top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Hierdie rots binne die “Kerk van Angs”, is volgens oorlewering waar Jesus gebid het.

JESUS BID VIR SY DISSIPELS (5) – BEWAAR ONS VAN DIE BOSE!


Joh. 17:15-19 – “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”


Vergelyk ook Jes. 42:1a – “Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet My guns.”


Elkeen wat deur God aan Christus gegee is, het ’n opdrag om Christus in die wêreld te volbring. Daar kan wel omstandighede kom wanneer die dienaar van God bid dat hy uit die wêreld weggeneem moet word, soos Moses (Num. 11:15), Elia (1 Kon. 19:4) en Jona (4:3,8), maar dit is nie ’n bede wat God verhoor nie. Vir Sy dienaars het Hy ’n taak hier in die wêreld. Daarom moet hulle nie soos Johannes die Doper die woestyn van afgesonderdheid intrek nie, maar saam met Jesus onder die mense beweeg. Wat van belang is, is dat die Vader hulle bewaar van die Bose teen wie se mag die gelowiges beskerm moet word.


Jesus se volgelinge het ’n sending in die sondige, verdorwe wêreld waar die owerste van die wêreld sal probeer om hulle in sy mag te kry. In hulle eie krag sal hulle nie van die Bose kan vrykom nie. Alleen God kan hulle bewaar, en daarvoor bid Jesus. Dit is noodsaaklik dat hulle bewaar bly, anders kan die werk wat Jesus begin het, nie voortgesit word nie. Hy wil immers mense in Sy diens gebruik.


Dat die gelowiges “nie tot die wêreld behoort nie” beteken dat daar radikale verandering van verhoudinge plaasvind, wat deur die geloof in Christus ingetree het. In die natuurlike staat van sonde was ook die dissipels eers “van die wêreld”, maar nou is hulle vernuwe om soos Christus te wees en staan hulle in dieselfde verhouding tot die sondige wêreld as Hy, die sondelose. Hulle natuur is verander sodat hulle nou “aan Christus behoort” en Sy lewe openbaar. Dit beteken dat hulle van die sonde en die wêreld afgesonder moet wees en in denke, spreke en dade volkome aan God toegewy moet wees. Die ware toewyding aan God word bereik deur jou lewe te rig volgens die woord van God. Daarin werk die Heilige Gees mee omdat Hy juis gekom het om die gelowiges in die waarheid te lei op die weg van toewyding en heiliging (Joh. 16:13).


Die verkondiging van “U woord wat die waarheid is” moet voortgaan. Daartoe ontvang elke dissipel van Jesus Christus die opdrag. Soos Jesus vir Sy werk toegerus is, wil Hy dat die Vader ook Sy dissipels moet toerus, en soos Hy sy sending tot uitvoering gebring het, moet hulle ook hulle opdrag volvoer. Omdat Jesus Hom as versoeningsoffer aangebied en toegewy het, en ons in Hom glo, het ons ook toegewy geword, van sonde bevry en volkome toegewy aan die diens van die Vader. Die soenverdienste van Christus bring vir ons ’n nuwe lewensgehalte (“geheilig”) en ’n nuwe lewensroeping (“toegewydes”).


Jesus bid vir Sy dissipels, Sy volgelinge, vir ons gelowiges. Om ‘n volgeling te wees impliseer om Hom te volg wat lei – “Die Goeie Herder roep Sy skape op hulle name en lei hulle uit ... Hy loop voor hulle uit, en die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken” (Joh. 10:3-4). Is dit nie wonderlik nie? Hy lei ons na die lewe toe: “Ter wille van ons het Jesus Hom aan God toegewy, sodat ons ook deur die waarheid aan God toegewy kan wees.” Jesus vra ons Vader dat ons toegewyd op die pad van die waarheid moet bly en God wil dit graag dóén: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg, Ek wil jou raad gee en My oog oor jou hou” (Ps. 32:8). Ons moet net gehoorsaam wees! Uit dankbaarheid kan ons soos Dawid antwoord: “U leer my om te lewe!” (Ps. 16:11).


“Gelukkig is dié wat weet dat dissipelskap eenvoudig beteken dat jy uit genade lewe, en dat genade eenvoudig dissipelskap beteken” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my uitgekies het as “volgeling tot spesiale diens”. Dankie Jesus dat ek daardie geweldige voordeel het dat U reeds ons Vader gevra het om my van die Bose te bewaar. Nou kan ek met vrymoedigheid, deur U Gees wat U aan my gegee het, in ‘n vyandige wêreld ingaan want ek weet ek tree nie op in eie krag nie, maar uit U krag. Onderrig my in die pad wat ek moet volg, gee my raad en hou asseblief U oog oor my Vader. Ek loof en dank U daarvoor, U leer my om te lewe! Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page