Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 4 min read
Woensdag, 22 Oktober 2025
Koos Espach
Die oordeel en genade van God (4)
Die Pottebakker en sy klei
Rom. 9:22-24 – “En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. 23So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het. 24En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.”
Vergelyk ook Jer. 18:4 – “Maar die ding wat Hy aan die maak was met die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.”
Ons moet in gedagte hou dat Paulus hier steeds redeneer met ‘n “groot droefheid en voortdurende hartseer oor sy broers, sy eie volksgenote” (v. 2). Hy is hartseer oor die Jode wat Jesus verwerp het, God se Seun wat hulle laat kruisig het. In sy redenasie gebruik hy die voorbeeld van die pottebakker en sy klei, ‘n voorbeeld wat by die Jode van die Ou Volk welbekend was. Wanneer hy hierdie beeld beskryf, wil hy daarmee God as die Pottebakker, se doel om die “rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van sy ontferming bekend te maak”, beklemtoon.
Paulus se volksgenote, is die “voorwerpe van God se ontferming”, omdat hulle geensins verdien het om deur God “voorberei te word vir die heerlikheid nie” – die ding wat God aan die maak was uit die klei, het as’t ware misluk. Die sonde kan nie weggedink of weg geredeneer word nie, daarom verdien hulle eintlik “om verdelg te word.” Ten spyte daarvan, “verdra God hulle met groot geduld, en Hy het toe iets anders gemaak soos Hy dit wou hê.” Hierdie “iets anders”, is al die begenadigde mense wie nou nie meer “net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies” bestaan, wat natuurlik ons ook insluit.
Ons is vandag die klei in ons Pottebakker se hande, Hy weet presies wat Hy daarmee wil maak. Indien die klei nie word wat die Pottebakker daarmee in gedagte gehad het nie, neem Hy die mislukte stukkie klei, brei dit van vooraf en vorm dit weer op die “wiel of skyf,” totdat dit is wat Hy wou maak. Ons is soos klei in die Pottebakker se hand, Hy kan met ons maak net wat Hy wil: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van U hande” (Jes. 64:8).
God is eeue al besig om die mens te vorm soos Hy ons wil hê. As dit lyk of sy vormwerk misluk, is dit nie God se skuld nie, die fout lê by die “klei.” God is nie wispelturig nie. God laat die keuse oor aan ons of ons die “vorm” wil aanneem wat Hy vir ons beplan het. Ongelukkig is daar mense wat hulle nie wíl laat vorm nie, hulle wil eerder hulle eie pad loop, soos die oorgrote Ou Volk Israel se verkeerde keuse was. God moet hulle net uitlos, hulle sal self regkom, elkeen wil koppig, sy eie godjie wees. En ons? Is ons nie dalk ook deel van die “hulle” nie, en tog bid ons: “Laat U wil geskied!”
Ons is nie hier om net mooi te lyk nie. ‘n Pottebakker in Jeremia se tyd het nie mooi ornamente gemaak nie, maar gebruiksartikels. God is die “Hoofdoel” van ons lewe, “wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.” God hou ons in sy hande selfs al is ons krom en skeef: “God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons is nie gemaak om net uit die lewe te haal nie, maar om terug te gee, om God te dien. Ons is deel van “die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het.” Die Pottebakker is geduldig, Hy is bereid om elke skewe, mislukte en lelike pot, nog ‘n kans te gee, ‘n kans om ‘n beter pot te wees.
Elke liewe “stukkie klei,” elkeen wat saam met my hier lees, hoe is dit vandag met jou samestelling? Sien jy kans vir die Pottebakker se omvorming van ‘n hopie nuttelose klei tot ‘n bruikbare pottebakker gebruiksartikel. Is ons bereid om ons oor te gee in die Pottebakker se hand? Hy sal met ongekende liefde ons as klei weer soepel en glad brei en vorm om iets bruikbaar en waardevol te maak. Ons het ons vorming aan Hom te danke, want ons “God het ons mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.” Deur Christus Jesus is ons verlede vergewe, ons hede het nou betekenis en ons toekoms is verseker.
“God het ‘n heilsplan vir sy wêreld en dit is ‘n wenplan! Hy het in Christus besluit Hy gaan voort daarmee – die prys is reeds betaal. Al wat vir ons oorbly is die vraag: kom jy saam of nie?” (Coenie Burger).
Gebed: “U vaderhart hoor my gebed. U Seun het my kom red. Hy het gesterf en opgestaan; as kind neem ek dit aan” (Liedboek 497:3). Ek is oorweldigend dankbaar dat U my gevorm het as ‘n “voorwerp van U ontferming”, daarom wil ek in my redding, U mag en rykdom van U heerlikheid bekend maak. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op U wag ek, needrig en stil. Ek bid ook vir élke “stukkie klei” dat hulle sal toelaat dat U met ongekende liefde hulle opnuut weer soepel en glad te brei en te vorm om iets bruikbaar en waardevol te wees. Amen.

Comments