E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Week 4 – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie (6)
Matt 18:21-35 – Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen?” V 35 – “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Vergelyk ook Ef 4:32 – “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”
Dit is nie moeilik om die onregverdigheid van die man wat miljoene geskuld het en wie se skuld afgeskryf is, teenoor die man wat hom maar ‘n paar rand skuld, aan te voel nie. Wat my egter laat regop sit is Jesus se laaste woorde van sy storie: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Jesus rig nie ‘n vriendelike versoek wat ons kan oorweeg, wanneer die tyd vir ons geleë is nie – Hy gee vir ons ‘n opdrag en daarmee saam ‘n waarskuwing! Onmoontlik! God is ‘n God van liefde. Ja, jy is reg, maar God is regverdig ook, anders het ons ‘n “mickeymouse godsdiens”- ons kan dan net sowel aan fabels glo.
Dit maak die intensie waarmee Jesus hierdie storie vertel duidelik: God vergewe ons, daarom moet ons mekaar vergewe. As ek nie vergewe nie sal God my ook nie vergewe nie! Maar....“Ek kan nie sommer net vergewe nie want dan dink hy ek ontken wat gebeur het” is die mees algemene reaksie vandag (want onthou, ons is beskaafde mense). Ons sê en doen eerder niks nie en ons sluit daardie persoon uit ons lewens uit. Ons ondermyn alles wat hy doen, ons staan alles wat hy doen teë en dit is ons grootste dag as daardie ou eendag misluk, want, sien, hy het daarvoor gesoek.
Toe Jesus die prys betaal het vir ons skuld, was dit nie ‘n ontkenning van ons oortredinge nie, dit was juis ‘n erkenning van ons oortredinge en die betaling daarvan. Wanneer ons dus mekaar vergewe is dit juis ‘n erkenning van dit wat gebeur het en dat dit seergemaak het en dat dit verkeerd was. God het ons uit genade van vernietiging gered en daarom behoort dit ons te dryf om ander wat teen ons oortree, te vergewe.
Dit behoort nou vir Petrus en vir ons duidelik te wees dat ons goeie gesindheid en vergifnis van mekaar nie afhang van die grootte van skuld en die aantal kere wat ons moet vergewe nie. Die Here Jesus was nie besig om woordsomme met Petrus te maak nie. Hy sê nie vir Petrus en vir ons, dat ons veronderstel is om boek te hou van ons vergifnis en dan 490 keer vergewe nie. In die koninkryk van God gaan dit om onbegrensde liefde teenoor die onbegrensde haat. In wese is vergifnis grensloos omdat God alleen met daardie beginsel die deur vir u en my kon oopmaak. “Sewentig maal sewe keer” is gelyk aan 490. Dit kan maklik met die kop uitgewerk word, maar wat Jesus voorstel is hemelse rekenkunde en dit word met die hart gedoen. Daarom mag daar geen beperking op ons vergifnis aan ander wees nie. Ons moet oorvloedig in vergifnis wees. Dit is Sy opdrag!
Die mens wat leef uit die oorvloedige genade van God wil in dankbaarheid oorvloedige geregtigheid aan almal bewys. Het u ook al gesê: "Ek kan vergewe maar nie vergeet nie"? Dan hou u teer wonde aan die bloei en u laat daarmee toe dat u gees vergiftig word met bitterheid en haat. Dink dan weer aan Jesus Christus se genade. Kyk dan weer na die kruis en onthou die vergifnis wat ons daar ontvang het. Ja, jy sal seker nooit kan vergeet nie, maar onthou dat jy vergewe omdat jy vergewe is.
"'n Christen is 'n mens wat roep: ‘Ek het barmhartigheid ervaar!’ 'n Mens wat by die kerk inkom, swaar belaai met skuld, om na regte mee afgereken te word voor die troon van God, maar wat dan uit die kerk kan gaan soos iemand wat weer diep asem kan haal, bevry tot 'n nuwe lewe, met die jubelroep: ‘Ek het barmhartigheid ervaar!’ Die erediens is die uur waarin dit gebeur, waarin ons skuldbelydenis en God se vryspraak saamval. Die evangelie is die Woord waarin beide die doodsoordeel en die amnestie oor ons uitgespreek word” (Johan Cilliers).
“Om nie te vergewe nie – is soos om rot gif te drink en te wag dat die rot vrek” (Ann Lamot).
Gebed: Here, dankie dat U nie tel as dit by vergifnis kom nie. Dankie dat U nie boekhou van my kwaad nie en nogtans met my uithou! Maar Here, hoekom moet daar altyd ‘n maar in my woordeskat wees? Waarom is dit so moeilik om in vrede met mekaar te lewe? Waarom is dit so moeilik om te sê ek is jammer as die woordewisseling eers begin het? Open ons saamgeperste lippe dat die herstel van liefde en harmonie ál is wat saak maak. Skenk ons ‘n vriendelike, simpatieke en ‘n vergewingsgesinde gees. Amen.