top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JULLE DROEFHEID SAL IN BLYDSKAP VERANDER (3) – BID SOOS ‘N KIND!


Joh. 16:24 – “Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”


Vergelyk ook 1 Joh. 5:14 – “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.”


Ten opsigte van die gebed het daar ook nou ’n nuwe situasie ontstaan. Tot dusver het die dissipels in ’n persoonlike gesprek dinge van Jesus gevra en deur die gebed hulle versoeke aan God, die Vader, gerig. Maar nou gaan Jesus weg en sal hulle aangewese wees op die gebed tot die Vader, ‘n gebed met verskil en met ’n nuwe karakter – ‘n gebed tot die Vader gerig in die Naam van Jesus Christus, wie optree as die Voorspraak en die Pleitbesorger van ons as God se kinders op aarde.


Op ons knieë kan ons die spreekwoordelike berge versit, en dit is nie ‘n nuwe versinsel of uitvindsel nie. Elkeen van die groot Bybelhelde soos Abraham, Moses, Dawid, Elia, Petrus, Paulus en nog baie ander is deur die Here gebruik om groot dinge te doen omdat hulle geleer het om groot dinge van God te vra. Jesus self was, terwyl Hy op aarde was, by uitstek ‘n Man van gebed! Elke gebed van Jesus was gefokus op God, tot die Troon genader met innige afhanklikheid en verwagting, nie uit tradisie nie maar uit verlange, nie uit gewoonte nie maar uit behoefte!


Die opdrag is duidelik en kragtig: “Bid gedurig” (1 Tess. 5:17). Jesus se opdrag gaan gepaard met ‘n belofte: “Bid en julle sal ontvang sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 16:24). Gebed is dus die weg na volle vreugde, sonder vroomheid maar uit geloof. ‘n Godsdiens wat bestaan uit haastige gebede, pligsgedrewe Bybellees en geforseerde kerkbesoek gaan geen verandering in ons geestelike lewe skep nie. Ons hardloop dan by God verby sonder om Hom te ontmoet en te leer ken, dan verander blydskap in radeloosheid en die gevolg is ek beleef ‘n droefheid want dit voel ek dring nie tot God deur nie!


Dit is presies wat satan wil hê. Hy gee niks om as ons Christene altyd haastig is en altyd besig is, soms besig ook met goeie dinge, solank ons net só besig bly dat ons nie tyd het om te bid nie. Hy sal altyd sy uiterste bes doen om ons weg te hou van die dinge van die Here. Ons word egter aangespoor om nie gejaagd en oor niks besorgd te wees nie, maar liewer te bid. Dan vul die vrede van God ons harte (Fil. 4:6-7). Ons blydskap raak volkome wanneer ek kan bid sonder om my te kwel eerder as te kwel omdat ek nie bid nie!


Die storie word vertel van ‘n klein seuntjie wat gebid het vir ‘n babasussie. Die volgende dag was daar geen sussie nie en daardie aand herhaal hy sy gebed vir ‘n sussie. ‘n Paar maande later besoek hy en sy pa vir mamma in die kraamsaal en daar lê mamma met ‘n tweeling sussies! Die trotse pa vra vir boetie of hy nie bly is dat hy daarvoor gebid het nie, waarop die mannetjie ewe kordaat antwoord dat pappa eintlik moet bly wees dat hy betyds opgehou bid het. Soos ‘n kind word dit moontlik om eerlik en met oorgawe te bid en met kindergeloof te glo dat God alles sal verander, dat “hulle sal ontvang, sodat hulle blydskap volkome kan wees.”


“Enigiemand wat ‘n beter mens van sy knieë af opstaan, se gebed is verhoor”

(George Meredith).


Gebed: Almagtige Vader van die mensdom, indien my geestelike lewe vlak geword het – verdiep dit; my beginsels slordig geword het – herstel dit; my ideale verdof het – laat dit weer opflikker; my hoop verlep het – laat dit herleef; my waardes verward geraak het – vernuwe dit; my horisonne verklein het – maak dit deur U genade wyer; my lewe in droefheid verander het – verander dit na blydskap. Amen. (‘n Gebed deur Sidney Greenberg).

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page