Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 1 day ago
- 4 min read
Woensdag, 28 Januarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (7)
Hoogmoed pas nie by ‘n Christen nie
Rom. 11:18-22 – “Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou. 19Jy sal wel sê: ‘Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.’ 20Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; 21want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie. 22Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.” (1)
Vergelyk ook Spr. 6:16-17 – “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: 17oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is ...”
In Paulus se beeld van die olyfboom, word dit nou duidelik dat ons as Christene uit die heidennasies, geen rede tot selfverheffing het nie. Ons moet uit “God se goedheid oor ons” dankbaar wees en daarvolgens leef, maan Paulus. Ons het ‘n belangrike verantwoordelikheid wat dit aanbetref. Hoekom? Die God van hemel en aarde het ons lief – ongeag, ten spyte van ...! Ons kan ons met vrymoedigheid losmaak van ons verlede en met oorgawe uitstrek na wat voor is (Fil. 3:13). Die mak olyf se takke is uitgekap (Israel) omdat hulle nie geglo het nie en “as God die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy ons dalk ook nie ontsien nie, en kan ons ook uitgekap word.”
Wat beteken dit in ‘Afrikaans?’ Daar is ‘n bepaalde struktuur in hierdie eenheid. Ons is verbind aan die volk van God van die Ou Testament, ons is by hulle bygevoeg. Die geslag wat Jesus verwerp het, is die takke wat uitgekap is, en die gelowige heidene, (ons), is geënt. Ons het by hulle bygekom op presies dieselfde vlak en met presies dieselfde voorregte as hulle. Dit het die kruis van Jesus gekos. As ons nie in die geloof in Jesus Christus volhard nie, “kan ons ook uitgekap word. Ons moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God.”
Hoogmoed is heelbo op God se lys van dinge wat Hy haat, wat Hy eintlik verafsku. Kyk wat sê die Bybel: “Ek haat hoogmoed en hovaardigheid” (Spr. 8:13); “Die Here het ‘n afsku aan ‘n verwaande mens” (Spr. 16:5); “Julle moet nie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie” (1 Sam. 2:3); “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val” (Spr. 16:18); “Die Here breek die hoogmoedige se huis af” (Spr. 15:25). En dan is dit eintlik geen verrassing nie as Salomo vir ons in Spreuke 6:16-19, “hoogmoed” heel bo aan God se lys plaas. Ons het regtig geen rede om hoogmoedig of verwaand te wees nie, rede tot dankbaarheid is al wat ons wel kan hê. Dankbaarheid vir alles wat God aan ons, onverdiend gegee het.
Hoogmoed laat ons koppe swel en ons breine krimp! Klink dit onlogies? God ken ons. Hy weet hoogmoed laat ons vergeet: “Wanneer jou goud en silwer al hoe meer word, raak jy so hoogmoedig dat jy van God vergeet” (Deut. 8:13-14). Mense is skuldig aan hoogmoed wanneer hulle so seker is van hulle eie vermoëns dat hulle feitlik geen respek vir God of hulle medemens toon nie. Hulle wêreld draai om hulle eie egos. Wat eintlik nodig is, is om weer by die voet van die kruis te gaan staan en te besef dat Hy wat die Almagtige is, wat alles geskep het, het gekies om eerder vir ons te sterf as om sonder ons te leef! As ons dan wil roem of hoogmoedig wees, kom ons roem saam met Paulus: “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).
Jesus wil graag welkom wees in ons lewe. Hy klop en wag dat ons oopmaak en Hom innooi. Hy forseer Homself nie af op enigiemand nie, dis ons elkeen se eie keuse of ons te hoogmoedig en selfverheffend is om sy stem te wil hoor en Hom nie innooi nie. Jesus kom sê vir ons om op te hou agter toe deure van selfverheffing en hoogmoed te leef. Terwyl die hemel se deure vir altyd vir ons oopstaan, kán ons nie ons lewensdeure op slot en grendel plaas en daaragter gaan wegkruip nie. Ons mág nie agter toe deure leef nie. As ons sy stem hoor en die deur oopmaak, sal Hy saam met ons ‘n feesmaal hou (Op. 3:20). Ons moet die deur oopmaak en toelaat dat die lig van die evangelie in ons lewe skyn. Dáároor kan ons weer uitbundige lewensvreugde ervaar sonder enige hoogmoed, en dit uitstraal na ander.
“Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon, kan jy God nie sien nie” (C.S. Lewis).
Gebed: Here, wanneer ek vasklou aan my vernaamheid en my ego só groot raak dat ek God nie meer raaksien nie, wys my deur my geestesoog, hoe U besig is om U dissipels se voete te was. Dankie Here dat ek nie hoef te twyfel of U na my gebed luister nie. Al ken ek my swakhede en weet ek wie ek is, hoef ek nie agter toe deure weg te kruip nie, U weet buitendien wat daaragter aangaan. Amen.

Comments