E-Kerk - Gedagte vir Vandag

WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (5) (Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)
Matt. 22:37-39 – “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Vergelyk ook Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”
God het hierdie wêreld goed geskep en die mens “baie goed” geskep (Gen. 1:31). God maak nie foute nie – Hy het die wêreld ongelooflik mooi gemaak. Die mens het egter intussen die wêreld van ongelooflik na ongelowig verander. Die waarheid van God se skepping word onderdruk deur menslike teorieë wat ‘n verrotting en korrupte wêreld tot gevolg het. Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van standaarde ‘n norm geword het – ‘n verlaging van lewensstandaarde, standaarde van eerlikheid, selfrespek, respek vir ander, pligsgetrouheid en morele standaarde. Soms blyk dit dat daar geen standaarde meer is nie. Elkeen maak hul eie standaarde.
Die Christen daarenteen het die voorbeeld van suiwerheid en reinheid en behoort sodanig op te tree. Jesus het self gesê: “Julle is die sout vir die aarde” – suiwer van spraak, respek, gedrag en selfs gedagte. Geen Christen met selfrespek kan sy standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie. Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie maar ons kan wel alles in die stryd werp om ons skoon te hou van die besmetting van die wêreld. As gesin van God hou ons ons weg van wêreldgelykvormigheid. Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie.
In Jesus se tyd was sout gekoppel aan spesifieke kwaliteite. As gevolg van die glinsterende witheid van sout, was dit as suiwer beskou. Die Romeine het selfs ‘n spreekwoord daarvan gemaak: “Daar is niks méér nuttig as son en sout (nil utilius sole et sale)”. Daar is selfs gereken daar is niks suiwerder as sout nie want die oorsprong daarvan was die son en see. As Jesus dus sê: “Julle is die sout vir die aarde,” was dit ‘n voorbeeld van suiwerheid, ‘n voorbeeld van reinheid. Wat nou oorbly is om uit te vind wat Jesus daarmee bedoel het. Die vraag is hoe ons as sout bruikbaar is in ‘n verrotte wêreld?
Jesus vra nie vir ons om die sout van die aarde te wees nie en ook nie of ons bereid sal wees om sout te wees nie. Hy stel dit feitlik: “Julle is die sout vir die aarde.” Om vir iemand te sê jy is die sout vir die aarde, is ‘n kompliment wat daardie persoon se nuttigheid en selfrespek beklemtoon. Om so ‘n kompliment van Jesus af te ontvang, het ewigheidswaarde en behoort ons daardie selfrespek te behou! Ek kan myself liefhê want Jesus het my daardie verantwoordelikheid gegee. Hoe doen mens dit? “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, al sy ingesteldheid om te besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen bly ewig lewe” (1 Joh 2:15-17). God se woord is die sout wat ons reinig van binne en as aardse sout, wíl ons die “wil van God” na buite doen.
“Jy sal leer om selfrespek te hê vir jouself as jy leer om ander mense te help” (B.W. Woods)
Gebed: Here, hier kom ek maar weer na U toe – soos duisende kere tevore en vra: Wie en wat is ek dat U vir my omgee? Wat beplan U vir my? Elke keer is U daar – U arms wyd oop om my te verwelkom met die versekering: “Ek het jou vrygekoop my kind!!!” Dankie Here, as mens het ek beperkinge maar ek roem in U krag – daardie krag wat juis in werking kom wanneer ek swak is en wanneer ek my selfbeeld só poets dat dit onbereikbaar is vir ander. En as iemand sou sê my aanraking het hul versterk of my nabyheid het hul vertroos, dat hulle sal weet dit is U wat hulle in my optrede ervaar het. Wanneer ek as sout vir hierdie aarde swak is, maak my asseblief bruikbaar. Ek vra dit in afhanklikheid tot U eer. Amen.