top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE HEENGAAN IS NABY – VYFVOUDIGE GLORIE!


Joh. 13:31-35 – “Toe Judas uit is, sê Jesus: ‘Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet; moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”


Vergelyk ook Joh. 3:16 – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Nadat Judas die tafel en bo-vertrek verlaat het, was daar stellig ’n paar oomblikke van stilte, en toe verklaar Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik.” Vir vyf keer herhaal Jesus die verheerliking en sodoende word die stemming van trauma en tragiek, verander na een van triomf. Judas is uit in die nag van geestelike duisternis, maar in die bovertrek bring Jesus die ligglans van heerlikheid. Die verraad wat nou tot uitvoering kom, het sy teendeel in die heerlikheid wat deur die lydensweg en die opstanding geopenbaar gaan word.


Jesus se gesprek met die oorblywende elf dissipels is nou intiemer, Hy spreek hulle aan as “My kinders”. Soos ‘n vader sy besondere liefdesverhouding met sy kinders uitdruk, spreek Jesus sy dissipels op die vooraand van sy sterwe op dié tere wyse aan, en daarmee betuig Hy sy innige liefde vir hulle. Die tyd is kort, dan kom daar skeiding. In daardie tyd sal die dissipels aan die Jode gelyk wees, op soek na Jesus; die Jode in hulle ongeloof en die dissipels in hulle kleingeloof.


Dit was waarskynlik baie moeilike oomblikke vir Jesus, tog het Hy nog ‘n trooswoord oor vir Sy dissipels. Gedurende Sy aardse lewe as mens, het daar ‘n lamp gebrand, ‘n lig wat nooit uitgedoof is nie – die lig van liefde wat geen haat, veragting of spot kon uitdoof nie. ‘n Liefde wat nie net blydskap en vreugde gebring het nie, maar selfs die ontsettende pyn van die kruis moes deurstaan het – "Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe lief gehad” (Joh. 13:1).


William Barclay het die volgende waarheid omtrent Jesus se liefde nagelaat as erfenis vir alle gelowiges: “Jesus had lived with his disciples day in and day out for three years and knew all that was to be known about them – and He still loved them. Sometimes we say that love is blind. That is not so, for the love that is blind can end in nothing but bleak and utter disillusionment. Real love is open-eyed. It loves, not what it imagines a man to be, but what he is. The heart of Jesus is big enough to love us as we are.”


‘n Egte liefde is bonatuurlik en Jesus Christus het dit in Sy menswording en dood aan Sy kerk kom leer. Jesus Christus het die hoogste posisie waarin Hy was verlaat om tot op die heel laagste posisie op aarde te daal sodat Hy mense van die regverdige oordeel van God kon red alhoewel ons dit geensins verdien nie. Terwyl hierdie liefdevolle Christus hang aan ‘n kruis, uiter Hy met ‘n swak, sterwende stem: “Vader vergeef hulle ... ” Hy kon dit sê want Hy het mens kom word en onder ons kom woon (Joh. 1:14). Hy het die swakke mens daarom geken en verstaan.


Die groot en allesomvattende gebod van Jesus is die onvervalste merkteken van egte dissipelskap en daarsonder kan niemand ‘n volgeling van Jesus wees nie. Dit is feitlik menslik onmoontlik om volkome gehoorsaam aan hierdie gebod te wees, maar as die Heilige Gees jou lewe vul, word die onmoontlike moontlik. As jy jouself as ‘n lewende offer vir God gee, verander jou denke (Rom. 12:1) en jy begin anders te dink en doen en dit stel jou in staat om waarlik dissipel te wees, ‘n dissipel waarvan mense om jou, onmiskenbaar weet.


“Liefde is die handtekening van die kerk. Dit is die belangrikste manier hoe ander ons geloof kan uitken. Liefde is ons “kleurbaadjie”. Wanneer ons vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra, sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Jesus, U is aan ‘n kruis vasgespyker omdat U my liefgehad het met ‘n ewige liefde. “Soos Ek julle liefhet; moet julle mekaar ook liefhê” is ‘n “tall order”, want Here, U het die hemel prysgegee om na hierdie wêreld te kom, selfs U lewe gegee sodat ek kan lewe! Die kruis waar U “heen gegaan het, kan ek nie kom nie!”. Maar Here, dankie dat U dit namens my gedoen het, daarom vra ek dat U deur my, liefde sal gee aan ander. Maak my ‘n kanaal van U liefde na ander. Deurdrenk my só o Gees, dat liefde die besielende krag van my lewe word. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page