E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE REINIGING VAN DIE TEMPEL (2) – DIE LIEFDE VIR GOD SE HUIS
Joh 2:17 – “Toe het Sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: ’Die liefde vir U huis verteer my.”
Vergelyk ook Heb 3:12-13 – “Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.”
Jesus se tempelreiniging het ’n besondere indruk op die dissipels gemaak. Onder leiding van die Heilige Gees het hulle “die liefde vir U huis verteer my” in verband gebring met ’n psalmwoord wat dikwels as ’n Messiaanse voorsegging vertolk is. Hulle kom tot die besef dat ‘n Messiaanse voorspelling in vervulling gaan terwyl Jesus beswaar maak dat daar ‘n klemverskuiwing in “die huis van Sy Vader is.”
As ons vandag wyer kyk as onsself, is daar baie pynlike waaroms oor die sonde, hoe ver ons tekort skiet aan ons heiligingsproses en dan lyk die prentjie maar donker. Watter Christen kan vandag onbewoë kyk na die toestand van die kerk, na mense se geestelike nood, na die uitmergelende armoede rondom ons, miljoene vigsslagoffers, moorde, verkragtings, kindermishandeling en molestering, korrupsie en so kan ons voortgaan om ‘n nimmereindigende lys op te stel. Een van die groot redes vir ál hierdie voorbeelde maak deel uit van die woestynbestaan van die kerk, mense wat “van die lewende God afvallig” geword het.
Die mens is geneig om te verhard en later word dit al moeiliker om op God se stem te reageer en die “liefde vir Sy huis verteer” ons nie meer nie. Ons kom wel gedurig onder die geklank van die lewende Woord maar dit is asof dit ons onbeïndruk laat. Na ‘n “treffende boodskap dominee”, of “jou boodskap het vandag weer diep gesny, dankie dominee, ons het dit weer nodig gehad”, draai ons weg huis toe, trek ons “kerkbaadjie” uit, drink ‘n koppie tee, braai ’n vleisie, vee monde af, en ....... leef maar weer voort soos altyd. Ons gewete is immers gesus tot volgende Sondag se diens. ‘n Kors van verharding het nog ‘n lagie bygekry op die “vandag”. Intussen loop die kerke leeg en baie hoor nie eers meer die klanke van die lewende Woord nie.
‘n Seker Peter Berger het gesê: “Te midde van die wêreldwye krisis in die kerk sal dinge soos vindingryker liturgieë, uitbundiger lofprysing, meer dinamiese leierskap of beter organisatoriese vaardighede sonder die “KRUIS–EVANGELIE”, niks meer bereik nie as om die dekstoele op die Titanic te herrangskik."
Om hierdie “tradisie” van ‘n blinde oog draai, kan wel iets gedoen word. Ons kan positief optree in die haglikste omstandighede en “vandag as ons Sy stem hoor” (Heb 3:7), terugkeer na God toe waar die “liefde vir Sy huis ons weer kan verteer”. Jesus het ons ‘n nuwe kans gegee toe Hy die huis van Sy Vader gereinig het van die sonde en daarom moet ons “mekaar in geloof en goeie gesindheid aanspoor” (Heb 3:12) om vas te hou aan die nuwe eksodus onder leiding van die Seun van God. God se aanspreke in “Sy huis” is lewend omdat Hy die lewende God is. Dit dra nie net bloot kennis oor nie, dit is magtige woorde wat lewe skep. Dit dring deur dooie ore en laat lyke opstaan (Joh 5:28-29).
“Waar ook al die Woord van God suiwer verkondig word, dáár bestaan die kerk van Christus, al is dit ‘n gemeenskap vol foute” (Johannes Calvyn).
Gebed: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom” (Ps 139:1-2). Wanneer U Woord ons voluit tref, is ons weerloos. Maak ons land, ons volk, ons menseharte wêreldwyd, daarmee oop sodat die “liefde vir U huis ons weer kan verteer”. Amen