Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 13 hours ago
- 4 min read
Woensdag, 5 November 2025
Koos Espach
Die verlossing is vir elkeen wat glo (1)
Dit is volbring – die gevolge hiervan sal nooit ophou nie
Rom. 10:4-7 – “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word. 5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: ‘Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim? nie,’ dit is, om Christus af te bring, 7‘of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal? nie,’ dit is, om Christus uit die dood terug te bring.”
Vergelyk ook Joh. 19:30 – “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: ‘Dit is volbring!”
Paulus toon hier aan hoe naby die skat van die evangelie eintlik aan ons is. Wanneer hy dele uit Deuteronomium 30:12-14 aanhaal wys hy vir ons, ons hoef nie ver vir die evangelie te gaan soek nie. Dis onnodig om na die hemel te wil opklim, want Jesus het met Kersfees na ons toe gekom. Net so is dit onnodig om Hom in die onderaardse diepte te gaan soek, want Hy het immers op Paassondag uit die dood opgestaan.
Die ware weg tot vryspraak kán ook nie deur die wet verkry word nie, want die wet is nie gegee as ‘n middel om die saligheid mee te verdien nie, soos Paulus se volksgenote verkeerdelik gedink het. “Christus is tog die einde van die wet” in hierdie sin. Dit beteken egter nie dat Hy die wet ophef nie. Nee, Christus het volkome aan die eise van die wet voldoen en die veroordelende straf wat die oortreding van die wet meebring, gedra toe Hy aan die kruis met sy laaste asem uitgestotter het: “Dit is volbring!”
Ons sondeskuld is ten volle betaal toe Hy aan die kruis vasgespyker is. Geen gelowige in Christus hoef ooit weer te vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” nie, Jesus het dit volbring, volkome, vir eens en vir altyd; tetelestai – dis afgehandel! Wie Christus se verdienste aanvaar, ondervind die wet nie meer as ’n oormagtige vyand of neerdrukkend of selfs beperkend nie, maar as die wegwyser, die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te kan geniet. Dit word dan “die wet wat vry maak,” vir ’n bevryde lewe.
Wie dié wet as ‘n wegwyser moedswillig verontagsaam, moet egter weet dat dit ’n blywende maatstaf is waaraan sy of haar lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of hy/sy werklik vrygemaak is en of hulle begryp het wat daardie vryheid behels. Hoor wat sê Paulus: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy (sy) tydens sy (hulle) aardse lewe gedoen het , of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10).
Daar is dus net één weg oop tot vryspraak: Die omhelsing van Christus deur die geloof want Christus is die doel, die vervulling en die samevatting van die wet. Wie sy of haar eie vryspraak wil bewerkstellig, moet besef dat hulle die hele wet volkome sal moet onderhou, en dit is menslik onmoontlik. Géén mens kon die wet volkome en in alle opsigte uitvoer of onderhou sedert God dit duisende jare gelede op die Sinaiberg aan Moses aangekondig het nie (Eks. 20:1). Dit is die fout wat die Jode gemaak het – hulle het gedink dat ‘n mens eers in eie krag die wil van God moet doen om die lewe as beloning te kan ontvang, en eintlik het hulle daardeur die oordeel op hulleself gebring. Die evangelie was baie nader aan hulle as wat hulle gedink het, as hulle dit maar net wou aanvaar.
Ons moet Jesus Christus net as Verlosser aanneem en in Hom glo. Jesus het nie halwe werk gedoen nie, Hy het gesê “dit is volbring” en dis genoeg, tot in alle ewigheid! Ongelukkig is daar mense wat gevange gehou word deur hulle godsdiens – ‘n godsdiens wat gaan oor iets wat jy moet doen om jou god tevrede te stel; om sy guns te wen; om te keer dat hy jou straf; om seker te maak hy sal vir jou goed wees?
Ons Christengelowiges se God werk nie met ‘n sterretjiestelsel nie – “As jy nou die hele week mooi soet is en al jou godsdienstige takies doen, dan kry jy ‘n beloning Sondag!” Ons het klaar ons beloning ontvang. Jesus het alles opgeoffer vir my en jou. In sy Hoëpriesterlike gebed aan die einde van sy drie jaar lange bediening kon Jesus sê: “Ek het U op die aarde verheerlik deur ‘die werk te volbring’ wat U My gegee het om te doen” (Joh. 17:4). Daarom kon Hy met sy kruisdood sê: “Dit is volbring!” Met hierdie woorde het Jesus die waarheid van my en jou verlossing onthul. Alles wat nodig was vir die mens, vir my en jou redding, is hier aan die kruis volbring. Glo dit, bely dit. Dit moet ons ‘voedsel’ wees, die krag van ons lewe – elke dag!
“Deur Jesus se versoening aan die kruis het God nie net ons sonde in die diepte van die see weggewerp nie; Hy het selfs ‘n kennisgewing daarby laat opsit: ‘Visvang verbode” (Dwight L Moody).
Gebed: Dankie Jesus, dat U volkome aan God se eise voldoen het, dit volbring het, afgehandel het vir alle ewigheid en ek daardeur my beloning by U kon ontvang het reeds by die kruis. In dankbaarheid gee ek myself weer opnuut aan U. Help my om my lewenstaak op aarde uit te leef, ek met ‘n Christushart sal liefhê en my hande nie moeg sal word om U wil te doen nie. Amen.

Comments