top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 13 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 29 Oktober 2025

Koos Espach


Israel en die evangelie (2)

 

‘n Ope uitnodiging


Rom. 9:32-33 – “Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel 33waarvan daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.”

 

Vergelyk ook Matt. 21:42-44 – “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë. 43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer. 44‘Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

 

“Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.” Hierdie woorde van Jesus het eintlik ‘n aaklige geskiedenis daaragter. Vir eeue lank het God deur verskeie profete, by sy verbondsvolk gepleit om aan Hom getrou te wees. Die volk het een na die ander Ou Testamentiese profete se pleidooie wat hulle na die Here toe probeer terugroep het, geïgnoreer. Ten einde laaste het God geduldig, steeds probeer om hulle tot ander insigte te bring, deur nóg twee profete te stuur. En wat maak die volksleiers met hulle? Johannes die Doper wat by die volk gepleit het om “hulle te bekeer, want die koninkryk van God het naby hulle gekom” (Matt. 3:2), se onthoofde kop het hulle gebruik om ‘n ete te versier.

 

Die belangrikste Profeet, Jesus, het daarna voortgegaan om dieselfde boodskap van “die volk wat hulle moet bekeer, want die koninkryk van die hemel (God) het naby gekom” (Matt. 4:17) te preek. Hy het aanvanklik, selfs saam met sy twaalf dissipels, hulle beywer om eers die boodskap aan “die verlore skape van die volk Israel” (Matt. 10:5-6) te bring. Jesus het ernstig onder die volk gewerk, want “God het Hom na hulle toe gestuur” (Matt. 15:24). Dit het egter geleidelik duidelik geword dat die volksleiers Hom verwerp het: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis die belangrikste klip in die gebou was.” 

 

Dit het vir God duidelik geword dat Hy nie meer in ‘n spesiale verhouding met hulle kon leef nie. Hulle keuse om “die belangrikste klip” af te keur, het tot gevolg gehad dat hulle nie langer die uitverkore volk van God sou wees nie. Paulus bevestig dit deur meer sout in hulle sondige wonde in te vryf: “Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel ...”

 

Hoe dieper Jesus in liefdevolle diensbaarheid tot die verbondsvolk neergebuig het, hoe hoër het hulle leiers se haat en minagting teenoor Hom gestyg. “Daarom dat die koninkryk van God van hulle weggeneem is en aan ‘n volk gegee is wat die vrugte daarvan sal lewer.” Met die Jode het dit toe gebeur. Die Joodse godsdiens het inmekaar getuimel omdat die volksleiers Jesus verwerp het en die tempel word in 70 n.C. as bevestiging hiervan, verwoes. God hét die wingerd aan ander gegee, wat Hom op die regte tyd sy vrug gee. Joodse gelowiges in Jesus Christus, en ál die gelowiges uit ander nasies wat deur hulle getuienis deel van God se volk geword het, het die wingerd van God ontvang.

 

Wat beteken dit vir my en jou? Wie kan ‘n burger van hiérdie koninkryk van God word? Enigiemand! Élkeen wat hulle vertroue in God stel en Hom gehoorsaam, élkeen wat “die belangrikste klip in die koninkryk van God” aanvaar en in Hom glo, het ‘n ope uitnodiging: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; en elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op. 22:17). God se genade sluit niemand uit nie en die goeie nuus is, dis grensloos, dis verniet! God het gesê “Hy sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.” 

 

God het vir elke mens die keuse bewerkstellig. Hy “is die versoening nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:2). Vir dié wat steeds hardkoppig hulle eie koninkrykie bou met hulle eie klippies, en hulle nié aan die liefdevolle wil van God onderwerp nie, waarsku Jesus: “Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.” Eina! Dit klink nie lekker nie, maar grusaam! Tog moet ons dit vir mekaar sê: As ek en jy nie aan God se kant is nie, as ons nie vir Jesus die hoeksteen van ons lewe maak nie, is ons aan die verkeerde kant van God – die gevaar kant!

 

Ons kan hierdie waarskuwing van Jesus maar ter harte neem. Ons moet seker maak dat in alles wat ons aanpak ’n stewige hoeksteen gelê word en seker maak dat dit niemand anders as die Lewende Jesus is nie. Maak nie saak hoe erg die storm daar buite is en vir wie wolf nog gaan soek om te help blaas nie. Ons huisie sal nie om foeter of uitmekaar val nie, want “die Hoeksteen” Jesus Christus hou dit styf vas.

 

“Waar God ook al in ‘n mensehart as koning regeer, daar is die koninkryk van God gevestig” (Paul W Harrison).

 

Gebed: My Verlosser Here, help my om U nougeset te gehoorsaam. Ek wil graag ‘n “lewende steen wees, opgebou tot ‘n geestelike huis in Christus, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus, vir U welgevallig is” (1 Pet. 2:5). Alleen sal ek dit nie kan vermag nie, maar “ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:13). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page