E-Kerk : Gedagte vir Vandag

JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD (2) – OMGEKOOP!
(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)
Joh. 19:5-7 – “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dit is die mens!’ Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: ‘Kruisig hom! Kruisig hom!’ ‘Vat júlle hom en kruisig hom,’ sê Pilatus vir hulle, ‘want ék vind geen skuld in hom nie.’ Die Jode sê toe vir hom: ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
Vergelyk ook Matt. 26:63-64 – “Die hoëpriester sê toe vir Hom: ‘Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?’ ‘Jesus antwoord hom: ‘Dit is soos u sê.”
Pilatus het gehoop om by die Jode meegevoel vir Jesus te wek deur Hom in daardie gemartelde en bespotte toestand voor hulle te laat verskyn, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking. Die haat vlam op in al sy felheid. Die owerpriesters en hulle geregsdienaars hef die kreet aan: “Kruisig hom!” en die volk sluit hulle daarby aan. Nou slaan Pilatus ’n ander weg in. Hy wil Jesus aan die Jode uitlewer en hulle die toestemming gee om Hom te kruisig, maar self sien hy nie daarvoor kans nie omdat hy nog eens bevestig dat Jesus onskuldig is.
Dit sou strydig wees met die Romeinse regspraak om ’n onskuldige te kruisig. Deur so iets te doen, sou Pilatus sy amp by die keiser in gevaar stel. Maar wat hy aan die Jode sê, is vir hulle ’n onmoontlikheid. Hulle manier van teregstelling was deur steniging, maar in Jesus se geval wou hulle sien dat Hy gekruisig word “omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het” en dergelike uitsprake is in die oë van die Jode godslasterlik (Lev. 24:16). Omdat Hy daarop aanspraak gemaak het, eis die Jode sy dood; maar omdat Hy dit werklik is, sterf Hy plaasvervangend vir die sonde van die mensheid om Sy eiendom te red uit die bande van die dood.
Korrupsie in die regstelsel maak enige mens warm onder die kraag. Wanneer die regstelsel in duie stort, stort die hele samelewing in duie. Dit blyk dieselfde te wees met Jesus se verhoor. Die spreekwoordelike magtige Romeinse goewerneur hardloop heen en weer tussen Jesus en die gepeupel en blyk magteloos te wees sonder enige oplossing. Jesus se “verhoor” tot dusver is ‘n voorbeeld van magsmisbruik, regsverydeling en onbekwaamheid. Pilatus herbevestig dat hy geen skuld in Jesus vind nie maar die “priesterhoofde en die wagte skreeu: ‘Kruisig hom! Kruisig hom!” Hulle, destydse vroom kerkmense, se wet bepaal Jesus moet dood “omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” Hulle het Hom klaar skuldig bevind en gevonnis en vonnisoplegging moet so gou as moontlik tot uitvoering gebring word.
Hoekom is die skare so opgesweep deur die priesterhoofde? – “Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om te vra vir Jesus se dood” (Matt. 27:20) – As Jesus een van my familielede gesond gemaak het, sou ek nie ‘n duit omgee wat die priesterhoofde omtrent Hom sê of vra nie. Wie gaan jy glo: Die Man wat op water kan loop en dooies opwek of die vrome priesterhoofde? Kon die skare nie maar ánders of vir hulleself besluit nie? Daar was tog ‘n tyd toe baie van hulle wat nou moontlik saamskreeu “Kruisig hom! Kruisig hom!”, tot geloof in Hom gekom het (Joh. 7:30). Was al daardie lyding nodig?
Vir die redding van één sondaar moes Jesus die volle prys betaal, hierdie verskriklike lyding deurmaak. Sonde in die oë van God is één leuen, één vloekwoord, één keer se onvergewingsgesindheid, één keer se ontkenning van Jesus se Naam, één keer se liefdeloosheid, één ... Die lys van sonde is eindeloos, dit verwoes, dit verinneweer, dit verneder! Jesus Christus moes die prys betaal vir elkeen daarvan en elkeen van ons, beroemdes of geringes. Daardeur het Hy vir ons die deur oopgemaak om die keuse te maak of ons in die Man van Nasaret wat Homself as “die Seun van God” voorgedoen het, gaan glo, of aan dit wat die wêreld met sy menigte valse leraars verkondig!
“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus se lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles G. Finney).
Gebed: Here, as U my sondes in aanmerking sou neem, sou ek nie meer bestaan nie. Maar by U is daar vergifnis, daarom wil ek U dien (Ps. 130:3-4). Dankie dat U vir my gely het om sodoende vergifnis vir my moontlik gemaak het. U weet hoeveel oordeelsfoute ek gemaak het, hoeveel flaters ek op my kerfstok het, hoeveel onoordeelkundige dinge ek al kwyt geraak het en mense daardeur ontsettend seer gemaak het, dankie dat U ten volle daarvoor betaal het! Skenk my die wysheid en genade om dit wat ek uit U Woord leer, toe te pas op my elkedagse situasies. Amen.