top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (1) – TERUG NA JERUSALEM IN GOD SE GEGEWE TYD!


Joh. 11:6-10 – “Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir Sy dissipels gesê: ‘Kom ons gaan terug na Judea toe.’ Die dissipels sê toe vir Hom: ‘Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?’ Jesus het geantwoord: ‘Is daar nie twaalf uur in ‘n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”


Vergelyk ook Ef. 5:16 – “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”


Nadat Jesus die berig van Lasarus se siekte ontvang het, bly Hy “egter nog twee dae” in Perea, oorkant die Jordaan. Daar was ’n bewuste opset in Jesus se optrede. Teenoor die besorgdheid en die droefheid van sy vriende in Betanië staan Hy nie onverskillig nie, maar Hy vertraag sy ingryping totdat die regte tydstip gekom het. Wanneer die regte tyd gekom het, en die heerlikheid van God nou meer glorieryk geopenbaar kan word, sê Jesus aan sy dissipels dat Hy na Judea wil teruggaan. Van Lasarus maak hy nie melding nie, en dit wil voorkom asof die dissipels ook nie meer aan die sieke dink nie.


Beleef spreek hulle Jesus aan as “Rabbi” en wys op die gevaar wat in Judea op hulle wag. Daar wou die Jode, die lede van die Joodse Raad wat die mag in die hande het, sommer nog onlangs, Jesus stenig. Vir Jesus was dit dus ’n waagstuk om na Judea te gaan. Tog is Hy daarvan bewus en juis omdat Hy weet wat daar vir Hom wag, is Hy bereid om te gaan en so die heilsplan van die Vader tot uitvoering te bring. Jesus het ‘n vasgestelde tydperk, ’n “werkdag”, waarin Hy sy Middelaarstaak moet voltooi. Sy “twaalf uur” van die werkdag was nog nie verstreke nie, en daarom hoef Hy nie die dreigende gevaar te vrees nie. Elke sekonde is Godgegewe tyd, “Maak die beste gebruik van elke geleentheid”, ons sal nooit méér tyd het as wat ons nóú het nie.


Ons kom agter dat die dissipels nie baie lus was om terug te gaan na Judea nie. Die gevaar wat Judea vir Jesus ingehou het, word op die voorgrond gestel: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” Hulle is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie en Betanië wat net 3km vanaf Jerusalem is, was net te naby aan Jerusalem vir hulle gevoel. Tomas is oortuig dat die Jode Jesus sal doodmaak as hulle Hom gevange kan neem, tog is hy bereid om Jesus te volg. Sy opmerking, “Kom ons gaan ook sodat ons saam met Hom kan sterwe,” (11:16), grens aan swartgalligheid maar is tog ironies: Die sterwe van Jesus sou juis die lewe vir Sy volgelinge bring, “nie een van hulle sal uit Sy hand geruk word nie” (10:28-29).


Jesus het gekom as die Lig van die wêreld. Iemand wat in die nag loop, struikel “omdat hy nie die lig het nie”, omdat die lig nie in hom is nie. Hier gaan dit om die geestelike lig wat deur Jesus, die Lig van die wêreld, gebring word. Iemand wat daardie lig nie “in hom” opgeneem het deur die geloof nie, verkeer in die geestelike duisternis en kom tot ’n val. Maak tyd vir die Lig van die wêreld, dit is die enigste standhoudende belegging. In die woorde van Paulus is ons God se geliefde en niks, nie eens ons dood, kan ons skei van God se liefde vir ons in Jesus Christus nie (Rom. 8:37-39).


Tyd is altyd iets wat ons besit, elke persoon ontvang elke dag ewe veel daarvan, net 24 uur. Ongelukkig is daar nét 24 uur in een dag, daar is nie tyd om dit te verspil nie. Die feit dat daar net 24 uur per dag is, vind ons dat dié mense wat die minste tyd het, het gewoonlik die meeste te doen, en dié wat niks te doen het nie, het nooit tyd nie. Baie van ons bestee ons tyd asof die goeie lewe eers in die toekoms gaan begin – alles gaan wonderlik wees as ek eers genoeg geld het om ... ; alles sal beter gaan wanneer ons eers ons eie ... ; alles sal eendag ... . Maar die lewe begin nie môre nie, die tyd om te lewe is nóú! Ons moet ons tyd gebruik, want elke oomblik is ‘n wonderwerk wat nie weer sal gebeur nie. Dit is nuttig om te onthou, veral wanneer ons besig is met hoe ons lyk, wat ons besit en wat ander van ons dink, ons gaan nie vir ewig op hierdie aarde wees nie.


"Finish your greatest work; finish the work of getting yourself right with God while you have the light of the world; for the time comes when for you, too, the dark must come down and then it will be too late. There is glory for being in time and tragedy of being to late"

(William Barclay).


Gebed: Dankie hemelse Vader vir die 24 ure van elke dag wat U my gee om my dag mee vol te maak. Help my om te besef presies hóé kosbaar hierdie tyd is wat ek tot my beskikking het. Help my dat ek dit ten beste kan benut. Here Jesus, U het met mens-spoed tydens U aardse verblyf beweeg – die spoed van, kreupeles, blindes, selfs van die dooies. Dankie dat U so stadig beweeg het dat ek U kon inhaal. Dankie dat ek saam met U op U pad en U tyd kan stap want U pad, lei immers êrens heen. Help hulle wat nie kan byhou nie en ander paaie vat wat nêrens heen lei nie, wag vir hulle sodat hulle ook U kan inhaal. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page