top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES


JESUS VERSKYN AAN MARIA MAGDALENA (3) – MOENIE BANG WEES NIE!

(Matt. 28:9-10; Mark. 16:9-11; Joh. 20:11-18)


Joh. 20:17-18 – “Jesus sê toe vir haar: ‘Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na My broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na My Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: ‘Ek het die Here gesien!’ En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.”


Vergelyk ook Matt. 28:9-10 – “Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: ‘Moenie bang wees nie. Gaan sê vir My broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.’ ”


Maria kon aanvanklik nie Jesus erken nie. Haar trane het haar sig verblind. Sy kon Hom nie erken want sy het in die verkeerde rigting gekyk – terug na ‘n leë graf, “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Hoe sou sy in elk geval vrou alleen, Jesus se liggaam kon dra? En dan ... Maria wat op soek was na die liggaam van Jesus om dit vir haar toe te eien, vind onverwags die Here as ’n lewende persoon. Sy het Hom stellig omarm soos sy moontlik vroeër by geleentheid van begroeting gedoen het. Daarmee gee sy te kenne dat sy Jesus net soos voor die kruisiging as vriend wil behou. Sy besef nie dat ’n nuwe situasie deur die opstanding ontstaan het nie. Nou verkeer Jesus in sy verheerlikte liggaam; Sy Middelaarswerk is voltooi en Hy is op weg na die finale verheerliking met die hemelvaart, veertig dae later.


Jesus moet nog ’n tyd lank op aarde vertoef en aan sy volgelinge verskyn om sy laaste opdragte te gee. Daarvan moet Hy nie deur Maria teruggehou word nie, selfs nie as bewys van haar persoonlike liefde vir Hom nie. Hy verbreek egter nie die gemeenskap tussen Hom en een wat Hom liefhet nie, maar verwys na Sy gaan na die Vader in die hemel. Dan sal Hy nie meer sigbaar en tasbaar op aarde wees nie, maar in die hemel van waar Hy die Heilige Gees sal stuur (Joh. 16:7) en ’n veel inniger gemeenskap tussen Hom en die gelowiges moontlik sal maak as wat voorheen bestaan het. Dit sal Maria ook ondervind, en daarom moet sy Hom nou nie wil vashou nie, maar as getuie vir Hom gaan optree.


Maria gaan ’n tweede keer na die dissipels, en nou met die boodskap: “Ek het die Here gesien!” Ironies dat dit weer ‘n vrou is, wat in die antieke Oosterse samelewing nie regtig beskou is as betroubare getuies nie, soos met die Samaritaanse vrou, die eerste sterk getuie van Jesus se opstanding! Daar kon vir die dissipels geen heerliker boodskap wees nie. Nou hoor hulle dat Jesus nie dood is nie maar lééf, en dat Hy liggaamlik rondbeweeg en op pad is na hulle toe. Voorheen het Hy die dissipels sy “vriende” genoem, nou is hulle Sy “broers”. Die diepe grond vir hierdie “broerskap” is die feit dat God die Vader is van Jesus Christus maar ook die Vader van die gelowiges. Juis deur die heilswerk wat aan die kruis voltooi is, word álle gelowiges in Jesus Christus, opgeneem in die huishouding van die hemelse Vader en bly hulle verseker van Sy liefde.


Maria het volgens Matteus, die opdrag gekry om die graf te verlaat en “Jesus se broers te gaan sê hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle Hom sien.” Dit het beteken dat hulle die leë graf moes verlaat waar hulle rouproses, hoop, verlange en hartseer, nog enkele ure vantevore begrawe was, en ‘n nuwe wêreld ingaan – die opstandingskant van die kruis en graf.


Dit is vir ons Christen-gelowiges ook moontlik om die begraafplaas van ons verlede te verlaat en nie weer daarna terug te kyk nie – die plek van ons neerlae, teleurstellings, sondes, vrese en foute. Ons “moenie bang wees nie”. Die belofte van Jesus dat Hy ons vooruit na “Galilea” toe gaan, bestaan vandag nog. Dit is die deel van die ware evangelieboodskap wat deur die eeue vir ons gegee is en stééds bestaan.


Ons sal Jesus daar sien wanneer ons onsself in Sy Woord verdiep. Hy sal deur Sy Gees as’t ware uit die gelese Bybelpapier “uitstap” in ons harte, geloof en lewe, in. Ons sal saam met die vroue daar by Sy leë graf die oomblik van dood en wanhoop ervaar dat Sy teenwoordigheid ons vul met hoop, geloof en nuwe verwagtinge. Ons sal Jesus “sien en ervaar” wanneer Hy ons kleurlose, alledaagse lewe vul met Sy teenwoordigheid en heerlikheid. Saam met Maria kan ons dan sê: “Ek het die Here gesien!” Wanneer jy die lewende opgestane Christus ontmoet, Hom geestelik “sien”, betree jy ‘n nuwe wêreld waar liefde sterker is as die dood! Jy weet nie net van die opgestane Jesus nie, jy ken Hom; dit beteken nie om te argumenteer oor Hom nie, maar ‘n ontmoeting met Hom.


“Na Jesus se opstanding is alles onherroeplik op die kop gekeer. Wanhoop verander in hoop; moedeloosheid slaan om in oorvloedige lewe, radeloosheid wyk voor roeping” (Dirkie Smit).


Gebed: Dankie Jesus dat U ons verlos het uit die graf van sonde. Daar is egter dae wat ek voel dat die grafdoeke my nog vasbind. Dit is moeilik om ontslae te raak van die ou gewoontes en swakhede wat so deel van my lewe geword het. Vader, U het deur Christus vir my die nuwe lewe gegee, gee my nou ook die krag om te verander. Skenk my die moed om teen die gemak van ou gewoontes te stry. Gee my die geloof dat ek met U hulp en deur U Gees, nie kan misluk nie, want soos Maria bely ek ook : “Ek het my Here gesien!” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page