E-Kerk - Gedagte vir Vandag
JOHANNES DIE DOPER GETUIG VAN JESUS (1) – STROOIJONKER NA BRUIDEGOM
Joh 3:22-30 – “Hierna het Jesus en Sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het ‘n rukkie daar gebly en mense gedoop. Johannes was ook besig om te doop by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood ‘n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: ‘Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.’ Johannes het hulle geantwoord: ‘Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle is self my getuies dat ek gesê het: ’Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uitgestuur.’ Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder.
Vergelyk ook 1 Kor 4:7 – “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?
Johannes onderbreek in hierdie perikoop die gang van die verhaal. Die eerste gesprek van Jesus met Nikodemus, het gegaan oor die nuwe lewe; die tweede gesprek, dié met die Samaritaanse vrou (Joh 4:1–26) handel oor die nuwe godsdiens en daartussen kom hierdie perikoop waarin Johannes die Doper weer aan die woord gestel word. Dit skyn dus asof hierdie verse eerder in ’n ander verband moes gestaan het.
In die ander Evangelies begin Jesus met Sy werk wanneer Johannes die Doper klaar is en in die tronk is, maar hier blyk dit dat Jesus en die Doper vir ‘n tyd lank parallel aan mekaar gewerk het. In die gesprek met Nikodemus, het Jesus getuig dat Hy radikale vernuwing bring. Johannes die Doper is egter in ‘n sekere sin nog ’n verteenwoordiger van die ou bedeling. Gevolglik ontstaan daar onsekerheid by Johannes se volgelinge omtrent die vraag wie hulle moet navolg.
Dis belangrik om te onthou wát Johannes se oogmerk was met die skryf van sy evangelieverhaal: hy wou net een ding doen, hy wou alle getuies wat hy kon, inspan om te getuig dat Jesus die Seun van God is. Dat Hy regtig waarlik volwaardig Gód, in volwaardige menslike gestalte is. Letterlik alles wat Johannes sê, is dáárop gefokus. Hy wil getuienisse opstapel om Jesus as Seun van God te stel en dan almal wat ore het, op te roep om Hom te glo en sodoende die lewe te ontvang (Joh 20:31).
By die Doper was daar nog steeds ’n voortdurende toeloop van mense wat hulle sonde bely het en deur hom met die “bekeringsdoop” gedoop is. ”Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood ‘n woordewisseling ontstaan oor die reiniging.” Die Jood was moontlik iemand wat die prediking van Jesus gehoor en hom deur die dissipels laat doop het. Dan sou hy die standpunt ingeneem het dat die doop wat hy ontvang het, werklik ’n “reiniging” was, terwyl die doop van die Doper dit nie was nie. In elk geval was dit ’n Jood wat nie die doop van Johannes goedgesind was nie, en miskien juis naywer wou wek tussen die volgelinge van die Doper en dié van Jesus.
Die Doper laat hom nie van koers bring en antwoord met ‘n algemene stelling dat niemand die bevoegdheid of gesag het om enigiets te doen as dit nie deur God aan hom gegee is nie. Jesus is belangriker en het ‘n groter opdrag as hy wat maar net Jesus se voorganger is. Dus, deur sy getuienis wys die Doper Jesus aan as die Een wat na regte gevolg moet word. Om sy opdrag en gesindheid nader toe te lig, gebruik Johannes die beeld van die vriend van die bruidegom wat alles vir die huwelik gereed maak en dan wag op die koms van die bruidegom ten einde die bruid aan hom te besorg. Wanneer die bruidegom sy bruid sien, roep hy uit in vreugde. Die strooijonker is saam bly en die onthaal kan voortgaan.
Dít is juis die soort blydskap wat daar by die Doper aanwesig is noudat Jesus gekom het. Dit is egter ook die blydskap van iemand wie se taak volledig uitgevoer is en wat nou op die agtergrond kan tree – ‘n stuk geestelike volwassenheid en Christusgesindheid onder totale beheer van die Heilige Gees – en verklaar dan “Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder.”
So iets is hoegenaamd nie eie aan “koning mens” se ingebore natuur nie! Om al hoe meer opgewonde en vreugdevol te word namate iemand ánders in die kollig kom en jyself in die niet verdwyn! Ons logika sê: Hoe méér ekself word en hoe minder iemand anders word, hoe meer word my vreugde. In werklikheid is dit net andersom. Wanneer die Heilige Gees die beheer oor 'n mens se lewe oorgeneem het, beleef jy wat die Doper beleef het: Hoe meer Jesus word en hoe minder jy word, hoe groter jou vrede en blydskap. Dit is die werking en vrug van die Heilige Gees wat iemand soos Nikodemus byvoorbeeld nie verstaan het, beleef het of besit het nie, maar die Doper wel. Hoe beleef jy dit?
“Wees met alles binne jou ‘n getuie vir Jesus en as jy kan, gebruik woorde ook” (Stephan Joubert).
Gebed: Here, laat U meer word en ons minder. Steek U hand tog uit o Heer en seën ons land, hierdie land wat brand van só baie mense se ongeruimdhede, mense wat hul hoër ag as U. Dankie dat U genade elke dag nuut is en daarom weet ons dat 2017 ook vol sal wees van nuwe genade vanaf U. Hou asseblief U liefde oor ons Here, want ons stel ons vertroue in U (Ps 33:22). Laat ons in 2017 leef met Christus harte. Amen.