! En as die loot nie vrugdra nie en net maak of hy vrugdra, word hy afgesny!


“Die vreemdste waarheid van die evangelie is dat verlossing deur lyding kom”

(Milo Chapman).


Gebed: Onse Vader, ek is ‘n loot aan Christus se wingerdstok, snoei my om meer vrugte te dra. Snoei die gedeeltes wat vol insekte is, die slegte gedeeltes, die onvrugbare stukke weg. Ek wil genoeg sappige vrugte dra om U te verheerlik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page