top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (6) – HY BESKERM MY


Joh. 10:11-13 – “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ‘n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ‘n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ‘n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.”


Vergelyk ook Eseg. 33:15-16a – “Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou, sê die Here my God. Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.”


Jesus spreek die sentrale gedagte van die beeld uit wat Hy gebruik en beskryf Homself nou as “die goeie herder”. Hy sluit aan by verskeie uitsprake waar God aangewys is as die herder wat goed sorg vir sy volk (Ps. 23:1-2; Jes. 40:10-11). Dit bring die Middelaarswerk van Christus binne die gesigveld en deur Sy optrede bring Hy die vervulling van die belofte van God dat Hy self die herder van Sy skape sal wees en hulle in liefde sal red en versorg (Eseg. 34:10-16).


Hoekom is Jesus die Goeie Herder? Die goeie herder is nie daar om te “steel en slag en uitroei” nie, maar Hy “lê sy lewe af vir die skape”. Dit onderskei die goeie herder van die huurling. Om Sy punt te bewys vertel Jesus ‘n verhaaltjie van ‘n huurling wat nie omgee vir die skape nie maar hulle aan hul lot oorlaat wanneer “hy ‘n wolf sien kom”. Daar bestaan geen band tussen die huurling en die skape nie want dit is nie sy eie nie. Die huurling is nie ’n “dief en ’n rower” nie, maar tog iemand vir wie sy lewe en inkomste van groter belang is as die troue uitvoering van sy pligte. Al is hy gehuur om die skape op te pas, is hy “geen herder nie”, aangesien hy nie die elementêre eienskappe van ’n herder besit nie, naamlik die besorgdheid oor die skape wat aan hom toevertrou is. Hy vlug eenvoudig weg sonder om hom in die minste oor die skape te bekommer.


Dit is die sin waarin Jesus ‘n goeie herder is. Hy is goed in Sy toewyding aan Sy sending wat Hy gekom het om te vervul. Hy sluip nie die kraal binne om skape te steel nie (10:1); Hy kom openlik met Sy boodskap na die wêreld toe en bevestig die egtheid daarvan; Hy ken Sy skape en roep ons op ons name (10:3); Hy stap elke tree saam met Sy skape en loop voor, Hy stuur ons nie alleen in ‘n onbeskermende wêreld in nie (10:4); Sy skape ken Sy stem. Hy praat deur Sy Woord en Gees om te verseker ons word nie verlei nie (10:4b); Hy is die ingang tot die kraal. Hy is die Enigste een wat beskutting bied, die Enigste Redder (10:9); Hy skenk nie net lewe aan ons nie, Hy gee dit in oorvloed (10:10b); Hy hardloop nie weg wanneer gevaar dreig nie, Hy beskerm ons en het selfs Sy lewe vir ons gegee (10:11).


Almal wat glo in Jesus Christus, is Sy “skape.” Ons het geen beheer oor natuurmagte nie en baie min verweer teen die aanslae van die lewe. Wanneer die lewenstorms aan ons bootjies begin ruk, is daar nie altyd simpatie nie. Elkeen wil maar net sien dat sy eie seiltjie hom toemaak om hom te beskerm teen die reën en koue. Die Goeie Herder is egter altyd daar. Hy is dáár wanneer ons elke oggend opstaan om die dag aan te durf, voort te beur op ons eie. Hy ken elkeen van ons se pad, die pad van menswees met al sy probleme want Hy was self mens wat tussen ons kom woon het (1:14). Hy ken elkeen se versoekings want Hy was self versoek gewees (Matt. 4:1-11). Hy ken elkeen by die naam want Hy is lief vir ons – so lief dat Hy bereid was om Sy lewe vir ons te gee. Waarom tevrede wees met ‘n swak herder terwyl die Goeie Herder vir jou beskikbaar is?


“Laat die feit oor wat Christus alles vir jou gely het jou aangryp en jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie” (Oliver Greene).


Gebed: Liewe Jesus, my Goeie Herder, dankie dat U my ken, my angs en vrese, bekommernisse, my eina’s en my amen’s, my alles. Dankie dat U elke dag saam met my begin, saam met my gaan waarheen ek ookal gaan, saam met my weer terugkom huistoe en selfs oor my waak wanneer ek gaan slaap. Dankie dat ek op U liefde, omgee en beskerming kan staatmaak. Dankie dat U nie weghardloop soos ‘n huurling wanneer daar gevaar is of wanneer ek verkeerde keuses maak nie. Ek bid vir hulle wat nie beskerming in U kraal kom soek nie, wat rigtingloos ronddwaal opsoek na die Waarheid, dat hulle die Enigste Ingang sal vind na die lewe. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page