top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 12 minutes ago
  • 4 min read

Maandag, 20 Oktober 2025

Koos Espach


Die oordeel en genade van God (3)


Gevorm volgens God se patroon


Rom. 9:21 – “Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?” (2)

 

Vergelyk ook Gen. 2:7 – “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.” (2)

 

Soos ‘n vaardige meesterbouer het God stap vir stap die heelal gemaak. Vir vyf dae het Hy as Beskikker van oorvloedige vrugbaarheid, die wonders van die ruimte, die prag van die natuur en die onbegryplike fyn werking van lewe van ‘n magdom aantal diere en vrugbaarheid wat tot hulle gerig word, geskep. Dan op die sesde dag: die verskyning van die hooffiguur in die skepping, die mens. ‘n Hoogtepunt word bereik, elkeen wat mens genoem word, is vir God iets besonders!

 

God het ons geskape om as “verteenwoordiger en Sy beeld” (Gen. 1:26), te wees en te bly. Hiermee word daar byna koninklike status aan die mens toegeken om namens God verantwoordelikheid vir die skepping te neem. God het die mens nie op presies dieselfde manier as die ander skepsels geskep nie. By al die ander skepsels het God net gepraat en die skepsels het tevoorskyn gekom. Soos ’n koor klink dit elke keer in Genesis 1: “Toe het God gesê … So het dit gebeur.” 

 

Dit is ook opmerklik dat God elke keer nadat Hy geskep het, “gesien het dit is goed.” Maar nadat Hy die mens geskep het, het God na alles gekyk wat Hy gemaak het, “en dit was baie goed (Gen. 1:31). Eers nadat die mens geskep is, was alles baie goed en is die skepping daarmee voltooi.

 

Nog ‘n opmerkbare verskil tussen die ander skepsels en die mens is dat God gesê het: “Laat die aarde lewende wesens voortbring.” God het die diere uit die grond van die aarde gevorm en hulle het gelewe. By die mens is dit egter anders: “God het die mens uit die stof van die aarde gevorm. En nadat Hy hom gevorm het, het Hy eers die lewensasem in sy neus geblaas.” Op ’n besonders intieme wyse het die Here lewe aan die mens gegee. Uniek! Spesiaal! 

 

Die andersheid van die mens as skepping van God, is dat hy nie maar net nog ’n skepsel, nog ’n ding is saam met al die ander dinge wat God geskep het nie. God het die mens as sy verteenwoordiger, as sy beeld geskep. Nét die mens is só geskep. As beeld en verteenwoordiger van God, bevestig Paulus vir ons dat “die volheid van die Godheid sy volste uitdrukking vind in 'n menslike liggaam” (Kol. 2:9). Is dit nie verstommend nie?

 

Dit maak natuurlik nie van die mens ’n klein godjie nie. In plaas daarvan om gehoorsaam aan sy Skepper en sy God te leef, meen die mens hy weet beter as die Here. Ons mense dink ons kan ons eie besluite neem en onafhanklik van die Here lewe. Ons wil soos God wees maar hierdie eiewyse ek, het hom- of haarself in gemors gedompel! In plaas daarvan dat ons oor die skepping moet heers, respek betoon en menswaardigheid aan ander moet gee soos God dit wil hê, word meestal van ons ’n slaaf van die skepping. Ons breek en verwoes aan die beeld van God, heeltemal teenstrydig met dit wat God wil. Sal ons nie maar eerder die Gees toelaat om in ons te werk en sodoende ons waarlik omvorm tot die beeld van God nie? Is dit nie hoe God wil hê ons moet wees, iets besonders en nie iets alledaags nie?

 

Elkeen van ons het in die hart en gedagtes van God begin. Dit is waar ons regtig vandaan kom en dit is die enigste konteks waar ek en jy ons ware identiteit ontdek. God het sý beeld op ons afgedruk en dit met Christus se bloed verlos. Ons moet begin om dit wat ons van onsself dink te bou op wat God van ons, van voor die skepping weet en niks anders nie, niks van ons verlede nie, nie op nasionaliteit, taal, kultuur, rykdom of armoede nie.

 

Daar is slegs één ding wat ons definieer: Ons is as Sy “verteenwoordiger, sy beeld” gemaak. Toe Jesus dus uiteindelik vir 33 jaar op aarde was, het Hy nie gesug en gesteun omdat Hy “verplig” was om mens te wees nie. Hy het Homself egter ontledig om mens te wees (Fil. 2:7). Hy het Homself bankrot gemaak juis óm méns te kon wees! Alles wat God gehad het en wat Hy is, het Hy in ons belê! Aanvaar dit uit dankbaarheid en dien die Pottebakker wat sy vrymag oor ons as sy skepsels beklemtoon. Dit is immers God se reg om “iets besonders én iets alledaags te maak!”

 

“Moenie jouself met ander rondom jou vergelyk nie, maar soek eerder na God wat jou lewe beplan en volg gehoorsaam” (James Stalker).

 

Gebed: Dankie Here dat U my geskep het en U beeld op my afgedruk het sodat ek U verteenwoordiger op aarde kan wees. Dit is natuurlik ‘n enorme verantwoordelikheid Here. Skenk my die genade en ywer om nie daarin te faal nie. En as ek faal om U verteenwoordiger te wees en U beeld in ander nie met respek hanteer nie, vermaan my asseblief deur U Gees. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page