top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 15 hours ago
  • 4 min read

Vrydag, 31 Oktober 2025

Koos Espach


Israel en die evangelie (3)

 

Die regte insig


Rom. 10:1-4 – “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.”

 

Vergelyk ook Matt. 5:17 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ...”

 

Paulus se vurige verlange dat sy Joodse broers (en susters), gered word deur geloof in Christus, het soms geklink asof hy in konflik met hulle is. Sy brief aan die Christen-gemeente in Rome, (veral vanaf Romeine 9), is deurspek met waarhede wat hulle nie wou hoor of aanvaar nie. Die fout wat Israel gemaak het, was om op hulle eie manier vryspraak te probeer kry, “hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie.”

 

Hulle het tevergeefs deur die onderhouding van die wet vryspraak probeer kry. Hulle het God se guns probeer wen om ‘n goeie lewe te lei deur die wet tot op die letter te onderhou, en eintlik nie besef dat hulle nóóit goed genoeg kan wees nie. Hulle was oortuig dat die betekenis van die wet juis was dat God met hulle tevrede sou wees, indien hulle die wet kon onderhou. Hulle wou nie besef dat daar geen alternatief is vir God se vryspraak nie. By hulle was dit ‘n hoogs emosionele saak, dat die vryspraak wat verkry word alleen deur geloof in Christus Jesus is, en dít wou hulle nie aanvaar nie!

 

Wat Paulus hier wil beklemtoon, is dat Israel aan die wet ’n betekenis toegeskryf het wat God nie bedoel het nie, en so in wettisisme verstrik geraak het. “Hulle wou niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle het probeer om dit op hulle eie manier te kry”, deur hulle te onderwerp aan wetsgehoorsaamheid. Hulle het hulle nie gesteur aan die feit dat geloof beteken om jou te onderwerp aan wat God uit genade in Christus met die mens wil doen nie. Hulle kon of wou nie insien dat Christus, in werklikheid die einddoel van die wet is waarvoor hulle hulle so beywer het nie.

 

Wat is dan die regte beginsel? Is die wet van God nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Daarom kan die wet veeleer as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir onsself sodat verkeerde begeertes nie beheer van ons neem nie. Jesus het nie die wet kom vervang nie, maar wel sekere aspekte daarvan wat glad nie by die wet gehoort het nie wat later bygevoeg is deur die skrifgeleerdes, en sodoende die wet verwring het.

 

Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul! God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die “padkaart” wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as sy verbondskinders is. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie. Dis ‘n wet van liefde, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Dit beteken om nie net met mooi godsdienstige woorde ons wetsgehoorsaamheid aan te prys nie maar om in ‘n persoonlike en innige gemeenskapverhouding met God te leef – om getrou te bly aan die God van die wet.

 

Dit is egter nie so maklik nie! Ons moet wegkom van die idee dat ons ooit met God kan regmaak op grond van ons gehoorsaamheid. Trouens, wie van ons sou ooit in staat wees om God en sy wet perfek te gehoorsaam? Jakobus bevestig dit: “As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie” (Jak. 2:10). En saam met Paulus erken ons dat die sonde ‘n vastrapplek in ons lewe gekry het: ”Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer met die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is” (Rom. 7:21-23). God se doel is nie om ons perfek te maak nie; Hy bring my en jou by ‘n plek waar Hy ons kan gebruik. Laat Hom doen soos Hý wil!

 

“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die naastes insluit in die gebod van die naasteliefde” (Prof. Dirkie Smit). 

 

Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. U staan in die middelpunt van my lewe. U wil en wet bepaal my sedes. Ek behoort anders te wees, maar Here, ek staan skuldig voor U en sou ek eintlik op pad wees verderf toe. Dankie, dankie, dankie, vir U genadegawe van die ewige lewe wat U aan my gee in Christus Jesus, ons Here. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page