E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS SE OPDRAG AAN AL DIE GELOWIGES – ELKE CHRISTEN ‘N GETUIE!
Mark. 16:14-18; Luk. 24:36-49; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)
Matt. 28:18-20 – “Jesus kom toe nader en sê [vir Sy dissipels]: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.”
Jesus se eerste opdrag aan Sy nuwe volgelinge was: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Sy laaste opdrag op aarde aan Sy dissipels was: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” Jesus Christus het dus Sy bediening begin en beëindig met die opdrag om getuies en vissers van mense te wees. Die hoogtepunt in Jesus se lering op aarde word saamgevat in die Groot Opdrag waar Jesus Sy volgelinge beveel: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels ...!” Maar Here ... hoe en deur wie?
Die eerste en mees vanselfsprekende antwoord is dat die kerk die liggaam is onder bevel van Christus en dit dus hoofsaaklik die taak van die leraar is om siele vir Christus te wen. Hulle is mos teologies en geestelik opgelei soos wat Jesus die dissipels gekies en opgelei het om die Ware Woord te gaan verkondig. “Los dit vir die heilige Hennie’s, ek is maar net ‘n gewone ou lidmaat, ek ken nie die Bybel nie soos hulle nie, buitendien, ek het ‘n voltydse beroep en ek moet vir my gesin sorg.”
Dit is egter nie ‘n aanvaarbare verskoning nie. Die vroeë “gemeente in Jerusalem is hewig vervolg en al die gelowiges, behalwe die apostels, is uitmekaar gejaag en verstrooi ...! Hierdie gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig” (Hand. 8:1-4). Ons weet hoe en waar die apostels getuig het, maar hier is dit duidelik dat ál die gelowiges dus gegaan het en die evangelie gaan verkondig het. Daarom is dit moontlik dat as gevolg van hierdie eerste getuies, Christen-gelowiges gegroei het tot ongeveer 2 biljoen die afgelope 2000 jaar! Wanneer jy ‘n kind van God word, haal God jou nie úít jou omstandighede nie, maar stuur jou terug ná jou lewensomstandighede as ‘n núwe mens! Ons moet dan as die Here se verteenwoordigers (Gen. 1:26) in hierdie stukkende wêreld gaan leef, deur die toepassing van ons rentmeesterskap en ons getuienis deur woorde en dade.
Dit is ‘n algemene aanvaarde feit dat meeste mense (gelowiges) dadelik huiwerig is wanneer hulle vir Christus moet getuig. Wanneer ‘n mens op sy eie vermoëns vertrou, sal jy min of selfs geen sukses behaal nie, en dit maar eerder vir die heilige Hennie’s los. Jesus het self gesê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5), maar vir God is alles moontlik. Jesus het ons Sy Heilige Gees gegee sodat ons nie uit eie krag ons geloof en dienswerk in stand hoef te hou nie. Die Gees staan vandag nog steeds gereed om ons te omgord met Sy kragtige leiding sodat ons onverskrokke getuies van die Here kan wees en ons Sy liefde prakties kan uitleef tot uitbreiding van Sy koninkryk.
Wat beteken dit? Jesus sê: “Neem My werk verder net daar waar Ek jou geplaas het om te leef en te werk. As jy My lief het, laat My skape, My lammers wei. Moenie terugkyk na jou ou lewe waar jy My verloën het nie. Neem jou rentmeesterskap wat gaan oor jou loopbaan, jou tyd, jou bates, alles wat Ek aan jou toevertrou het, en laat My toe om Heer en Koning te wees daaroor.” “Gee jouself as lewende en heilige offer aan My. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat Ek jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy ook kan onderskei wat My wil is, wat vir My goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom. 12:1-2).
Die sendingopdrag is ‘n bomenslike taak wat glad nie in eie krag uitgevoer kan word nie. Dit is nie binne die vermoë van enige mens om alleen die ryk van satan aan te durf en te oorwin nie. Jy kan nie jouself red nie, en ook nie ander verlorenes wat in die mag van satan vasgevang is nie. Maar wanneer ons na Jesus kom, kom ons uit die duisternis en beweeg ons tot in die helder lig van Sy waarheid en liefde: “Dan is dit nie [ons] wat praat nie, maar die Gees van [ons] Vader wat deur [ons] praat” (Matt. 10:20).
Om te getuig vír Jesus en óór Jesus, is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is. Die aansluitingspakket by Jesus het geen byvoordele soos ‘n mooi kar of gewaarborgde veiligheid nie. “Omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur” (Gal. 4:6). Ons word inderdaad hemelse sout vir ‘n smaaklose wêreld!
“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons selfliefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).
Gebed: Here, sedert U hemelvaart is ek U liggaam op aarde. My hande is nou die enigste hande waarmee U u werk wil doen. My voete is nou die enigste voete waarmee U in hierdie wêreld wil rondgaan. My oë is die enigste oë waarin mense nou U deernis en ontferming kan sien uitstraal na hierdie hartseer wêreld. Here, ék is nou U liggaam hier op aarde. Gebruik my soos U goeddink! Amen. (Gebed van Teresa van Avila. Effens aangepas.)