top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 12 : Moedhou (2)

Jak 5:7 – “Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom."


Vergelyk ook Gal 5:22 – “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”


” Wag dan geduldig, broers (en susters)....” Ek wonder of daar ‘n mens op hierdie aarde is wie nie soms sukkel met ongeduld nie? Is Jakobus se oproep tot geduld nie dalk onaanvaarbaar vir baie in ons moderne tyd nie? “Die Christendom is male sonder tal daarvan beskuldig dat dit geduld, berusting en aanvaarding verkondig en nogtans verraad pleeg teenoor die mensdom en sy ideale van vryheid, selfbeskikking, mondigheid en die stryd om geregtigheid” (Dirkie Smit).


Ek lees die storie van die motorbestuurder wat baie gefrustreer was met die motor voor hom wat te stadig na sy sin ry. Toe die motor voor hom nog stop by ‘n oranje lig ook, verloor hy dit. Hy raas en praat in tale, uiter woorde wat nie in ‘n goeie woordeboek te vinde is nie, wys vuis en blaas toeter. ‘n Polisieman wat alles gesien gebeur het, trek hom van die pad af, kontroleer tydsaam sy besonderhede terwyl die motorbestuurder vuurwarm is van frustrasie. Na al sy besonderhede gekontroleer is, sê die polisieman: “Op u motor is ‘n ‘Wat Sal Jesus Doen’ plakker en ‘n prentjie van ‘n vissie. Toe ek dit sien was ek vas oortuig dat dit ’n gesteelde motor moet wees, want ‘n mens verwag nie van die eienaar van ‘n motor met dié plakkers op, om so ongeduldig soos u op te tree nie!” Klink dit bekend?


Ons is selfs haastig met God en bid soms: “Asseblief Here, gee my geduld, maar maak tog net gou!” En nou verwag Jakobus ons moet “geduldig wag totdat die Here kom.” Kom nou Jakobus, dit is darem te veel gevra! Of is dit? Geduld is ‘n eienskap van God. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Rom 2:4). Petrus maak dit ook duidelik hoekom ons geduldig moet wees: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet 3:9). “En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” (2 Pet 3:15).


Die Here is haastig om te kom om dié stukkende wêreld te kom oormaak, maar Hy is geduldig met ons. Sy geduldig wees beteken nie niksdoen nie. Nee, Hy is aktief besig om sy wêreld te onderhou en om deur die Gees vir ons en vir die wêreld tot inkeer te roep. As die Here geduldig is, wil ek dit verseker ook wees. Hoe kry ek geduld? Ek gee die beheer van my lewe aan die Heilige Gees oor.


Geduld is een van die eienskappe van die vrug van die Heilige Gees in ons. Maar wat is geduld? Dit is nie lui wees nie. Dit is nie om maar passief jou moeite hanteer nie of net God se water oor God se akker te laat loop nie. Ons as gelowiges moenie alles passief verdra nie, maar verantwoordelikheid aanvaar vir die samelewing, daaroor dink en dan dóén. Geduld is om te weet: ek kan nie alles nie, God kan. Ek kan nie die wêreld verander nie, God kan. God wil dat ek, oorgegee aan die Gees, my bes sal doen om ‘n verskil te maak. Hy sal die res doen.


“Geduld is die gewilligheid om te word wat ons kan wees; nie doodse berusting om te bly soos ons is nie” (Robert Thomas).


Gebed: Dankie ons hemelse Vader dat U ‘n geduldige God is. Dankie dat U die tyd gemaak het om ons te laat wag vir die regte tyd om te besef waarheen ons op pad is en wat ons moet doen. Vertraag ons pas Here, vergewe ons ongeduld en maak ons bereid om vriendelik ons geduld te hanteer. Maak my geduldig met ander soos wat U met my maak! Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page