top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (9) – ‘n WYSE ARGUMENT (2)


Joh. 7:24 – “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”


Vergelyk ook Matt. 7:1-6 – “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word ...... ”


Vir so ’n daad op die sabbatdag kon Jesus met reg vra: ”Waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op ‘n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het? Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” Met hierdie uitspraak wys Jesus op die verkeerde manier van oordeel wat algemeen by die leiers van die Jode voorgekom het. Hulle het streng aan die letter van die wet vasgehou en iemand se gedrag beoordeel alleen op grond van wat hulle sien. Na beweegredes of motiewe vra hulle nie en daarom is hulle oordeel oor mense oppervlakkig en onregverdig.


Die Here wys op 'n baie belangrike lewensbeginsel wat ook deur ons toegepas moet word: Ons moet nooit iets oordeel soos wat dit op die oppervlak lyk en dan daaroor ons gal laat oorkook nie, want dan kan ons oordeel verkeerd wees omdat dit die werklike saak waaroor dit gaan, nie raakvat nie. Eerstens ken ons nie al die feite van ‘n ander se lewensomstandighede nie. Wanneer ál die feite bekend is van ‘n ander, is dit moontlik om selfs goeie dinge in ‘n slegte mens waar te neem. ‘n Kristal lyk aanvanklik dof maar wanneer dit gedraai word sodat die son op ‘n sekere hoek daarop skyn, word die mooiste kleure opgetower. Soek die onderliggende skoonheid en verwag dan dat hulle dieselfde aan jou doen. Instink en redelose optrede kan iemand klaar beoordeel. Jou eie lewe kan met so dik laag stof bedek wees dat die bietjie vuilgoed wat jy van ‘n ander wil afstof, nie raakgesien word nie. Die gevolglike probleem daarvan is dat mens geneig is om jou eie sondetjies met verkleinwoordjies te spel en na ander s’n, met ‘n vergrootglas te kyk.


Wanneer die balk egter uit jou eie oog is, kyk jy nie uit die hoogte na ‘n ander se foute nie maar dan is dit sondaar teenoor mede sondaar wie beide genade ontvang van dieselfde God wat albei geskep het! Beteken dit nou ons moet onsself blind hou vir ander se foute? Nee, inteendeel, Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Dit is presies wat die Jode (Fariseërs) gedoen het. Hulle het mense vertrap en vernietig met hul verkeerde vertolking van die wet.


Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan baie mense skuld aan het. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien.....” of “Moet nou nie dink ek kritiseer haar nie, maar het jy gehoor....” is seker van die bekendste uitdrukkings wat daagliks gehoor word. Dit verskaf sommiges innerlike vreugde om slegte dinge van ander te hoor. Dissipels daarenteen, is volgelinge van Jesus in God se koninkryk. Wanneer ons as regters wil optree, mis ons die doel van dissipelskap. Ons moet onthou dat ons ook begenadigde sondaars is! “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi......” Ons is nie aangestel om ons Koning se regters te wees nie. Wanneer ons deur die oë van ons Koning kyk, kan ons ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons.


“The world is full of people who claim the right to be extremely vocal in criticism and totally exempt from action” (William Barclay).


Gebed: Ag Here, vergewe ons kritiese en beoordelende gees. Help ons om met meer takt en selfregverdiging met mekaar om te gaan, om met “Christusharte” te leef. Dit is vir ons so maklik om te sien hoe ander se lewe ongeorganiseerd is, hoe agtelosig hulle is, hoe selde hulle bietjie ekstra moeite doen, hoe maklik hulle kan oordeel. Ons kan onsself nie weerhou van “bekommernis” oor ander se probleme en foute nie. Here, hoe kan ons verwag dat U ons sonde nie moet beoordeel nie terwyl ons reeds ons mede sondaar gestenig het? Here, maak ons oë oop vir liefde en aanvaarding. Help ons om die balk van veroordeling in ons eie oë raak te sien en nie altyd daarop uit is om iemand anders se lewe “reg te wil timmer” nie. Dra ons, help ons, vernuwe ons o Gees van God. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page