E-Kerk - Gedagte vir Vandag
WEEK 2 – GOD: DIE BRON VAN RESPEK (4)
Gen. 1:26, 28 – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld .... . Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.”
Vergelyk ook Rom 12:16-18, 21 – “Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie ... Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is ... leef in vrede met alle mense .... oorwin die kwaad met die goeie.”
Respek betoon en menswaardigheid het sy oorsprong in die skeppingsverhaal. God stort graag Sy seën aan Sy skepsels uit en Hy wil graag dat ons dieselfde sal doen deur die seën wat ons van Hom ontvang, deurgee na ander toe. Ons lees nie minder as 55 keer in die Bybel dat God óns wil seën sodat ons ‘n seën vir ander kan wees maar die negatiewe van die skepsel van God, is dat menswaardigheid beduiwel word deur twee van die kleinste organe van die mens se liggaam – die hart en veral die tong. Die gevolg hiervan is ongelukkig dat ons slawe van die skepping word in plaas daarvan om oor die skepping te moet heers soos God dit beveel het.
God leer ons hoe en wie Hy is, naamlik die almagtige God wat alles geskep het en onderhou en regeer. Hy sê aan ons dat Hy die mens geskep het, baie goed en volmaak volgens Sy beeld en as Sy verteenwoordiger en “hulle geseën het” pas nadat Hy die mens geskep het. Ons mense is God se mense. Selfs na die sondeval sê die Here dat die mens steeds beeld van God is. Alhoewel hierdie beeld verwoes is en aan skerwe lê, laat God die mens nog steeds nie los nie. Ons is immers nie maar net nog dinge tussen al die dinge wat God geskep het nie, ons is God se mense aan wie Hy op ’n baie intieme manier die lewe gegee het en daarom verwag dat ons aan al Sy skepsels, respek en menswaardigheid sal betoon.
God het ons as verhoudingswesens geskep. Selfs voor ons geboorte af is ons reeds in ‘n intieme verhouding met iemand wat ons later mamma en pappa gaan noem, en nadat ons reeds gesterf het sal baie mense nog herinneringe oproep van goeie en ongelukkig ook slegte dinge van ons. Die goeie gaan gepaard met die vertikale verhouding wat ons met die Drie-enige God het en die metode van horisontale verspreiding daarvan na ons medemens, ja, selfs die vreemdeling wat oor ons pad kom. Almal kan nie van almal hou nie maar is daardie verhouding die kenmerk van ‘n verteenwoordiger en beeld van God?
Niemand is minderwaardig nie. Om God se geseënde verteenwoordiger te wees behoort ons oor mense reg te dink en te doen maar van nature is ons geneig om ons naaste nie lief te hê nie. God het gelukkig nie opgegee nie, Hy maak steeds bemoeienis met ons, soek ons op en hou ons vas. Deur sy Gees gryp God ons in die hart, in die verstand en aan die hand. Ten spyte van Sy sorgsame werk met ons, faal ons Sy opdrag om verteenwoordiger te wees en daarom het Jesus gekom om die verskeurde verhouding tussen ons en God te herstel. Met Sy dood aan die kruis versoen Hy ons met God. Na sy opstanding en hemelvaart stuur Hy sy Gees om in die verloste mense van God te lewe en te werk. Laat ons dan ophou breek en verwoes aan die beeld van God en ander met respek en menswaardigheid behandel soos God dit wil hê.
“Moenie mense boordeel in die lig van wat hulle doen nie, maar teen die agtergrond van Wie hulle geskep het” (Dietrich Bonhoeffer).
Gebed: Here, help my om nie met onbedagsame woorde oor mense se gevoelens te loop nie. Skenk my ‘n “Christushart” wat die deur van my kop toe maak om alle selfsugtige gedagtes uit te sluit en met U voorbeeld, ander se waardigheid met ‘n onverdeelde hart te hanteer. Vorm my tot die beeld en verteenwoordiger soos wat U my aanvanklik geskep het. Amen.