top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (13) – INSTELLING VAN DIE NAGMAAL!

(Vergelyk ook Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25)


Matt. 26:26-28 – “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: ‘Neem, eet; dit is my liggaam. Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”


Vergelyk ook 1 Kor. 11:23-25 – “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is My liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”


Jesus weet Hy is op Sy lydenspad en daarom het Hy verlang om hierdie laaste keer die pasga saam met die dissipels te vier, en die geleentheid te hê om hulle voor te berei vir die tyd dat Hy in die vlees van hulle geskei sou wees. Die Donderdagaand toe die tyd van die maaltyd aangebreek het, tree Jesus op as die “huisvader” en sorg Hy dat alles geskied volgens die vasgestelde voorskrifte. Hy handel koninklik as die beskikker oor alles, en ook met voorkennis soos ’n profeet.


Op ’n bepaalde tydstip het Hy die brood geneem, ’n seën- en dankgebed gedoen en dit op ’n besondere wyse gebreek en aan die dissipels gegee. Daarby verklaar Hy dat, net soos die brood gebreek en deur hulle genuttig word, sy liggaam beskikbaar gestel sal word tot heil van sy volgelinge: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie” (Joh. 6:35a).


Nadat almal van die brood geëet het, neem Hy die beker van danksegging, spreek die danksegging uit, en gee dit aan hulle dat almal daaruit kan drink. Deur in tafelgemeenskap te deel, en van dieselfde brood en beker te gebruik, word die dissipels saamgesnoer tot ’n hegte eenheid, ’n nuwe volk van God wat met die Here en met mekaar in die nouste verbondenheid verkeer. Die eenheid het sy grond in die feit dat die Here ’n nuwe testament tot stand gebring het deur sy eie bloed, waarvan die wyn die teken is: “Wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 6:35b).


Aangesien dit ’n paasmaal was, is daar ’n sterk toespeling op die gebeurtenisse by die eerste pasga in Egipte. Daar was die liggaam (vleis) van die lam uitgedeel as voedsel, en die bloed aan die deurkosyne gesmeer om die volk te vrywaar teen die dood. Deur hierdie tekens het God destyds Sy volk vergader en hulle uitgelei uit die slawehuis na die vryheid van die beloofde land. Tans, in die dag van vervulling, word die nagmaal as ’n nuwe instelling gegee, om te herinner aan ’n nuwe verbondsluiting en die verlossing van baie mense uit die “Egipte van sondaarsdood.” Jesus gee Sy eie liggaam en bloed vir die behoud van Sy volk. Hierdie volk is nie meer ’n bepaalde nasie nie, maar almal wat in Hom glo, die nuwe Israel, wat uitgelei word uit die slawediens van die sonde na die vryheid van die kindskap van God.


Die pasga kry vanself nou ’n nuwe gestalte soos dit in die nagmaal voortleef, en dit word herhaal tot gedagtenis aan die Lam wat geslag is vir die behoud van álle gelowiges in Christus Jesus! So is die nagmaal nie net maar `n ete waar ons 'n stukkie brood en `n slukkie wyn kry nie. Die nagmaal is ‘n ete waardeur ons ons verbintenis toon. Ons verbind ons geestelik aan die liggaam van Christus; ons kry deel aan Christus deur die geloof, deur die werking van die Heilige Gees; dit versterk ons geestelike eenheid met God in Christus.


Met nagmaal erken ons dat ons glo dat Jesus Christus juis na die aarde toe gekom het om ons van ons sondeskuld te kom verlos. Elke keer wanneer ons deelneem aan die nagmaal erken ons daarmee dat ons met ons hele hart en siel glo dat ons sondes vergewe is deur Jesus Christus se kruisiging. Ons verkondig hierdie waarheid áltyd aan die mense van die wêreld, nie nét tydens nagmaaltye, dat hulle ook vrygespreek sal word indien hulle in Jesus Christus sou glo.


Die nagmaal behoort met `n gesindheid van selfondersoek gevier te word. Jy moet jouself ondersoek of jy werklik hierdie dinge glo? Jy moet jouself afvra of daar sonde tussen jou en God staan wat jy nog nie voor Hom bely het nie? Jy moet jou hart voor die Here oopmaak sodat jy sonder valsheid voor hom staan: “Maar elkeen moet homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself” (1 Kor. 11:28-29). Indien ons dus waak oor die waardige gebruik van die nagmaal, kan ons dan voorberei op die ewige geluksaligheid wat ons in die hiernamaals sal smaak: “Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is” (Op. 19:9).


“’n Mens het twee monde: Die mond van jou maag en die mond van jou siel – jou geloof! As jy met die mond van jou maag die brood eet en die wyn drink, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in” (Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie Jesus dat U bereid was om U liggaam vir my sondes te breek; bereid was om U bloed te stort sodat God my kan vergewe. Dankie dat U my elke keer wanneer ek nagmaal gebruik, herinner dat ek ‘n sondaar is, maar Goddank, dat ek vergewe is. Dankie Vader, dat mense nie die Weg, die Waarheid en die Lewe, kon doodkry nie, daarom hoef ek nie die vyand te vrees nie. Dankie goedertierende Vader dat U aan my U kostelike skat, die ware hemelse brood en die spys van die ewige lewe, deur U heilge sakrament, gegee het sodat ek deelagtig kon word in Sy verlossing. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page