top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LOOP OP DIE SEE (1) – MOENIE BANG WEES NIE. (Met verwysing ook na Matt. 14:22-33 en Mark. 6:45-52)


Joh. 6:16-21 – “Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, in ‘n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: ‘Dit is Ek; moenie bang wees nie.’ Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.”


Vergelyk ook Deut. 33:26 – “Daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help.”


Johannes beskryf hierdie verhaal minder breedvoerig as in die ander Evangelies. Na die vermeerdering van die brood en die mense wat ”Jesus met geweld wou koning maak, het Hy alleen verder die berg op gegaan” (v 15). Dit was reeds aand, maar omdat dit byna tyd vir die Paasfees was, sou dit volmaan wees en dus nie pikdonker nie. Die ander Evangelies wil dit hê dat Jesus sy dissipels opdrag gegee het om weg te vaar terwyl Hy die skare huis toe stuur. Johannes meld egter niks hiervan, trouens, volgens vers 22 het die mense die nag daar in die veld deurgebring.


Op sy breedste is die see ongeveer twaalf kilometer, “en toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, het die see onstuimig geword.” Hulle was dus ongeveer halfpad na Kapernaum aan die oorkant, toe kry hulle die wind van voor. Hulle moes spartel om hierdie bootjie regop te hou. Hulle beur met hul liggame en stoei met die mas en seile. Party skep water uit terwyl die ander verwoed roei. En net toe die son sy kop so oor die berge optel, kry hierdie storie nog ’n kinkel toe iets op die water na hulle toe aangeloop kom! (Mark 6:48). Een van hulle se oog het seker terwyl hy so water uitskep, eerste die “spook” gesien, alarm gemaak (indien hy ‘n woord kon uitkry), gevolglik “het hulle bang geword” en van angs hard begin skreeu! Wat dit erger maak, die “spook” is reguit oppad na hulle toe! Waarheen kan jy gaan as ’n spook jou op die water vaspen?


Dan volg daardie goue woorde van Jesus: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Hulle het hulle immers gedaan geskrik, maar die Here se woorde is gerusstellend, Sy teenwoordigheid is al wat belangrik is. Hy het gesien hulle roei swaar en Hy kom na hulle toe (Mark 6:48). Jesus kom help hulle in hulle oomblikke van nood.


God kom telkens na mense toe. Sy talle komste na mense toe sluit in Adam, Abraham, Moses, Dawid, Jesaja, Jeremia, Paulus, die dissipels en vele meer. Net so kom die Here ook na jou en my al word Sy koms soms sleg belemmer deur vele menslike faktore. Hy kom wanneer storms dreig om ons lewensbootjies te laat sink. Hy kom wanneer ons geloof begin wankel en ons hoop, ‘n knou weg het. Hy kom wanneer ons lewenskragte gedaan raak van al die spook en spartel. Hy kom wanneer ons denke bedreig word deur ‘n swak en korrupte regering. Hy kom wanneer ons selfbeeld verpletter word deur werksafleggings en ons houvas op die lewe losraak. Hy het Sy hemelse glorie verruil om na ons te kom, om by ons te wees, ons te kalmeer met daardie goue woorde: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”


“God se teenwoordigheid waar ons spartel in die vloed is beter as sonder Hom in ‘n veerboot” (Charles Spurgeon)


Gebed: Here, sommige dae voel ons dat die lewe net te veel van ons vereis. Die depressieduiwel loop oral rond en saai verwoesting; lewenslus word versmoor deur siekte, armoede en vele meer; moedeloosheid van kostes wat die hoogte inskiet en ons begroting wat net nie meer aan al die behoeftes voorsien nie; ons land is in ‘n warboel van ‘n magdom probleme; ons irritasievlakke is op breekpunt; die lewe is een vaal sleurgang. Maar dankie Heer, by U is daar hoop: “Wees gerus, moenie bang wees nie, Ek is by jou; moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou” (Jes.41:10). Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page