E-Kerk - Gedagte vir Vandag

WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (1) (Mark. 12:28-34; Luk10:25-28)
Matt. 22:34-39 – “Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ’Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Vergelyk ook Deut. 6:4-5 – “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.”
Jesus het op ‘n dag met verskeie groepe mense gepraat oor verskillende onderwerpe - verteenwoordigers van die Joodse Raad (Mark. 11:27-33; Sy gesag), die Fariseërs en Herodiane (Mark. 12:13-17; belasting) en die Sadduseërs (Mark. 12:18-27; die opstanding). Nou kom ’n skrifgeleerde, ‘n wetskenner, met sy vraag ”Meneer, wat is die grootste gebod in die wet?” Hy vra dit egter nie met die doel om by Jesus die waarheid te hoor nie, maar om vir Jesus in 'n twisgesprek te betrek en rondom Sy antwoord, te probeer vastrek. Die vrug van die skrifgeleerdes se arbeid was ’n geweldige vermenigvuldiging van gebooie en hy wil graag weet of daar onder al hierdie bepalings een is wat uitstaan?
Gevolglik gee Jesus ’n beknopte samevatting van die gebooie aan hom. Sy antwoord steek deur na die kern van die saak. Hy begin sy antwoord deur die eerste woorde uit die daaglikse gebed van die Israeliete aan te haal (Deut. 6:4-5). Daarin word die belydenis uitgespreek wat Israel verhef bo die heidendom met sy veelgodedom. Die verrassende kom egter wanneer Jesus ‘n bekende opdrag uit Lev. 19:18 – “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” – tussen die ander uitlig en as ‘n tweede gebod wat ewe belangrik is, met die grootste gebod gelykstel. Daarin lê die eintlike fokus. Hierdie twee gebooie is één. Dit is die totale wil van God wat in “die hele wet en die profete saamgevat” word.
Jesus beklemtoon eintlik: Gaan doen julle alles wat julle dink, voel, doen en moet doen, met julle fokus op My. En behalwe dit moet julle alles wat julle vir julleself gun, vir alle ander mense ook moet gun. Moenie vir julleself méér belangrik wees as al die ander mense wat op julle pad kom nie. Soos jy jouself respekteer moet jy ander respekteer.
Jakobus vermaan ons ook: “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,’ dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders” (Jak. 2:8-11).
‘n Persoon moet nie aangeneem word volgens sy status of voorkoms nie maar deur nakoming van die koninklike liefdesgebod – “om jou naaste lief te hê soos jouself en God bo alles!” Deur partydig op te tree is nié nakoming van die wet nie en daarom is dit sonde. Dié verkeerdheid is geleë in die totale uitgangspunt. Liefde en respek beteken om vir ander lewensruimte te skep. Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diegene op ons voorkeurlysie nie. Dan word naasteliefde selektief. “Ek was honger en dors en naak in die tronk ......(Matt 25:34-40), geld vir elkeen van ons naaste, want dit bewys ons werklike liefde vir God.
“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die naastes insluit in die gebod van die naasteliefde” (Prof. Dirkie Smit).
Gebed: Onse Vader, ek wil saam met Paulus ten hemele roep: Dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling (Fil 1:9). Here, skenk my die insig om ‘n fyn aanvoeling te ontwikkel sodat ek in elke situasie sal kan onderskei tussen ware liefde of ‘n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme. Laat hierdie onderskeiding as koningskind, ‘n onuitblusbare blydskap in my meebring en my vul met U vrede. Amen.