top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Sep 3, 2016
  • 4 min read

Vaderliefde par Excellence (6)


Luk 15:11; 32 – Verder het Jesus gesê: ”Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het.....; V 32 – “Maar ons kan nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”


Vergelyk ook Heb 4:16 – “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”


Die verhaal eindig oop. Ons weet nie of die ouboet ingekom het nie. Ons weet nie of die pa hom oorreed het om in te gaan en deel te neem aan die fees nie. Aan die oudste is geen tekort gedoen nie; aan die jongste is geen begunstiging bo die oudste bewys nie. Alhoewel nie een van die twee die pa se liefde werd was nie, word albei met dieselfde liefde 'n plek in die vaderhuis gegee. Onderling is hulle wat hulle van die begin af was, naamlik broers. Maar juis omdat die jongste “broer dood was, en hy weer lewe; verlore was, en teruggekry”, behoort die oudste as opregte broer in wie die liefde behoort te woon, gehoor gee aan die uitnodiging van die vader en deelneem aan die blye feesviering.


Ten spyte van hul sonde is hulle kinders van een Vader. Daardie feit behoort hulle ook saam te voeg as broers van mekaar, wat slegs uit die genade en liefde lewe van die Vader, wat verklaar: "Al wat Myne is, is joune." Die toets van die egtheid van die kindskap en die broerskap is in die een geval die berouvolle terugkeer, en in die ander die opregte verblyding oor die redding van 'n siel, wie hy ook al mag wees. Hierin vind die gemeente van Christus ook sy eenheid met die Here en sy ware karakter as 'n gemeenskap van kinders van God, dat hy hom verbly oor 'n broer wat terugkom — 'n broer ter wille van wie Christus ook gesterf het.


Al daardie stories raak ons Christengelowiges diep, want eintlik is dit deel van ons storie. Elke mens is geskep deur God, vir God. Elkeen is gemaak om 'n prins of prinses te wees – daardie diepe besef dat ons gemaak is vir meer. Jesus kom vandag en konfronteer ons storie: wat glo ons van onsself? Is dit 'n verlore seun storie: Ek het gesondig en ek is nie iets werd nie? Ek het my rug op God en die kerk gedraai en is vir ewig verlore? God spoor jou aan om nie langer te wag om jou fout te erken en “terug te keer” nie. God wag vir jou by “die genadetroon” met liefde-arms waarmee Hy jou wil toevou.


Is dit 'n ouboet storie: Ek was die een wat moreel reg opgetree het. Ek het die onreg verduur. Ek het nie aangejaag nie. Ek was die goeie kind. Ek was op tyd en op my plek. Ek het al die regte boksies getiek. Ek verdien ‘n bietjie meer. Ek verdien beter. !Ek....ek.....ek! Ek het nie ‘n reg nie, dit is ‘n voorreg om deel van God se huisgesin te kan wees – ‘n onverdiende genadevoorreg! Wat is jou innerlike storie oor jouself?


Êrens moet jy laat gaan en vertrou. Êrens moet jy besef: dit gaan nie oor transaksies wat ek met God aangaan nie. Hy maak sy hart wa-wyd oop vir my en niks wat ek kan doen gaan sy liefde vir my meer of minder maak nie! Dit klink amper te goed om waar te wees! Dit is!!!! Dis hoekom dit die “Goeie Nuus” genoem word! En dis hoekom dit die krag het om jou hele lewe totaal te transformeer. Maar jy sal moet laat gaan van jou ou storie – jy moet dit los. Dit moet plek maak vir die Vader se woorde: “Jy is my seun: jy was dood en nou lewe jy!” Ontdek die waarheid in Jesus se woorde: “Jy is altyd by my, en alles wat ek het, is joune!” Vertrou hierdie woorde! Dis hoe God jou sien. En as jy jouself deur sy oë begin sien, begin 'n opwindende nuwe deel van jou verhaal. Dan kan jy begin vorder op die pad van dissipelskap.


“When you change the way you look at things, the things you look at change!”


Gebed: Here, na hierdie “storie” van U kan ons nie anders as om in vreugde uit te roep: Dankie Here dat U nie een oomblik huiwer om ons terug te ontvang wanneer ons afgedwaal het nie! Dankie dat U ‘n soekende God is en verhoed dat ons verlore raak. Soos die jongste sit ons baie in ons alleenheid en peins sonder dat ons besef dat U eintlik teenwoordig is en ons met liefde wil oorstroom. Soos die oudste reageer ons soms meerderwaardig instede daarvan om deel te wees van die verwelkomingskomitee van iemand wat ‘n roekelose lewe gelei het en tot inkeer gekom het. Hoe meer ons onsself leer ken, hoe meer besef ons dat ons in afhanklikheid U nodig het. Amen.



 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page