Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 11 minutes ago
- 4 min read
Vrydag, 24 Oktober 2025
Koos Espach
Die oordeel en genade van God (5)
Want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel
Rom. 9:25-29 – “So sê Hy dan ook in die boek Hosea: ‘Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.’ 26‘En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.’ 27En Jesaja roep van Israel dít uit: ‘Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see, net die handjievol wat oorbly, sal gered word, 28want die Here gaan eens en vir altyd hier op aarde die saak afhandel.’ 29So het Jesaja trouens al vroeër gesê: ‘As die Here, die Almagtige, nie vir ons ‘n klompie laat oorbly het nie – soos met Sodom sou dit met ons gegaan het, soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”
Paulus gaan voort om die heerlike boodskap van God se regverdigheid te verkondig. God maak nie foute nie, Hy is volmaak die Heilige. In die lig van sy rykdom van genade, verbleek elke kritiese vraag of God nie dalk onregverdig is nie. Buitendien hoef God nie aan ons verslag te doen nie. Iemand het gesê dat God in die geskiedenis net een keer werklik “onregverdig” was. Dit was toe Hy Jesus, die Regverdige vir ons ongeregtighede gestraf het. Dankie tog Vader! Indien dit ‘n fout was, was dit die heerlikste fout vir die mensdom. Ek loof U daarvoor!
Daaruit blyk die vrye genade van God. Om sy argument te beklemtoon, haal Paulus aan uit Hosea 1:10 en 2:22 om aan te toon dat God sy gemeente ook uit diegene, wat aanvanklik nie tot Israel behoort het nie, versamel. Daarby word God se ontferming oor die heidene, wat ons ook insluit, tot sy volk bygevoeg. Met die twee aanhalings uit Jesaja 1:9 en 10:22-23, betrek Paulus die vleeslike nasate van Abraham wat so goddeloos was dat hulle lot gelyk behoort te wees aan dié van Sodom en Gomorra. Tog red God nogtans uit vrye guns, ‘n “handjievol” wat teruggekeer het uit ballingskap.
Hier gaan dit nie oor God se vergelding nie, maar oor sy pyn. Pyn omdat mense Hom uitskuif as onbelangrik, mense wat afvallig raak vanweë afgodery en dwaalleer, mense wat glo hulle kan sonder God of met ‘n god van hulle menslike keuse, die lewe aanpak. Maar ten spyte daarvan, kan God ingryp in mense met ‘n stukkende lewe en op die afdraande pad is na selfvernietiging. God se pyn verander in ‘n vreugdelied want Hy roep elke afgedwaalde mens om om te draai, “in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ word hulle geroep om kinders van die lewende God te wees” (Hos. 1:10) die “handjievol” gelowiges wat ook voorwerpe van God se ontferming geword het!
Meeste mense vergeet God is regverdig want wanneer bepaalde slegte dinge met ons gebeur, is ons geneig om te vra: “Waarom gebeur dit met my ... waarom ek ... wat het ek verkeerd gedoen?” Soos reeds genoem, God is die volmaakte Heilige en hoef nie aan ons verslag te doen nie. Is dit nie ons wat eintlik eers weer ons afhanklikheid van God moet ontdek nie? Dit beteken om ‘n “bedelaar” te wees as gevolg van algehele geestelike bankrotskap. Die eintlike vraag wat ons in ons situasie behoort te vra, is: “Waarom nie ek nie?”
Maar, daar is ongelukkig mense, Christen mense, wat baie swaar afskeid neem van hulle selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede. Mense wat vergeet het wie die Pottebakker, en wie die klei is! Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat troontjies van hoogmoed, na totale afhanklikheid van God. God is baie tevrede met mense wat nie so vol van hulleself is dat hulle sonder Hom kan of wil klaarkom nie. Hy noem sulke mense geseëndes: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3).
Onafhanklikheid in ‘n geestelike sin, verwys na die self, my eie drie-eenheid wat ek vorm: Ek, myself en myne! Daar is mense wat nie afhanklik wíl wees nie. Gesonde en welvarende mense kan mos nie afhanklik wees nie. Ons het hard gewerk vir wat ons het en ons moet darem ietsie vir onsself ook doen. Ons kom sélf reg. Ek is my eie baas en het niemand nodig nie. Ek is oor niemand verleë nie. Klink dit bekend?
Voor God staan ons met leë hande, totaal verlore. Al het ons materieël miskien baie, raak ons bewus van ons armoede. Daarom kan ons met hierdie bankrotskap, ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus. Ja, daar is nie ‘n waarborg dat ons afhanklikheid skielik gaan verander en daar nie meer ellende op ons pad gaan kom nie. Ons kan immers weet wát dit beteken om afhanklik te wees van God op wie ons kan vertrou en in krisistye wéét Hy gaan ons bystaan. Ons het ‘n versekering, ‘n lewenspolis. Jesus bied dit met ‘n belofte aan: “... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.
“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to joy is a plea for help” (Max Lucado).
Gebed: Hemelse Vader, ek erken my geestelike bankrotskap voor U. Ek kan U maar net loof vir onbaatsugtige genade. Ek kan dit nie verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie, al wat ek U kan aanbied, is my dankbaarheid. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en dat ek afhanklik van U mag wees. Ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Gryp ook in die lewens in van hulle wat stukkend is en op die afdraande pad is van selfvernietiging. Amen.

Comments