E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE EVANGELIE VAN JOHANNES – DIE ONGELOOF VAN DIE JOODSE LEIERS
Joh. 7:45-53 – “Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gevra: ‘Waarom het julle hom nie gebring nie?’ Die wagte het geantwoord: ‘Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.’ Die Fariseërs sê toe vir hulle: ‘Is julle tog nie ook mislei nie? Het een van die Joodse Raad miskien in hom geglo. Of een van die Fariseërs? Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!’ Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle: ‘Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.’ Hulle sê toe vir hom: ‘Jy kom tog ook nie van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.’ Hierna is hulle elkeen na sy huis toe, maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan."
Die geregsdienaars wat as gevolg van die samewerking van die Fariseërs en die owerpriesters gestuur was om Jesus gevange te neem (7:32), het sonder Hom teruggekom en word toe deur die Joodse Raad rekenskap gevra van hulle versuim. Al sou hulle hulle weens pligsversuim aan dissiplinêre optrede blootstel, verklaar hulle volkome eerlik dat dit Jesus se woorde was wat hulle daartoe beweeg het om hulle bevel te verontagsaam. Jesus se woorde het hulle só beïndruk dat hulle ruiterlik erken hulle het nog nooit iemand soos Hy hoor praat nie. Sy woorde kom met gesag en majesteit en krag – “want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:29). Teenoor Sy woorde weeg die woorde van mense nie op nie, ook nie die bevel van die Joodse Raad nie. Om na Jesus se woorde te luister is ‘n buitengewone ondervinding vir enige mens.
Die Fariseërs, wat noue kontak met die gewone volk gehad het, toon hier dat hulle gesindheid teenoor die volk nie dié van liefde en agting was nie. Hulle het op die volk neergesien as mense wat die wet nie ken nie en daarom maklik mislei word. Hulle skel toe hulle frustrasies op sowel die wagte as op die volk uit. Hulle eie swak menslike insigte word so allesoorheersend gestel dat die volk summier vervloek word omdat ’n deel van hulle die Here Jesus as die Messias beskou. In hulle hart het hulle die eenvoudiges onder die volk verag, soos ook nou blyk uit die feit dat hulle die “vervloekte klomp mense” genoem word. Hulle het selfs ‘n ongeskrewe rabbynse reël gehad wat bepaal het dat geen getuienisse van die “mense van die land” geneem of geglo kan word nie, hulle met geen geheime vertrou kan word nie, nie saam met een van hulle op reis mag gaan nie, hulle nie as voogde van weeskinders aangestel kan word nie of met enige liefdadigheidsgeld vertrou kan word nie.
’n Verrassende wending tree in. Die Fariseërs het pas verklaar dat nie een van die raadslede Jesus aanhang nie, en dan tree Nikodemus (die Raadslid wat Jesus in die nag besoek het (3:1-21), na vore om vir geregtigheid teenoor Jesus te pleit. Hulle wat die volk vervloek het omdat hulle nie die wet ken nie, loop self die gevaar om te handel soos mense wat die wet nie ken nie, daarom beroep Nikodemus hom daarop dat volgens die wet gehandel moes word. Die wet bepaal dat iemand wat beskuldig word, geleentheid moet kry om sy kant van die saak te stel en wat hy “doen” (Deut. 1:16). Die bedoeling is dat sy gedrag, dade en woorde ondersoek moet word. Van die kant van die Joodse Raad was daar nog nie so ’n ondersoek na die optrede van Jesus nie. Eintlik het hulle nie geweet wat Hy “doen” nie.
Die lede van die Joodse Raad is nie in ’n luim om oor wetspunte te redeneer nie. Hulle het hulle oor Nikodemus verontwaardig en wil hom verkleineer deur skimpend te vra of hy ook dalk uit die “veragtelike Galilea” gekom het én dat hy nie die Skrifte ken nie. In hulle woede begaan hulle ook ’n vergissing wanneer hulle beweer dat God nie ’n profeet uit Galilea geroep het nie. Dit is bekend dat Jona uit Galilea afkomstig was (2 Kon. 14:25; Jona 1:1). Die Skrifte het nie gesê waar die Here Jesus sou opgroei nie, net waar Hy gebore sou word. Buitendien moet rekening gehou word met die mag en verkiesing van God. Hy kan van enige plek, ook uit Galilea, ’n profeet roep.
Dit is vandag steeds so. Mense maak geweldige foute wanneer hulle uit haat en veragting opereer. Die mense na wie hier verwys word, is kerkmense. Hulle was nie heidene nie maar pelgrims wat die huttefees bygewoon het en skrifgeleerdes. Terwyl hulle na die “Prediker” luister is hulle verdeeld. Is hy die Profeet? Is Hy die Christus? Sommiges draai om en verlaat Hom. Ander wil Hom in hegtenis neem. Kom ons stel nou onsself in die plek van die mense van daardie dag: Aanvaar u die Here Jesus werklik as u Verlosser? Dit is so dat daar baie mooi gelowige mense is wat die Here Jesus met hart en siel aanbid. Dit is egter ook so dat daar diegene is wat maak soos die grootste deel van die skare: Hulle wonder of Hy regtig die Messias is, kyk hoe gaan dit in die land en die res van die wêreld. Baie mense glo glad nie. Sommige ander mense dink Hy is iemand besonders, maar Hy is nie God nie. Is dit nie dalk waarom sommiges se aanbidding ook nie altyd by die diepte uitkom wat dit moet hê nie? Daarom het die erediens van daardie dag op ’n mislukking uitgeloop – almal het maar net omgedraai en “huis toe gegaan.” Sommige van ons sê ook soms dat die erediens hulle mis. Hulle gaan kerk toe en weer huis toe sonder dat iets met hulle gebeur het. Dankie vir ‘n goeie preek dominee, trek die Sondagklere uit, braai ‘n vleisie, was hande en gaan voort met sy daaglikse lewe tot volgende Sondag.
Kom ons toets die mense van daardie dag. Hulle het die bedoeling van die dag en die God van die dag gemis. Daarom het Jesus vir die klomp kerkmense gesê dat hulle Hom nie sal kry as Hy eers weggegaan het nie (7:34). Hulle gaan almal op ‘n ander plek wees, miskien in die hel, terwyl Hy in die hemel is. Hulle geloofsverdeeldheid daardie dag was omdat hulle met ’n hele aantal menslike vooroordele na die Bybel toe gegaan het. Elkeen van hulle het in die Bybel die dinge gaan soek waarvan hy as mens gehou het, in plaas daarvan dat hulle onvoorwaardelik gaan luister het wat die Bybel leer, en dan in volle aanvaarding daarvoor gaan buig het. Daarom het hulle in die leuenargument van, onder andere, die Here se afkoms verval en wou hulle Hom arresteer. Het ons nog die vermoë om ’n geloofstandpunt in te neem en te verdedig omdat dit die waarheid is, of stel ons ons eie saak (of ons eie tradisie of soms net sommer doodgewone dwarsgeit)?
Die Bybel leer hier dat die Here dorstiges na die water van die lewe roep. Hy roep almal wat onder die leiding van God die Heilige Gees staan. Toe die dinge die dag rondom die Here Jesus gebeur het, was die Heilige Gees nog nie uitgestort nie. Nóú is Hy wel uitgestort in die kerk en oor alle gelowiges. Ons lewe almal in die bedeling van die Heilige Gees. Ken ons die Bybel? Ken ons God, Jesus en die Heilige Gees? Regeer die Drie-eenheid ons lewe of weet ons net van Hom?
“Moenie te gou praat nie, .... Moenie dat jou mond jou laat sondig nie...” (Pred. 5:1;5a)
Gebed: Here, ek bevind my baie keer in situasies waar ek U wil verdedig en waar ek weet dat U my sal bystaan. Maar dan begewe my moed my en wend ek so ‘n halfhartige poging aan wat later verdof tot doodse stilte en laat ek dit maar aan die “kenners” oor wat van U weet. Dit is tog beter om eerder stil te bly as om gespot te word en dalk nie as deel van die populêre deel van die samelewing te wees nie. Daarom Here, gee my insig om wyse besluit te neem; en die wysheid om insig in U Woord te kry. Maak my wys om te weet wanneer om op te tree en wanneer om eerder ‘n bietjie terug te hou; wanneer om iets te sê, en wanneer om liewer stil te bly Dankie Heer dat U my bewaar van ‘n los tong. Amen.