top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


STROME LEWENDE WATER (3) – KANAAL VAN DIE LEWENDE WATER


Joh. 7:37-39 – “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.”


Vergelyk ook Hand. 2:1-4a – “Toe die dag van pinksterfees aanbreek, was hulle almal (gelowiges) op een plek bymekaar. Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het ..... Almal is met die Heilige Gees vervul ....”


Dit is eintlik ongelooflik wat Jesus hier sê. Waar Jesus begin het met die Jode se eie dors wat Hy vir hulle kan les, vervolg Hy met die radikale gedagte dat dié wat in Hom glo, wat dus die ewige lewe hét, “kanale van lewende water” sal wees wat ‘n impak in die wêreld sal maak! Ons drink nie net in geloof van die lewende water wat Jesus gee om ons eie dors te les nie, ons word self kanale van lewende water vir ‘n dors wêreld! Uit ons binneste raak die Heilige Gees mense aan met die lewende water van God.


Johannes lewer dan daarop kommentaar: “Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.” Dit beteken dat die Heilige Gees op 'n sekere manier nie daar was voordat Jesus met Sy opstanding en hemelvaart verheerlik is nie. Dat Hy wel daar wás, word in die hele Ou Testament na verwys, maar die Gees was “op 'n sekere manier” net nie daar nie! Hy was nooit daar soos ná Pinkster (tot vandag) nie. Ná Jesus se opstanding, hemelvaart en pinkster, maak die Heilige Gees woning binne-in die lewe van élke mens van elke nasie, wat glo in Jesus Christus vir verlossing en redding. Deur Sy permanente ononderbroke inwoning, woon Jesus sélf in so 'n mens! En omdat die ewigdurende Máker van lewende water IN ons gelowiges woon, vloei die strome lewende water uit ons uit want die BRON daarvan is nader aan jou as jou eie asem. Onbeskryflik Goddelik!


Elkeen wat tot hierdie geloofsvertroue in Jesus Christus kom, ontvang die Heilige Gees op so 'n manier! Dit is onmoontlik om in die Here Jesus verlos te wees en nié die Heilige Gees inwonend te besit nie – Paulus bevestig dit: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Rom. 8:9).


Maar, daar is egter 'n voorwaarde daaraan verbonde. Daar moet 'n behoefte-besef wees. “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink”. Jesus beklemtoon juis die woordjie “as”, as die voorwaarde. Geen mens kan sonder water leef nie, daarom is Christus die EEN waarsonder geen mens kan leef nie en ook nie durf waag om sonder Hom te sterf nie. “As” ‘n mens nie die Here Jesus ontmoet en vervul word met die Gees nie, is dit omdat hy nie besef dat daar 'n “dors” behoefte is nie. Sonder water ontwikkel 'n mens se liggaam 'n dors en dit lei daartoe dat die liggaam water drink – net so ook met die menslike gees. Die menslike gees is gemaak vir God en lós van God, ontwikkel dit 'n dorstigheid. Elke mens is méér as 'n fisiese liggaam. Jy het 'n gees en as die gees nie drink van die lewende God nie, sterf dit van die dors.


Deur God se genade vlam die dors op en dan moet daar ten alle koste water gedrink word. En JESUS is die water – wat absoluut niks kos nie. Wat daar betaal moes word, het Hý reeds ten volle betaal. Nou is die water 'n vrye gawe. Drink dit net – eenvoudig soos dit. Jy drink deur te glo. Jesus hét nie net wat ons siele nodig het nie. Hy ís wat ons siele nodig het! En die dors wat die Heilige Gees in 'n mens se menslike gees skep, drýf jou na Jesus toe. Jy kóm letterlik na Hom toe, jy “kom om te drink.” Nie net eenmalig nie, maar aanhoudend, lewenslank.


Dus is dit hoe eenvoudig dit is en ook hoekom dit so uiters belangrik is. Jou eie ervaring van die Heilige Gees begin by die Here Jesus self. Jy kan dit nie by iemand anders leen nie of deur iemand anders ervaar nie. Jy kan dit net kry as jy in die geloof na Jesus Christus toe kom en fokus op wat Hy in jou lewe doen. Daagliks, jyself en in gemeenskap met ander. Die gevolge sal groot wees. Jou dors aan God word geles. Liefde sal toeneem. Die ervaring van God se lig sal toeneem. Jy sal al hoe meer krag ontvang. Jy sal al hoe beter dit regkry om met ander mense in gemeenskap te lewe. En mense rondom jou sal die effek begin voel. “Strome lewende water sal uit jou binneste vloei.” Jy sal ‘n kanaal van God se lewende water vir ander word. Jy sal nie die water self wees nie, net die kanaal. Maar watter vreugde sal dit nie wees vir mense rondom jou nie.


“Natuurlike water kan ‘n mens se lewe in stand hou, mits daar herhaaldelik gedrink word; maar die ‘lewende water van Jesus’, bring oorvloedige geestelike lewe in hierdie tyd, en dit voer tot die ewige lewe in heerlikheid!” (Onbekend).


Gebed: Jesus Christus, wanneer ek die siele-dors beleef, dan weet ek U het my genooi. Wanneer ek my op U werp, dan weet ek U het beloof dat U niemand wat na U toe kom, sal wegstoot nie. Wanneer ek na U kom, dan weet ek die Heilige Gees kom neem van my besit en ek kan verwag dat strome lewende water sal begin vloei. Nié omdat ek so voel nie, maar omdat U dit bevestig. Dankie dat dit ’n bruisende, opborrelende, oorvloediger lewe waarborg en dat die einddoel daarvan is dat hierdie water die mens wat daarvan gedrink het, êrens heen voer: dit bring hom by ’n blye eindbestemming, die ewige lewe! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page