top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE GOEIE HERDER (4) – VERSTAAN DIE WAARHEID!


Joh. 10:6 – “Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.”


Vergelyk ook Matt. 7:15a; 20 – “Pas op vir die vals profete ... . So sal julle die vals profete aan hul vrugte ken.”


Die verhaal van Jesus oor “Die Goeie Herder” se dieper betekenis is dat daar net een Verlosser is. Hy kom vanself en Sy kudde volg Hom uit liefde uit. Almal verstaan ongelukkig nie hierdie boodskap nie en volg soos verdwaalde skape ander stemme. Ons moet baie versigtig wees vir hulle wat ons wil weglei van die stem van Jesus Christus. Iemand het eendag gesê dat elkeen ‘n reg het op sy opinie, maar dit is nie te sê dat sy opinie noodwendig reg is nie. Elke mens het ‘n reg om sy mening uit te spreek en Jesus waarsku ons om nie te oordeel nie. Indien ons dus ‘n mening wil beoordeel moet ons dit eerstens aan God se Woord toets want dit gaan oor die eer van God. Daarom is daar verskeie voorbeelde uit die Bybel aangehaal die afgelope vier dae.


Hoe lyk die vrugte van ‘n vals profeet? Hy het ‘n baie subtiele manier om Bybelversies aan te haal en dan met moderne sogenaamde wetenskaplike of humanistiese bewyse, die interpretasie daarvan te verduidelik byvoorbeeld: God wat mens geword het; die maagdelike geboorte van Jesus; sekulêre sielkundige oplossings vir huweliksprobleme instede van Bybelse voorskrifte, ens. Hy plaas die wysheid van die wêreld op ‘n troon in plaas van God se wysheid en verkondig dit as moderne Christen-kultuur. Moses se opdrag in Deut. 4:2: “Moenie iets byvoeg by wat ek (Moses) julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het”, word gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Dit was dus net vir die destydse Israeliete bedoel en nie vir hedendaagse mense nie – Die God van die 21ste eeu is dus nie dieselfde God van destyds nie.


Die eindresultaat is ‘n verafgoding aan die “geloof” van die profeet instede van die waarheid van God se Woord. Die ware profeet ontvang God se Woord soos dit is, aanvaar dit as die waarheid en verkondig dit aan God se kinders – “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie” (Spr. 3:5). Die Hebreërskrywer herinner ons ook aan die volgende – “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie” (Heb. 13:8-9).


Nog ‘n vrug van die vals profeet is die een wat getuig dat hy “geestelike openbarings” direk van God ontvang het. God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus. Met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy volgelinge oor en hulle glo dit! Hy is dan ook in staat gestel om antwoorde oor al hul geestelike vrae te verskaf, want “God het dit nét aan hom openbaar!” Die gevolg is dat die bydraes vir die “koninkryk”, die finansiële koffers van “sy kerk” ‘n aansienlike hupstoot gee. Paulus daarenteen verduidelik dat “ons maar gedeeltelik ken en God se wil gedeeltelik verkondig, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees” (1 Kor. 13:9-10). Die vals profeet draai mense weg van die Bybelse waarheid af na ‘n sogenaamde “geestelike” wêreld van fantasie – “ ‘n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf” (Deut. 18:20)! Skrikwekkend!


Paulus vermaan ons dat die kerk (ons), ‘n verantwoordelikheid het om vals profete te stop om hul dwaalleringe te versprei – “Hulle monde moet gesnoer word. Hulle bring volledige huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dit net om skaamteloos geld te maak” (Titus 1:11). Soek die ware bekendmakers van God se wil op as jy geestelike wysheid kortkom. “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” (Rom. 10:15b). Laat hulle jou leermeesters wees. Oefen ook gedurig die regte godsdienstige wysheid in met Paulus se opdrag uit Rom. 16:17 – “Ek druk julle dit op die hart, broers (en susters): Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hul mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.”


Geloof hang nie sommer in die lug nie. Dit is gebaseer op leerstellings waarin ‘n mens op grond van die Bybel glo. Die waarheid van die Bybel mag nooit in die gedrang kom nie, want dit is waar ons die ware feite omtrent Jesus en die verlossing leer. Daarom is dit nodig dat ek en jy die waarheid moet verstaan, en die Waarheid is Jesus (Joh.14:6). Vals leraars verdraai die Skrif wat tot verwarring lei, en dit maak dat mense nie meer seker is oor die pad wat na die ewige lewe lei nie.


“Om God te ken sonder insig in ons eie ellende, lei tot trots. Om jou eie ellende te besef sonder God te ken, lei tot wanhoop. Om Jesus Christus te ken bring die balans, want Hy stel ons voor ons eie ellende én stel ons bekend aan God” (Blaise Pascal).


Gebed: Hemelse Vader, weerhou my as reisiger op die “smal weg” van hulle wat die waarheid van U Woord verkrag. Hulle bedrieg baie mense maar dankie tog Here, hulle kan U nie bedrieg nie. Verskerp my persepsie oor die Waarheid van U Woord en stel my asseblief in staat om daardie verkeerde dinge wat skadelik is vir my siel, te identifiseer. Leidsman van U kudde, bewaar U mense van valse beloftes van mense wat hulle geloof wil ondermyn. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page