top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER SE GETUIENIS (1)


Joh 1:19-23 – “Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: ‘Wie is jy?’ Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: ‘Ek is nie die Christus nie.’ Hulle vra hom toe: ‘Wie is jy dan? Is jy Elia?’ ‘Nee, ek is nie,’ sê hy. “is jy dan die Profeet?’ ‘Nee!’ het hy geantwoord. ’Nou maar wie is jy dan? Ons moet ‘n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,’ sê hulle vir hom. ‘Wat het jy oor jouself te sê?’ Hy antwoord toe: ‘Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.’ Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.


Vergelyk ook Jes 40:3 – “Iemand roep: ‘Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God!”


Johannes het reeds na die Doper verwys en gaan voort om nou sy getuienis vollediger te beskryf. Hy was geruime tyd êrens langs die Jordaan besig met sy prediking. Die Jode in Jerusalem (die benaming “Jode” is gebruik sedert die volk se terugkeer uit ballingskap en in hierdie geval word na die hoogste gesag, die Sanhedrin, verwys) het van die Doper se optrede kennis geneem, aangesien baie mense uit Jerusalem gegaan het om deur hom gedoop te word (Matt. 3:5-6). Daarom stuur hulle priesters, leviete en selfs ‘n paar Fariseërs om nader ondersoek in sy werksaamhede, te stel.


Die Sanhedrin (Joodse Raad) het meermale ’n afvaardiging gestuur om ondersoek in te stel na verskynsels in die volkslewe wat bedenkinge gewek het. Die vraag wat hulle aan die Doper stel, is: “Wie is jy?” Daarmee bedoel hulle nie inligting oor sy naam, herkoms en werkkring nie, want dit alles is bekend. Hulle vra rekenskap van sy optrede. Die Doper is besig om deur sy prediking en doop iets te doen wat buite die gewone priesterdiens val. Die Joodse maghebbers wil weet waar die Doper die reg en gesag kry om op dié manier beroering onder die volk te bring. Omdat hulle jaloers is op hulle eie gesag, veral in godsdienstige sake, duld hulle dit nie dat ’n ander met gesag onder die volk optree nie.


Andersins is hul vrae godsdienstig van aard omdat hulle ‘n lewende verwagting gehad het dat die Messias op pad is en hul moes seker maak dat die Doper nie dalk die een is op wie hulle as Messias wag nie – die langverwagte een wat hulle sou kom verlos van Romeinse onderdrukking. Of dalk was hy Elia, as eerste profeet wat in die nuwe era van God weer kom om die profetiese stem te kom laat herleef –“Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom” (Mal 4:5). ‘n Ander moontlikheid was dat hy dalk die Profeet is wat God aan Moses beloof het – “Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos jy (Moses) wees” (Deut 18:15). Hierdie belofte is deur die Jode as ’n Messiaanse voorspelling verstaan, sodat “die Profeet” net ’n ander benaming word vir “die Christus”.


Die Doper antwoord hulle dat hy eintlik ‘n “niemand” is – “Ek is die een wat in die woestyn roep: "Maak die pad vir die Here reguit.” Hy is net die boodskapper om die Jode te waarsku dat die Messias-Koning triomfantelik op pad is en hulle moet gereed maak vir die koms van die Koning. Hy is maar net die stem wat uitroep; sy persoon is van geen belang of betekenis nie. Hoofsaak is sy boodskap: die oproep om die weg vir die Messias voor te berei en die Jode tot dringendheid op te roep om uit hul “woestyn” van lewelose en vrugtelose godsdienstige lewe te kom en hulle te bekeer (Luk 3:7-14).


Ken ons vir Jesus? Hoe stel ons vir Jesus as Sy verteenwoordiger, aan die wêreld voor? Het ons die lig van Jesus Christus in ons binneste sodat Hy tot Sy reg kom of is ons dalk nog vasgekluister aan die “eie-ek”? Getuies van Jesus praat oor Hom, droom oor Hom, dink oor Hom en bestee meer tyd saam met Hom “Al wat ek wens is om Christus te ken” (Fil 3:10a).


“Woorde wat nie die lig van Christus verhelder nie, verdiep net die duisternis” (Moeder Teresa).


Gebed: Here, maak ons minder sodat U meer kan word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page