top of page
Search

E-Kerk Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Aug 18, 2017
  • 4 min read

DIE JOODSE RAAD BESLUIT OM JESUS DOOD TE MAAK (1) – DIE TRAGIESE IRONIE

(Vergelyk ook Matt. 26:1-5; Mark. 14:1-2; Luk 22:1-2)


Joh. 11:45-48 – “Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: ‘Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”


Vergelyk ook Mark. 14:1-2 – “Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: ‘Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”


Met die beskrywing van die opwekking van Lasarus bereik hierdie Evangelie nog ’n hoogtepunt, maar dit is ook ’n beslissingspunt. Vir Jesus beteken dit dat daar nou finaal besluit word dat Hy doodgemaak moet word; vir die Jode beteken dit opnuut verdeeldheid: die skeiding tussen dié wat glo en dié wat Jesus verwerp. Is dit nie ironies nie? Sommige van die mense wat gekom het om die susters te troos, het gesién wat Jesus gedoen het, en het tot geloof in Hom gekom. ‘n Ander groepie se harte bly verhard en hulle kon nie wág om hulle stories aan Jesus se vyande, die Fariseërs, te gaan oordra nie.


Die Fariseërs en owerpriesters wat lede van die Joodse Raad was, roep toe die Joodse Raad, wat die hoogste gesag in die Joodse samelewing was, saam, om te besluit wat met Jesus gedoen moet word. Hulle besluit sal vir die hele volk geld. Jesus het die gemoedere van die volk gaande gehad en die Raad was bang dat dit kon lei na destabilisering van die politieke situasie. Hulle verwys neerhalend na Jesus as “hierdie man”, maar hulle lewer nogtans ’n betekenisvolle getuienis: “Hy doen baie wondertekens” en Hy doen afbreuk aan die Fariseërs se invloed onder die volk. Deur Sy wonders “tekens” te noem, getuig hulle dat die dade van Jesus openbaringe is van Sy heerlikheid en van die feit dat Hy deur God gestuur is. Daardeur verkry Hy ook soveel aanhang onder die volk dat die godsdienstige leiers weldra geen invloed meer sal hê nie.


Afgesien daarvan moet daar ook met die Romeinse owerheid rekening gehou word. In die verlede het die Romeine meedoënloos elke Messiaanse beweging onderdruk omdat hulle dit beskou het as opstand teen die owerheid. As Jesus ’n groot aanhang kry en die mense beskou Hom ook (ten onregte) as ’n aardse messias wat hulle tot bevryding van die juk van die onderdrukker sou lei, sou die Romeine nie aarsel om in te gryp en selfs die tempel te skend en die “nasie”, dit is die volk as staatkundige eenheid, van al sy voorregte te ontneem nie.


Die Here se stem sny vandag nog na twee kante toe – sommige mense bly onaangeraak terwyl ander se geloofsoë siende raak. Die storiedraers het ook gesien dat ‘n man wat dood en begrawe was, uit die dood opgestaan het en uit die graf gekom het, maar dit het nie tot ‘n lewensverandering gelei nie. Daar is vandag steeds sulke mense - hulle draf om stories aan te dra en dan is dit nie altyd die waarheid nie. Wat dit nog meer tragies maak is dat sommige kerkleiers reageer op die stories. Die Joodse Raad het dadelik ‘n sitting belê, net op grond van wat aan hulle deur stories aangedra is, “om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak” (Mark. 14:1b).


Die kern van die Raad se bespreking handel oor “hierdie man” se wondertekens – water verander in wyn; genesing van lammes en blindes; voeding van duisende met karige vyf broodjies en twee vissies wat net genoeg vissmeer op die brood is vir een mens; hy loop op water; dooies word lewendig. Hy praat ook anders: “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:28-29). Dis verregaande, as hy so aangaan, gaan “al die mense in hom glo” en dan gaan dit ons magsposisie belemmer want dan “kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Hulle is dus meer bekommerd oor Jesus wat besig is om hulle te beroof van hulle magsposisie! Hulle diepgewortelde invloed in die samelewing is besig om te kwyn! Daar is geen empatie of liefde meer oor vir die volk nie, die kerkleiers is meer bekommerd oor hulle geykte godsdiens en tradisies wat skade ly.


Jesus daarenteen, gee om vir mense, Hy is nederigheid in aksie! Sy passie is om verdwaaldes, honger en eensame mense, sukkelende siekes, uitgeworpenes, verwerptes, op te soek. Jesus se pad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens en Hy wag om ingenooi te word! Hy praat eenvoudige taal sodat almal Hom kan verstaan – “Volg My”, is die kern daarvan. Die probleem is egter dat daar só baie mense met verskoning-taal bo-oor Jesus se lewende woorde skryf. Jesus forseer nie Sy wil op ons af nie. Elkeen sal egter die gevolge van hulle keuses, self moet dra.


“Dit is ‘n illusie om te dink dat daar ‘n perfekte regte tyd sal kom om die regte keuse te maak tussen die verderf of hemel!” (George Patton).


Gebed: Here, ek verstaan die val-en-opstaan pad van die geestelike groei roete. Dankie dat U juis gekom het vir ‘n sonde-sukkelaar soos ek, en my telkens maar weer optel wanneer ek geval het. Dankie dat U nie volmaakte mense uitsoek nie, maar juis by my begin het net soos ek is. Dit is voorwaar die beste om naby U te loop en wanneer my geloofsoë en ore begin dof raak, bring my nader na U toe. Ek bid vir elkeen wat nog dwalend is en met verskoning-taal bo-oor U lewende woorde skryf. Help hulle Here dat hulle na U sal luister en vir U sal leef! Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page