top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 2 days ago
  • 4 min read

Maandag, 3 November 2025

Koos Espach


Israel en die evangelie (4)


Ywerige Christene vir God 

 

Rom. 10:1-2 – “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig.”

 

Vergelyk ook Ps. 63:2-9 – “Ek soek U , o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water ...” (Lees asb. Ps. 63:2-9).

 

As gevolg van Paulus se verbondenheid aan Israel, kon hy met vrymoedigheid getuig van hulle ywer vir God. Sy hartewens was om vir hulle te bid dat God hulle moet red want hulle ywer was sonder insig. Voor sy bekering was hy ook vol drif en ywer, ‘n ywer sonder insig wat hy gebruik het om die Kerk mee te vervolg. Sy ywer was negatief aangewend en niemand het voordeel daaruit getrek nie, selfs nie eens hy nie. Hy kon dus uit eie ondervinding, vir hulle bid dat sy volksgenote nie dieselfde foute maak wat hy gemaak het voor sy bekering nie.

 

Hy kon maar vir ons ook gebid het! Of nog beter, ons moet vir onsself bid! Het óns nog ‘n ywer vir God – is ons nog passievol vir Hom? Is ons nog toegewyd aan Hom – staan ons nog op vir sy Naam? Besef ons nog dat die grootste, die heerlikste iets wat ons op aarde kan vind, niks anders as God is nie? Soek ons na God? Terwyl ek Romeine 10:1-2 lees, het ek aan Dawid gedink wat in Psalm 63 sy verlange na God uitsug terwyl hy deur die toedoen van vals mense, hom bevind in die droë onherbergsame Judawoestyn.

 

Ons is dalk nie soos Dawid in ‘n woestyn nie, maar ek glo die beste en heerlikste ding wat ons elke dag nodig het en ook kan doen, is om soos Dawid, ywerig na hierdie selfde God te soek, te ken, lief te hê en te loof. As ywerige Christene bou ons dan daagliks ’n persoonlike verhouding met God. Soos vir Dawid word dit dan “my God.” Hy praat nie hier van ’n god of die God nie, maar “my God.” Is Hy jou en my God?

 

As ywerige Christene koester ons ’n diep verlange na gemeenskap met die Here, smag ons soos Dawid na Hom: “ek dors na U; ek smag na U”. As ek en jy ywerig vir God lewe, sal ons smag na ’n dieper verhouding met God en sal ons al nader aan Hom wil leef. Niks minder en niks meer sal ons ywerig laat aanspoor om ons God te soek en tyd saam met Hom deur te bring, Hom te aanbid en tot sy eer te leef nie.

 

As ywerige Christene is ons gevul met lof en danksegging vir die Here. Soos Dawid sing ons die lof van die Here toe: “U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys … ek sal U altyd roem met jubelende mond.”  As ywerige Christene vind ons soos Dawid tevredenheid in die Here “elke keer wanneer hy (en ons) God se goeie gawes geniet” (v. 6). Hoe meer ywer ons vir die Here het, hoe meer sal ons weg beweeg van aardse dinge. Dit is God se seëninge wat ons met genot vul, maar ons sal net hierdie tevredenheid ken as ons God goed leer ken.

 

As ywerige Christene raak ons stil in God se teenwoordigheid. Dawid skryf in vers 7: “As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag …”. Is dit hoe my en jou lewe lyk? Die lewe is gejaagd en ons is dikwels rusteloos, daarom moet ons in God se teenwoordigheid leef, tyd met Hom spandeer. Soos Dawid moet ons stil raak en oor die Here dink. Tyd spandeer met God se Woord, en die grootheid en liefde van God oordink elke kans wat ons kry, nie net vinnig ‘n paar verse lees omdat ons móét lees nie.

  

As ywerige Christene is ons selfversekerd en bly oor die toekoms. Wanneer ons die dag moedeloos of ‘n bietjie ‘af’ is, sal vers 8 ons selfversekerdheid ’n hupstoot gee: “U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.” As ons ten volle vir die Here lewe, sal ons weet dat ons ten volle onder sy beskerming lewe. En wanneer daar probleme of beproewinge op ons pad kom, kan ons skuiling by die Here vind, “beskerming onder sy vleuels” soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke beskerm.

 

As ywerige Christene bewys God dat Hy ons ondersteun. Elke oggend wanneer die son opkom, gee dit ons die versekering dat daar die hele dag sal lig wees. As ons naby aan die Here bly, sal Hy net so sy lig laat skyn. Elke dag, elke oomblik sal ons deur die magtige hand van God ondersteun word. Dan sal ons ook Dawid se woorde in vers 9 laat ego: “Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.” Ek dink ons moet sommer vandag, en elke dag, opnuut weer in die stilte van ons siel tot God spreek: “Ek soek U , o God, my God, ek dors na U; ek smag na U.” Ek en jy moet in ons harte glo dat dit nie net waar is nie, maar dat God begerig is dat ons só moet leef en in antwoord op ons gebed, ons daartoe in staat sal stel.

 

“Ywer is die moeder van dit wat ons “geluk” noem” (Miguel de Cervantes).

 

Gebed: Here, ek wil elke dag opstaan vir U eer, meer ywerig wees vir U want Goddelike ywer is ‘n standvastige ywer, ‘n ywer vir U in Christus, ‘n ywer om U wil en koninkryk eerste te stel, nié ‘n mensgemaakte koninkryk nie. Alleen kan ek dit nie doen nie, maar deur u inwonende Gees is dit moontlik om daagliks met ywer en insig standvastig te bly, en voluit te leef in die geloof. Ek loof U daarvoor. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page