top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (10) – DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM!


Joh. 12:23-26 – “Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.”


Vergelyk ook 2 Kor. 5:14 – “Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterf het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”


Die Joodse leiers het reeds amptelik besluit dat Jesus moet sterf. Hulle was glad nie beïndruk wat “Palmsondag” gebeur het nie want vir hulle lyk dit of die hele wêreld nou “agter Jesus aangaan” (Joh. 12:19). Tydens die hele intog in Jerusalem in, is Jesus stil. Die tyd van Sy verheerliking het aangebreek, maar nie om deur skares toegejuig te word nie. Sy verheerliking daarenteen, loop langs die weg van die kruis. In hierdie lig gesien, is dit nie ’n losstaande voorval hierdie nie, maar vorm dit ’n wesenlike deel van Jesus se lydenspad, die verhaal van vernedering na verheerliking.


Sy kruisdood en Sy opstanding, Sy sterwe en Sy verheerliking! Wat beteken dit? Die koringkorrel sterf, ‘n pragtige koringplant kom daaruit voort en ‘n groot koringoes volg. Jesus se sterwe en opstanding sal ‘n groot oes tot gevolg bring omdat Hy miljoene mense vanuit alle nasies vir God losgekoop het met Sy bloed. As Christene glo en bely ons ook dat ons eendag sal opstaan want Jesus se opstanding is vir almal wat in Jesus Christus glo, ‘n waarborg dat ons ook eendag uit die graf sal opstaan om vir ewig te lewe.


Jesus se opstanding en ons opstanding is egter nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan ééndag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut van Jesus se opstanding vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord: “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol. 3:9-10). Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan – ons moet dus elke dag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes begrawe, en as ‘n nuwe mens soggens opstaan.


Wat Jesus gedoen het, het Hy vir elke gelowige wat in Hom glo, gedoen. Hy stuur ons nêrens sonder die nodige aanwysings nie. Wanneer Hy ‘n taak aan ons opdra, los Hy ons nie maar net aan ons lot van menslike swakheid oor nie, hy gee ons die nodige insig en krag om dit te voltooi. Hy bemagtig ons gewone mense wat daagliks met hulle eie selfsugtigheid stry, om op Sy triomftog te loop terwyl satan maar net magteloos kan toekyk. Ons moet egter bereid wees om aan onsself te sterf soos die koringkorrel. Satan se besetting van die mens word dan opgehef en ons “ontkiem” in ‘n nuwe mens wat die blyplek word van die Heilige Gees – “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en die dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 6:19). Ons is nou in Christus – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor. 5:17) en in die Gees – “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13).


Om in die geestelike lewe waarlik ‘n volgeling van Jesus te wil wees, moet ek sterf aan myself sodat die ou lewe, die ou nature, uit die pad kan kom sodat die opstandingslewe van Jesus Christus in en deur my kan werk. Ons is dan ingesluit by Jesus se lydensweg na die kruis, Sy “koringkorrelsterwe”, Sy opstanding, Sy oes. Ons moet net naby genoeg aan Jesus beweeg, dan sal ons Sy woorde hoor – “waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees.” Ons is ingesluit by Hom! “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Rom. 6:6 en 8).


Wat het ek nodig om my sluimerende geloofslewe te laat groei – wat sou moes sterf in my sodat ek in hierdie lewe, ‘n voller lewe kan lei? Om te kan groei het die saad son, water en voedingstof nodig – alles verkrygbaar by die “hemel se Koöporasie.” Wanneer ons die “ontkieming” van ons eie lewe in oënskou neem, moet dit nie gaan oor jóú geloof in plaas van jou gelóóf nie. Luister, glo en Leef!


“Jesus gee nie vir ons ‘n resep om die weg na God aan te wys – soos leiers van ander godsdienste doen – nie. Hy is self die Weg” (Karl Barth).


Gebed: Dankie Heer dat U my verseker dat die lewe oor die dood triomfeer, dat ek nóú moet leef want die dood van ‘n Christen-gelowige, is eintlik net nog ‘n fase van die lewe. Heilige Jesus, help my om deur U Gees ontslae te raak van ‘n sluimerende geloofslewe. Maak my bereid om U te volg en U te dien met alles wat ek is en het. Laat my ontkiem sodat ek kan vrug dra wat U behaag. Dankie dat my daaglikse struikelinge en dwaashede my nie uit U hand sal ruk nie want ek glo “ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal. 2:4b). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page