E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE EFFEK VAN RESPEK (1)
Fil. 2:5-11 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van die Vader.
Vergelyk ook 2 Kor. 8:9 –“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy terwille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”
Filippi was ‘n kosmopolitaanse stad en gevolglik het sy gemeente bestaan uit mense van uiteenlopende agtergronde en verskillende sosiale stande. Met soveel uiteenlopendheid was dit seker nie maklik om eenheid te bewerkstellig nie, soos ons in Suid-Afrika met al sy verskillende kulture maar al te goed weet. Paulus haal aan uit ‘n oud-Christelike lied wat dikwels beskryf is as die “Christus-himne”, om die gemeente van Filippi en natuurlik ons, die voorbeeld van nederige diens en selfverloëning te wys – die voorbeeld van Jesus Christus.
Wanneer Paulus die gemeente van Filippi oproep om dieselfde gesindheid as Jesus Christus te hê, beperk hy hom nie net tot hulle nie, maar rig hy ook sy oproep tot dieselfde wêreld van vandag. Die Jesus Christus van Paulus se destydse gemeente is vandag steeds dieselfde Jesus Christus vir elke gelowige, en daarom is en sal Hy altyd die Volmaakte Voorbeeld wees wie se gesindheid gevolg kan word. Jesus is nie net vir ons gelowiges die Volmaakte Voorbeeld nie, ons het ook die unieke voorreg dat ons deur die geloof alreeds deel van Christus is. Daarom moet ons, deur die Heilige Gees, Sy gesindheid en respek wat Hy daardeur afgedwing het, oorneem. Om egter Jesus se gesindheid te verstaan moet ons weet wat Hy alles opgeoffer het toe Hy mens kom word het (Joh 1:14).
Die kern van Jesus se vernedering is dat Hy mens kom word het, nie omdat Hy verplig was nie, maar vrywillig. Die “himne” is nie ‘n volledige verwysing na Jesus se wese en werk nie maar verwys tog na ‘n paar belangrike eienskappe van Christus. Hy is van altyd af by God; Hy is aan God gelyk omdat Hy self God is (Joh. 1:1-2; Kol. 1:15-19); alhoewel Hy God is, het Hy mens geword om God se verlossingsplan vir ALLE mense tot uitvoer te bring; Hy het nie ‘n skynliggaam aangeneem nie, maar het werklik volwaardig mens geword, met die verskil: sonder sonde; Hy sterf aan die kruis sodat ons die ewige dood vrygespring het; God verheerlik Hom omdat Hy gehoorsaam was en herstel Hom in sy ereposisie aan die regterhand van God, vanwaar Hy ewig as ons Here regeer.
Jesus Christus was nederig en gewillig om Sy regte prys te gee om ons Vader te gehoorsaam en mense te dien. Omdat ons daardie unieke deel van Christus is, kan Sy gedagtes ons gedagtes word en Sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! As ons met ‘n “Christushart leef”, behoort ons Sy nederigheid, sagmoedigheid, ootmoed, beskeidenheid, bedagsaamheid, minsaamheid, teerheid en lieftalligheid uitstraal – alles kenmerke wat RESPEK afdwing – RESPEK wat as volgelinge van Jesus Christus, deur ander herken en erken word.
Die Filippensers se nood was nie kos en klere nie, maar ʼn gesindheid soos Jesus s’n – nederigheid. En of ons dit wil erken of nie, dit is vandag steeds die nood in die kerk en in die huise van menigte Christene. Van die krip na die kruis was dit vir Jesus ’n weg van vernedering wat sou kulmineer in die ellende, lyding, smaad en verworpenheid van ’n skandelike misdadigerdood. Jesus se gehoorsaamheid aan God en sy oorgawe en onderworpenheid aan Gods wil – tot heil van die mens, in belang van ánder – word deur Hom volgehou tot die dood toe. Dit volg op die oproep dat daardie gesindheid ook in ons moet wees wat in Christus was, dit dwing RESPEK af by die gehardste mens.
“Die mens se posvlak gee jou outoriteit; jou gedrag verdien vir jou respek” (Irwin Federman).
Gebed: Almagtige Vader, neem die illusie dat ek enigiets sonder U kan doen, weg en skenk my ‘n nederige hart. Leer my die grense van my vermoëns dat ek Ú krag sal soek, dié krag wat tot volle werking kom wanneer ek swak is maar verander is omdat ek met ‘n “Christushart” respek kan verkry. Amen.