top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (2)


Jak 3:2-5a – “Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons ‘n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ‘n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.


Die mens is wonderlik slim en feitlik in staat om enigiets te kan beheer maar Jakobus reken “ons struikel almal in baie opsigte.” Die gevaarlikste slaggat wat meeste, indien nie al die mense se dilemma, is om te “struikel in wat hy sê.” Die struikeling van die tong kan maklik weggeredeneer word as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Jakobus dink egter dit is veel erger. God het ons geheilig vir Sy diens. Hy het alle gelowiges in Christus afgesonder as Sy kinders (Joh 1:12b). Ons is nie beter as ander nie. Dikwels verinneweer ons tong nie net ons eie lewe nie, maar ook ander mense s’n.


Alles wat ons sê het ‘n uitwerking en daarom kan die gevolge van verkeerde tonggebruik, ernstige gevolge meebring. Om dit aan te toon, hou Jakobus voorbeelde wat vir sy lesers bekend was, voor: Wanneer ‘n stang in ‘n perd se bek gedruk word, beheer dit die hele perd se bewegings en moet hy sy ruiter ten volle gehoorsaam. Ten spyte van sy kragtige liggaam, word die perd dus gestuur deur slegs beheer oor sy gevoelige bek uit te oefen.


Derhalwe bepaal ‘n klein onderdeel van ‘n baie groot seilskip van destyds, die bepalende rigting waarin dit moet beweeg. Deur slegs die roer van die skip deskundig te hanteer, handhaaf die stuurman die beplande koers ten spyte van “sterk winde” en kragtige golwe wat op die skip uitgeoefen word. Die stuurman benut hierdie onbenullige onderdeeltjie dus om die skip in die rowwe seewater te manipuleer en sy wil uit te voer.


In vergelyking met die skeepsroer, “is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.” Hierdie onopvallende liggaamsdeeltjie van die menslike liggaam word ongelukkig nie altyd net as ‘n korrekte spraakorgaan gebruik nie. Verkeerde uitsprake het die neiging om ‘n mens te bind en jou lewenskoers in ‘n ander rigting te dwing sodat jy nie noodwendig die regte “bestemming” bereik nie. Dit ontneem nie net jóú vryheid nie maar beïnvloed die lewens van ander mense ook. Dus kan dié “klein liggaamsdeeltjie” “spog” met groot prestasies, ongelukkig in die verkeerde sin van die woord.


"Three things come not back--the spent arrow, the spoken word and the lost opportunity." (William Barclay)


Gebed: Hemel Vader, ons wéét dat ons tong maar klein is maar ontsettende groot mag het. Ons wéét wanneer ons dit verkeerd gebruik, verander dit lewens met verreikende gevolge. Ons kan daardie lelike of verkeerde woorde nie weer ongedaan maak as dit eers geuiter is nie. Dit word onthou en word aan ander oorvertel. Dit kry uiteindelik ‘n sneeubal momentum wat verkeerde gesindhede skep. Weerhou ons asseblief daarvan om beheer te verloor wanneer ons praat. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page