top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEKRUISIG (6) – SUIWERSTE LIEFDE!

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)


Joh. 19:25-27 – “By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster (Salome) en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: ‘Daar is u seun.’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Daar is jou moeder.’ Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Derde kruiswoord).


Vergelyk ook 1 Pet. 5:7 – “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”


In die uur van sy bittere lyding en in Sy benewelde toestand van pyn, gaan Jesus se liefde uit na sy moeder in haar diepe, rouvolle smart. Toe Hy gebore is, is vir haar by die tempel gesê dat ’n swaard deur haar siel sou gaan (Luk. 2:35), en nou gebeur dit ook. Al kan Jesus in die menslike sin niks vir haar doen nie, sorg Hy tog dat sy versorg sal word. Voorheen het Hy haar laat verstaan dat sy nie in die weg mag staan van die uitvoering van sy Middelaarstaak nie (Luk. 2:49; Matt. 12:48; Joh. 2:4). Ook nou moet sy in Hom meer sien as net haar seun en daarom vertroos wees. Hy wys Johannes aan as die dissipel wat voortaan vir haar ’n seun sal wees, en Johannes word opdrag gegee om haar te versorg soos ’n seun, sy moeder versorg. Johannes het hierdie versoek aangeneem en waar hy ook al gewoon het, het hy Maria, die moeder van Jesus, getrou en liefdevol versorg.


Verbasend dat Jesus nie sy broers vra om verder om te sien na hulle moeder nie. Dit is immers die tweede oudste seun se verantwoordelikheid. Hy vra egter nie Sy aardse gesin nie maar Sy geestelike broer – die belangrikste gesinslede is nie die aardse nie, maar die hemelse. Sy ma is deel van die hemelse gesin wat Jesus op aarde kom stig het deur aan mense die ewige lewe te gee: “My skape luister na My stem ... Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28). Dit is elke gelowige in Christus, se lewenspolis. Jesus openbaar hier ‘n stuk van God se hart wat vir ons baie kosbaar is – ons verantwoordelikhede om ons ouers te eer en oor hulle besorg te wees tot die dood!


Wie sal ooit die smart van Maria verstaan toe sy haar Seun so sien ly, ‘n moeder wie se hart stukkend geruk word om te sien hoe haar Seun sterf? Selfs Jesus is op daardie stadium as mens magteloos om Sy moeder so te sien rou en Hy haar nie eers kan vertroos nie. Sy uitgestrekte arms wat vertroostend om haar gevou moet wees, hang kragteloos vasgespyker aan ‘n vloekhout. In Sy sterwensoomblik fluister Hy: “Daar is u seun”, van nou af kan hy vir wie Ek lief is, lief wees vir jou. Hy kan jou vertel van My, jou vertroos in jou smart, vir jou sorg, jou eer. “Johannes, daar is jou moeder.” Sy is die een wie Ek liefhet, wie My versorg het, getroos het, My gevoed het, My seerkry plekkies weer reg gesoen het en My trane sommer met haar sagte hande weggevee het. ‘n Moeder wat die hart van ‘n seun verstaan! Wees lief vir haar!


Terwyl Jesus hulpeloos daar aan die kruis gehang het, het Hy Sy groot liefde vir die mensdom uitgestort. Dit is ‘n liefde wat nie net tot die geestelike voordeel van mense geskenk word nie, maar ‘n liefde wat ook voorsiening maak vir ons behoeftes. Daar by die kruis aan die voete van Jesus, leer Hy ons dat ons moet omgee vir mekaar, daar te wees vir mekaar, om met Christusharte in liefde met ander saam te leef: “Daar is u seun; daar is jou moeder” geld vandag nog. Elke mens het ‘n behoefte dat iemand vir hom of haar sal lief wees. Jesus nooi ons uit om daardie “iemand” te wees vir iemand. In Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is, raak. Sy empatie en liefde vir ons, bind ons aanmekaar en daarom moet ons Sy opdrag uitvoer: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” (Joh. 15:12).


“Alle mense het ‘n diepste verlange in die hart om liefgehê te wees sonder om vir daardie liefde te kwalifiseer. Los dit vir die Here om mense te verander, ons verantwoordelikheid is om vir hulle lief te wees” (Paul Tournier).


Gebed: Ek dank U Here Jesus, vir die voorbeeld wat U vir my gestel het. Selfs in U oomblik van verskriklikste pyn, het U steeds aan my gedink. Skenk my daardie verantwoordelikheid om vir ander lief te wees; ons hartseer en pyn, maar ook ons vreugdes en oorwinnings met mekaar te deel; mekaar te bemoedig; vir mekaar te bid, te ondersteun en mekaar te help; mekaar te vergewe, moed in te praat. Dankie vir “die troos wat ek in U ondervind, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur U Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe” (Fil. 2:1-2). Amen.


Recent Posts