top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 39) – JESUS WORD BEGRAWE!

(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Luk 23:50-56; Joh. 19:38-42)


Joh. 19:38; 41-42 – “Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle, (Josef en Nikodemus), Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.”


“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is” (Gal.3:13). Jesus sterf ‘n eerlose dood maar ontvang ‘n eervolle begrafnis. Josef van Arimatea, ‘n geheime dissipel van Jesus, waag sy lewe om as volgeling van Jesus, moontlik ook ter dood veroordeel te word. Hy huiwer egter nie om Pilatus te vra “of hy die liggaam van Jesus mag neem” nie. Josef, Nikodemus en ander helpers moes die liggaam van Jesus voor die aandskemer, van die kruis verwyder. Met aandskemer sou die sabbat begin en indien Jesus se liggaam nie begrawe was nie, sou dit die sabbat ontheilig.


Hierdie ryk man neem Jesus se naakte liggaam, draai dit toe in skoon linne, en gaan lê Hom eervol, in sy eie nuwe graf wat Josef in die rots uitgekap het (Matt. 27:57-60). Jesus kry ‘n graf waarin niemand nog gelê het nie en word begrawe met die waardigheid van ‘n Koning!


Dit is haas onbegryplik om te dink dat hierdie Koning bykans sewe dae vantevore Jerusalem ingery gekom het en met palmtakke op die grond en hosannas in die lug verwelkom is. Die talle pelgrims wat vir die paasfees Jerusalem toe gekom het, het hulle klere voor Hom op die stowwerige pad oopgegooi soos met ‘n koning gemaak word. Hy het egter nie baie koninklik gelyk nie want Hy het op ‘n eenvoudige donkietjie gery! En nou lê hierdie Koning op Goeie Vrydag, in ‘n graf!


Nie één van daardie feesgangers was onaangeraak deur hierdie Vrydag se gebeure nie. Álmal het daardie sabbat gedink aan die ontsaglikheid van Jesus van Nasaret en die gebeure rondom sy kruisiging – die donker sluier wat helder oordag vir drie ure oor die aarde getrek is; ‘n aardbewing en grafte wat oopbreek; gelowiges wat dood was is opgewek en het uit hulle grafte gegaan; die voorhangsel in die tempel skeur – die mense was verslae (Matt. 27:51-53). Niemand kon neutraal staan nie, selfs die Romeinse offisier wat waarskynlik nooit vir Jesus hoor preek het nie, of die wonders en genesings wat Hy gedoen het, gesien het nie, moes erken: “Hierdie man was werklik die Seun van God!” (Mark. 15:39). Almal in Jerusalem was geraak!


Ons vier vandag saam met alle Christene regoor die wêreld Goeie Vrydag – die dag wat Jesus vir ons aan die kruis op Golgota gesterf het en voor die aandskemering gedaal het, begrawe is. Vier ons dit nog enigsins? Gebruik talle van ons nie hierdie dag om op reis te gaan en sodoende onsself uit te sluit van die fees nie – Paasfees word Paasvakansienaweek; eet van paaseiers; luilekker ontspanning oral behalwe waar dit saak maak! Romantisering van Goeie Vrydag en die dra van kruis hangertjies, kan maklik die skrikwekkendheid van Jesus se dood afwater!


Goeie Vrydag is ‘n dag om weer by die kruis te staan en daardie hartverskeurende emosies te beleef maar ook te juig, fees te vier! Op Golgota lê satan se graf, want dáár het Jesus van die kruis die finale slag gelewer. Christus het die graf en die hel dáár oorwin! Op Golgota lê ons eie graf: “Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het” (2 Kor. 5:14). Op Golgota sterf ons aan onsself, aan die ou mens en sy eiegeregtigheid, sy hoogmoed, sy liefdeloosheid. Op Golgota word ons saam met Christus begrawe en staan ons op as nuwe skepsels. Op Golgota kyk ons hierdie Goeie Vrydag hoe Jesus se verbryselde liggaam verwyder word, kyk ons weer na die spykers wat Sy hande deurboor het en dink daaraan: “Dit is Jesus wat daar vir my en jou sondes gehang het en saam met die Romeinse offisier erken: “Hierdie man was werklik die Seun van God!” (Mark. 15:39)!


Goeie Vrydag is die dag wat die liefde van God vir ons sigbaar geword het. Dit is die dag wanneer ons behoort te ontkiem soos die koringkorrel en vrug dra vir Sy ewige koninkryk. Goeie Vrydag moet elke dag gevier word en só gevier word dat ons elke dag vir almal rondom ons, ‘n Goeie Vrydag maak. Daardie Vrydag het Jesus se dood, versoening tussen God en ons gebring. Ons kan dus nie onaangeraak by die leë kruis vertoef nie, in genade kan ons roem in die oorwinning van die kruis en verkondig vir die wêreld: “Dit is my roemtaal, dit is my lied, lof wat ek Jesus ewig sal bied.”


“Die dood was eers ‘n donker grot, maar Jesus het dit getransformeer tot ‘n helder uitgang na die Lig” (Charles Spurgeon).


Gebed: My Verlosser, op hierdie Goeie Vrydag kniel ek voor U kruis, is ek deel van hulle wat die afgryse van U lyding aanskou het en hoe U Uself gewillig prysgegee het aan ‘n bitter eensame dood. Here Jesus, U was só stukkend, U het geen skoonheid of prag gehad dat ek na U wou kyk nie, geen voorkoms gehad dat ek van U sou hou nie (Jes. 53:2). En tog, in hierdie verskriklike toneel, reik U na my uit, verseker U my opnuut dat U juis gesterf het, sodat ek as sondaar kan leef! Dankie dat U vir alle nood van alle tye gesterf het, die mens se diepste hel van sonde en dood, gedra en oorwin het. U het hierdie prys betaal omdat U my liefhet, help my dan om soos U lief te hê, sonder om die prys te bereken. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page