top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (2) – HERE, AS U HIER WAS ...!


Joh. 11:17-22 – “Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer ... ; Toe Marta hoor dat Jesus kom. Het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. Marta sê toe vir Jesus: ‘Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”


Vergelyk ook Ps. 30:9-10 – “Ek het na U geroep, Here. Ek het U om genade gesmeek: ‘Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit U trou verkondig?”


Jesus is op pad na Jerusalem en kom vier dae later in Betanië aan. Op pad na die susters se huis, gaan Marta, die aktiewe suster, om Jesus op die pad te ontmoet, terwyl die stille, nadenkende Maria in haar droefheid tuis bly sit. “Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan” en haar woorde aan Jesus spreek van verwytende vertroue: vertroue omdat sy weet Jesus iets sou kon doen as Hy daar was en miskien verwytend omdat Hy nie betyds gekom het nie. Maar tog is haar geloof só groot dat sy glo, Jesus iets sal kan doen want sy “weet dat God Jesus alles sal gee wat Hy van God vra.” Sy stel dit ruim: “alles” is binne die bereik van Jesus, deur die werking van God.


Jesus het Homself doelbewus nie na Betánië gehaas nie en dan is dit moontlik dat ‘n mens sal aflei Hy het doelbewus toegelaat dat Lasarus sterf. Dit is menslik om te wonder waarom Jesus sy tyd geneem het? Waarom het Hy nie uit liefde onmiddellik gegaan nie? Martha en Maria het seker desperaat gewonder waar Jesus is? “Waarom het Hy nie gekom om te help nie? Hy weet hoe ernstig hierdie saak is en Hy is minder as ‘n dagreis ver. As Hy ons liefhet, waarom talm Hy? Hy kon ander genees maar nie ons broer nie, ons is tog soos familie van Hom. Jesus kon enige tyd ‘n woord gespreek het en Sy vriend selfs vanaf ‘n afstand genees het. Hy het dit tevore al gedoen.”


Dis nie die eerste keer dat Jesus se reaksie vreemd lyk nie (Joh. 2:1-11; 7:1-10). Maar, soos altyd, is dit duidelik dat Jesus nie sy pad deur ander gaan laat bepaal nie – selfs nie deur Sy geliefde vriende nie. Selfs nie eers wanneer Marta en Maria ‘n sterk appél op Jesus se gevoelens wou maak nie: “Here, hy vir wie U lief is, is siek” (11:3b). Maria en Marta se hulpkreet eggo vandag nog by baie Christene – “Hy vir wie U lief is, het kanker” – “Sy vir wie U lief is, is dood.” Die reaksie van Jesus gaan oor “die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” want Jesus het ons oneindig lief. Geen mens se siekte het die dood as doel nie, maar wel die lewe. Is dit nie 'n verrassende, bevrydende manier van kyk na aaklige goed soos siekte en dood nie? Wanneer óns daarna kyk, is alles somber en katastrofies, maar die Here Jesus keer dit om!


Is dit nie die stryd wat soveel Christengelowiges dikwels beleef nie? Is dit nie vrae wat mense vandag nog algemeen vra nie? “Hy het toegelaat dat ek siek word; Hy het toegelaat dat my geliefde sterf; Hy het hierdie of daardie ramp in my lewe toegelaat; talle mense het saam met ons gebid, maar Hy het Hom oënskynlik nie daaraan gesteur nie. Die hemel het geslote gebly! Luister die Here dan nie na my nie? Hoe moet ek hierdie liefde van Hom verstaan? Waarom red God ander, maar nie vir my nie?” Die fokus van die siekte is nie die dood nie – selfs al sterf jy ook – maar die openbaarmaking van die wonderlike mag van God en sodat mense hulle sal verstom oor wie Jesus is. Van twee dinge kan ons absoluut seker wees: dat jy eendag sal doodgaan en dat jy, indien jy in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe!


Wanneer siekte of dood 'n kind van die Here tref, dryf dit jou nie wég van God of gebed nie, maar trek jou juis nader. Dwarsdeur al die pyn, trane en verdwaasdheid, vind daar 'n opbouproses plaas want God het ’n groter prentjie en ’n beter gebedsverhoring in gedagte. Soms verander die Here ons rigting, maar Goddank, nooit ons bestemming nie! Wanneer dit voel of die Vader nie ons gebede verhoor soos wat ons dit wil hê nie, dan doen Hy dit omdat Hy iets veel beter, mooier en groter beplan! Moenie twyfel aan Jesus se innige liefde vir jou nie! Ons vrymoedigheid om ons behoeftes aan Hom bekend te maak, moet nooit minder word nie. Bid sonder ophou! Ons bid nie SODAT ons iets kan ontvang nie, ons bid OMDAT ons reeds ontvang het. God daag altyd op, eintlik is God reeds daar, ons moet Hom net “sien.”


“Die Groot Geneesheer ken Sy pasiënte só goed dat Hy nooit verkeerde medisyne van die rak haal nie” (Maretha Maartens).


Gebed: Here, ek bely dat ek ook al my blind gestaar het aan my probleme eerder as om U wat groter is as enige siekte of selfs die dood, raak te sien. Ek het ook al gewonder hoekom U nie ingryp en my genees nie want as ek gesond is kan ek U mos beter dien. Maar dan moet ek erken dat U weer en weer vir my gewys het dat U tog ‘n doel daarmee het: om ‘n omgee mens te wees vir ander siek mense; om my onvermoë en U groot krag soveel beter te besef want U gee meer as wat ek vra; om my nader na U toe te neem want U het my lief; om my geloof en vertroue in U nóóit te laat vaar nie. Dankie dat ek elke keer as ‘n kragtiger getuie daaruit kan tree en ander te nooi: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb 4:16). Ek hoef nie verwytend te sê: “Here, as U hier was ...” nie. U is reeds daar waar ek U die nodigste het! Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page