E-Kerk - Gedagte vir Vandag
WEEK 2 – GOD: DIE BRON VAN RESPEK (6)
Gen. 1:26 – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”
Jak 1:13-14, 18 – “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.”
Ons is die nommer een faktor in God se skepping omdat “ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.” God het ons voortgebring “deur die woord van die waarheid” op die sesde dag van Sy skepping toe “God gesê het: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld”. Hy kán ons dus nie in versoeking lei nie want Hy wil nie hê dat ons met sonde bevlek moet wees nie, sodat ons ongeskonde Sy beeld van heerlikheid in hierdie deurmekaar wêreld kan vertoon.
Dit is ook duidelik dat God nie die bewerker van enige kwaad of sonde is nie. God is soewerein en heilig en sal nooit in sonde verval nie. Sedert die begin van tyd is die mens egter geneig om die skuld op iemand anders te pak – Adam op Eva en Eva op die slang, ens. Die Joodse rabbi’s het hierdie gevaarlike rede as gevolgtrekking voorgehou: Omdat God alles geskep het, die mens, die omstandighede, die slang, het Hy dan ook die sondige natuur in ons geskep en daarom kan God geblameer word wanneer ons sondig???? ONBEGRYPLIK!!!
Jakobus ontken hierdie gevolgtrekking ten sterkste! Die mens is verantwoordelik vir sy eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.” Die moeder van alle sondes: “Jy mag nie begeer nie,” het sy oorsprong by ‘n meesterbrein: Onsself! “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” en daarom mislei ons onsself om die skuld op God of iemand anders te wil pak. God stuur nie versoekings op ons pad nie, inteendeel, Hy gee ons “goeie en volmaakte gawes” om juis die sonde te beveg. God se rol in die skepping van die die mens was volmaak.
Maar die mens het in ‘n “begeerte” geval wat ‘n persoonlike mag vir ons in ‘n greep kry en “saamsleep.” Dan word die begeerte soos ‘n saadjie bevrug en word die “vrug” (sonde) voortgebring. Die implikasie is duidelik: satan kan ‘n versoeking aanbied dat dit soos ‘n beproewing lyk. As opregte gelowiges in Christus behoort ons die wysheid te hê om te kan onderskei tussen ‘n beproewing wat deur God beskik word of ‘n versoeking wat deur satan beskik word. Die beproewing wat God soms op ons pad bring, is soos die liefdevolle tugtiging van ‘n vader wat sy ongehoorsame kinders weer op die regte koers wil kry. Die versoekings wat satan op ons pad bring is om die slegste wat in ons is, te voorskyn te bring en ons aan die wellus van die sonde laat toegee.
Die onveranderlike God het die grootste skepping ooit voltooi – die mens, ons! Respek begin by die Begin toe God elke mens gemaak het. Daarom het God mens kom word om ons te herskep soos ons in die Begin was. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God (1 Kor 17-18a). Hy lei ons úit die versoeking en verleiding uit. Sy Gees lei ons verder deur die Lewende Woord in die Waarheid na die Weg van die Lewe! Gelowiges in Jesus Christus is die eerste deel van God se herskepping wat bedoel is vir die hemel – hemelinge met “Christusharte” wat ander skepsels van God met respek behandel. God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag want ons is “eerstelinge van alles wat Hy geskep het.”
"God het een Seun sonder sonde; maar Hy het geen seun wat nie versoek word nie"
(Charles Spurgeon)
Gebed: Here Jesus, U het ons geleer bid: “Laat ons nie in versoeking kom nie” en daarom wil ons graag byvoeg dat U ons die wysheid sal skenk om te kan onderskei tussen versoekings en beproewings. Wanneer ons verlos word van die bose wil ons U adres agterlaat want satan is geneig om weer ‘n besoek af te lê. By U is hy egter nie welkom nie en dáár sal hy ons met rus laat. Amen.